Kingdom News: Die verhaal van die TWEE seuns

Bo: Andre en Nadia Nel van Kingdom Culture is ’n dinamiese paartjie wat elke Sondag bedien by die Oudtshoorn Ostrich Emporium vanaf 17:00. Foto verskaf

Meeste van ons ken die verhaal in Luk 15:11-31 as die “gelykenis van die verlore seun” soos dit ook in baie Bybelvertalings se opskrifte genoem word. Jesus vertel egter nie net die verhaal van een verlore seun nie maar ook van die ouer broer wat nie die hart van sy vader geken het nie en dus nie sy identiteit en posisie in die huis verstaan het nie.

Hierdie gelykenis bevat soveel kosbare openbaringe van die Vader se hart vir Sy kinders asook die belangrikheid vir ons as kinders van God om ons identiteit, roeping en posisie as Sy kind te verstaan.

Soos wat ons hierna kyk wil ek jou uitnooi om die Geestelike boodskap te sien wat Jesus bestem het.

Jesus begin in Luk 15:11, deur te vertel en Hy sê “’n Man het twee seuns gehad.” Dan vertel Hy van hierdie eerste situasie rakende die jongste seun. Hierdie seun het sy erfdeel gevra en die vader se huis verlaat, waarna hy baie wye draaie in die wêreld gaan maak het. Hierdie seun het alles opgemors en baie verkeerde keuses gemaak totdat hy homself op ’n plek bevind waar hy besef dat hy moet terugkeur na sy vader se huis. Hierdie seun sê vir homself in vers 18 dat hy moet terugkeer en bely teenoor sy vader dat hy gesondig het. Dan sien ons ook hoedat Jesus in die gelykenis uitbeeld dat hierdie seun so desperaat was dat hy slegs die identiteit van ’n slaaf wou aanneem (vers 19), omdat hy gevoel het soos ’n “nikswerd”. Hierdie seun keer toe terug huiswaarts met al hier-die gevoelens en oortuigings van mislukking en minderwaardigheid.

Jesus openbaar die Vader se hart (vers 20) deur uit te beeld hoedat hierdie jongste “verlore” seun terugkeer en ’n vader ontmoet wat hom tegemoet hardloop, omhels en hartlik soen! Al hierdie liefde en verwelkoming vanaf die vader gebeur selfs nog voordat hierdie seun kon jammer sê of verduidelik. Die vader se onvoorwaardelike liefde was die standaard en maatstaf van vergifnis en vryspraak wat onbegryplik was vir hierdie seun. Die seun begin toe verduidelik in vers 21, en verklaar dat hy nie meer waardig is om “seun” genoem te word nie, maar die vader het opdrag gegee aan sy diens-knegte om die beste kleed, ring en skoene vir hier-die seun te bring.

Hierdie jongste seun is ’n simbool van ’n seun wat nie geweet en verstaan het wat sy identiteit as seun van sy vader was nie. Dus het hy gaan sondig en sy roeping en erfdeel geminag, hy het hom buite die huis bevind soos enige ander persoon wat nie deel het aan sy vader se huis nie.
Dan wys Jesus vir ons hoedat hierdie vader hierdie seun ontvang en sy identiteit en vrymoedigheid herstel. Die kleed is ’n simbool van geregtigheid (2 Kor 5:21), die ring ’n simbool van autoriteit en posisie in die huis (Gen 41:42), en die skoene verteenwoordig vrymoedigheid en bereidheid (Ef 6:15).

Jesus gaan aan met die gelykenis en vertel verder hoedat die vader die vetgemaakte kalf laat voorberei sodat hulle fees kan vier oor die seun wie se posisie herstel was.

Dan kom die tweede seun, die ouboet, in die prentjie. Luk 15:25 wys ons hoe hierdie seun van-uit die veld kom nadat hy gejag of gewerk het. Soos wat hy nader kom huis toe hoor hy hierdie klanke van feesviering en vra die diensknegte wat aangaan. Nadat hy toe hoor dat sy jong boet terug is, wat so gaan opmors en gesondig het, was hy baie kwaad. Hy was veral kwaad vir hoe sy vader opgetree het en die jong broer ontvang het. ’n Verskriklike woede het in hom opgestaan sodat hy nie eers in die woning wou ingaan nie. Jesus vertel in vers 28 hoedat die vader weereens na buite gaan, hierdie keer na sy oudste seun.

Hierdie seun pak toe af en sê vir sy vader “Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ’n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.” (Luk 15:29 laaste gedeelte).

Hierdie seun was geweldig ontsteld omdat hy al soveel jare getrou is, die vader se wil doen en hard werk, en nog nooit ’n voorreg kon geniet soos hierdie jongste seun gekry het nie. Dan antwoord die vader terug en sê “kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joune” (vers 31). Ouboet was kwaad en ongelukkig omdat hy sy lewe lank getrou is maar nie die guns of seën van die vader beleef het nie. En Jesus vertel dat die vader einlik so half verbaas is teenoor hierdie seun se “slaaf- mentaliteit optrede” en aan hom openbaar dat alles wat aan die vader behoort ook aan hierdie seun behoort.

Dus hierdie oudste seun is ook ’n simbool van ’n seun wat nie geweet en verstaan het wat sy identiteit as seun van sy vader was nie. Hy was getrou, en het nie soos die jong seun gaan sondig nie, maar die probleem was dat hy ook nie sy identiteit of erfdeel in sy vader se woning verstaan het nie.

Daarmee sien ons dat nie een van die twee seuns die vader se hart, of hulle identiteit en posisie in die vader se huis verstaan het nie, en hoedat Jesus hierdie verborgenheid openbaar. Wat ’n besonderse mooi openbaring van God se hart vir Sy kinders, vir elkeen van ons?

Dalk bevind jy jouself vandag binne die skoene van een van hierdie twee seuns, en is hierdie openbaring vir jou ’n uitnodiging om terug te keer na die Vader se huis toe, of soos met die ouer seun, ’n uitnodiging om te besef wat jou posisie in die huis is en dat die Vader genoeg is vir jou. Binne die Vader se huis is daar geen kompetiesie nie en kan elke seun sy posisie inneem en ten volle uitleef.

Weet vandag opnuut dat, in Christus, het jy ’n erfgenaam geword van jou Hemelse Vader, soos Rom 8:16-17 dit noem.

Rom 8:16-17: Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; (17) en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

My gebed is dat ons elkeen openbaring en kennis van ons Vader se hart en heerlikheid sal ontvang sodat die roeping op ons lewe en die rykdom van God se heerlikheid, en ons erfdeel bekend sal wees aan ons!

Ef 1:17-19 bevestig dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, (18) verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; (19) en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte

Seënwense met liefde en vrede,
– André Nel