Dit walg hom. Hy voel die naarheid in hom opdam soos hy teen die geslote deur staan en hamer.
Sy kneukels bloei. Sy mondhoeke is stukkend.
Maak oop! Maak oop hierdie verduiwelse deur. Sy woorde weergalm tussen die rakke in. Hy hoor hoe daar êrens in die verte na hom gesoek word.
Hy wil nie hê dat sy houe teen die geroesde ysterdeur sy posisie verklap nie. Hy loer oor sy skouer. Die stemme kom nader. ’n Skaduwee vlek lank om die draai. Hy moet hardloop!
Die koerantopskrif tref hom soos ’n ton stene voor die bors. “Dood na Vermeende Vergiftiging in Winkel” Hy loer oor sy skouer en gooi die koerant terug in die geroesde koerantrakkie. Die reuk van die kafee dam in sy neusgate op voor dit deursyfer na sy brein. Ou olie…vis…tjips…
Hy verlaat die kafee sonder om iets te neem. Die koerantberig weergalm in sy kop…
“In ’n hartseer voorval het twee mense hul laaste asems uitgeblaas na ’n vermeende vergiftiging deur ’n produk wat in ’n gewilde winkel gekoop is. Die ongelukkige voorval het plaasgevind in ’n bekende winkel in die hartjie van ons pragtige karoodorp…”
Hoe op dees aarde is dit moontlik? Daar moet tog ’n verduideliking wees? Hy huiwer voor hy ’n nuwe verwarring in die rigting van sy verlengde rugmurg slinger. Dit kan tog nie moontlik wees nie…
“Die slagoffers, ’n man en ’n vrou, is na bewering vergiftig deur ’n produk wat hulle in die winkel gekoop het. Hulle het die betrokke produk gebruik en binne ure ongemaklikheid ondervind.
Noodhulp is onmiddellik ontbied, maar helaas kon niks gedoen word om hulle lewens te red nie.”
Dit is heeltemal te vining! Binne ure? Dit kan tog nie wees nie. Sy gedagtes neem hom terug na sy verwarring. Na hoeveel jaar en dit gebeur nou eers? Hy sukkel om dit te verstaan. Miljoene produkte, miljoene mense, miljoene lewens. En nou!…
Nou sal dit op hierdie wyse gebeur? Terwyl sy pynlik-netjiese puntskoene die stof van die vuil sypaadjies probeer vermy, glip hy vining by nog ’n kafee in. Stap reguit na die koerantrakkie…
“Die plaaslike gesondheidsowerhede is tans besig met ’n ondersoek om die bron van die vermeende vergiftiging te bepaal. Die betrokke produk is uit die winkel verwyder, en ander kopers word versoek om geen produkte wat verdag of op ongewone plekke in winkels rondstaan, te neem of te koop nie.
Die families van die slagoffers is in rou na die skokkende voorval…” hy klap die koerant toe. Dit het niks met hom te doen nie.
Hierdie keer neem hy ’n pakkie “Fisherman’s Friend” van die toonbank. Plak die geld op die toonbank neer en ignoreer die kafee-eienaar se woorde wat agter hom aanrol. Die pakkie pas knus in sy binnebaadjiesak. “Dis onmoontlik!” Sy gedagtes verskree hom terwyl hy die middelpaadjie in sy hare loodreg in die weerkaatsing van die winkelvenster stryk. Dan draai hy terug, gaan die kafee binne, gryp weer die koerant…
“’n Woordvoerder van die winkel het ’n verkla-ring uitgereik waarin hulle hul medelye met die families van die slagoffers betuig. Die gemeenskap hoop dat geregtigheid sal geskied en hulle belowe ook om volledig saam te werk met die gesond- heidsowerhede in die ondersoek om die waarheid te bepaal.”
Die waarheid? Wat is die waarheid? Wat is waarheid? Vir waarheid om te bestaan, kort jy iemand om dit te glo. Ons is geneig om sagte woorde te bevraagteken en harde woorde te gehoorsaam?
Die harde waarheid? Dalk? Hy weet nie. Hy wil nie nou verder dink as hierdie angstige gevoel in sy borskas nie. Hy sal moet gaan kyk. Daar is geen ander opsie nie.
Voor hy die netjiese glasdeure van die winkelsentrum betree, haal hy sy fluweelrooi sakdoek uit sy hempsak. Met dit is hy bewus van die pakkie peperminte in sy baadjiesak. Hy buk af en poets die punte van sy skoene blink. Die sonkolletjies laat hom glimlag…of dalk grynslag. Gelukkig was niemand daar om dit as die waarheid te bevestig nie.
Om een of ander rede het hy verwag om polisieafbakeningslinte in die winkel te sien, maar als is normaal. Mense is besig om hul raserige trollies vol te stop. Geen glimlagte of gesprekke nie. Die marmotte is weer al te gemaklik op hul wielletjies. “Next customer please…counter number 5…” lui die luidspreker agter hom. ’n Duidelike aankondiging dat die lewe voortgaan. Ons is almal nietig… Tyd genees…
Hy voel meteens verligting. Hy trek sy baadjie reg en neem een van die vele plastiek-trollies. Neem ’n sanitasie lappie en maak sy hande religieus skoon. Eers die palms dan die bokant en laaste die punte van die vingers. Vir die trollies se handvatsels neem hy ’n nuwe lappie. Vou die babasitplek oop en vee klinies oor die groefies in die plastiek. Hy sukkel om die glimlag op sy gesig weg te steek.
Terwyl hy tussen die rakke deurbeweeg haal hy die pakkie “Fishermen’s Friend” uit sy baadjiesak.
Hy skeur dit baie versigtig op die naat oop. Stadig sodat daar net ’n spasie vir een peppermint is.
Dan…haal hy die “gedokterde” peppermint uit sy ander baadjiesak en skuif dit netjies in die pakkie in en vou die pakkie weer netjies op die naat toe.
Naby die betaalpunt plaas hy die pakkie heel skeef tussen die sjokolade stafies en begin sy kruideniersware op die toonbank uit te pak.
“Sakkie?” Nee ek is Herman. (Deur Johnny Malgas)
Kortverhaal: Gif
