Deur Reindered Visser
Reinderd Visser vertel van veldslae waarby die Springboks – en ook mans uit Oudtshoorn en die Klein Karoo – tydens die oorlog betrokke was.
Die offensief vanaf 9 April 1917 in Noord-Frankryk is gesien as dié een wat die oorlog in die guns van die Geallieerdes moes swaai en die begin van die einde moes inlei. Die plan was dat soldate van Engeland, Kanada en Skotland (met die Suid-Afrikaanse soldate by die Skotse 9e Divisie ingedeel) die vyand by
Arras oor ’n front van byna 20 km aanval, suksesvol deurbreek en die gebied binne dae volledig inneem.
Die Franse sou ’n week later en 50 km verder suid dié deel van die front aanval. Met die Amerikaners reeds op pad om te kom help sou die oorlog volgens berekenings binne weke verby wees. As alles natuurlik volgens plan sou verloop het!
Die vyand sou rondom en noord van Arras deur die Geallieerdes aangeval word waar hulle dit die minste verwag – via tonnels tot naby die Duitse loopgrawe waar die aanvallers byna onder die vyand se neuse sou verskyn.
Die Duitsers het oos van Arras vier verdedigingslinies gehad, genaamd die swart, blou, bruin en groen lyne. Die aanval is rondom die verowering van elk van dié lyne beplan. Die vier regimente van die Springboks (sowat 2 100 soldate) se taak was om ’n strook van sowat 550 meter breed en twee en ’n half kilometer diep skoon te maak. Die derde en vierde regiment moes eerste aanval, met die eerste en tweede regiment wat sou ondersteun. Sodra die eerste twee doelwitte verower is – die swart en blou lyn – sou die eerste en tweede regiment na voor beweeg om die derde doelwit, die bruin lyn, aan te val. Die derde en vierde regiment sou dan ondersteun. ’n Ander divisie sou verby beweeg en die laaste teiken, die groen lyn, aanval.
Zero-uur vir die aanval was om 05:30. Die Springboks het noordoos van Arras uit hul tonnels gekom, die Scarperivier met ’n pont oorgesteek en posisie ingeneem. Om 04:00 het dit egter begin sneeu en ysreën, iets wat grotendeels daartoe bygedra het dat alles nie soos beplan geëindig het nie.
Dag een was egter ’n reuse sukses! Die Springboks het om 05:30 vorentoe beweeg, die eerste 750 meter tot by die swart lyn binne ’n halfuur en met min ongevalle afgelê en die lyn ingeneem. Die vyand is onkant gevang en dié wat oorleef het, het die wit vlag gehys.
Om 07:30 het die aanval op die blou lyn, 820 meter verder, begin. Die uitdaging was hier groter en hulle kon die doelwit eers om 10:00 bereik en inneem. Daar was ook heelwat meer ongevalle. Na ’n kort rusperiode het die regimente omgeruil en die aanslag op die bruin lyn het om 12:45 begin.
Dit het hulle ’n uur en ’n kwart geneem om die doelwit te bereik en teen 14:00 was dit verby. Hul Skotse kamerade het deurbeweeg en om 15:00 hul aanslag op die groen lyn begin en dit voor donker ingeneem. Die hele eksperiment met die tonnels en kelders het presies verloop soos beplan. Die vyand het nie geweet wat hulle getref het nie!
Daar was egter wel ’n prys – die Springboks het 564 ongevalle gehad, waarvan 152 gesneuweldes was. Die res was gewond of vermis. Die ongevalle sou waarskynlik veel hoër gewees het sonder die tonnels.
Hulle sou eers drie dae later (12 April) by die volgende aanval betrokke raak. Die nat weer het die kleigrond in ’n modderbad verander en die proses bemoeilik om die kanonne vorentoe te bring. Dit het die vyand kans gegee om tot verhaal te kom en voor te berei.
Van hier af het alles vir die Geallieerdes en Suid-Afrikaanse soldate verkeerd geloop. ’n Volgende doelwit wat aangeval moes word, was loopgrawe oos van die dorpie Fampoux en noord van Roeux; om 17:00 vanaf die groen lyn. Met geen tonnels as beskerming nie, het die Duitse bomme ’n groot getal ongevalle tot gevolg gehad. Ook ander faktore – die modder, die feit dat die soldate ’n paar dae weinig kon slaap en daarom op laaste voete was, die oop grondgebied wat hulle maklike teikens gemaak het, en hul eie kanonne wat nie oral hul teikens getref het nie – het die aanval laat misluk.
1 200 Suid-Afrikaanse soldate het hul teikens aangeval. Dit was ’n slagting en ek lees dat ’n paar dapper soldate wat wel hul doelwit by ’n trein- stasie bereik het, se liggame eers ’n maand later gevind is toe die gebied uiteindelik suksesvol ingeneem is.
Dit is op rekord dat hulle na hulleself as die “suicide Springboks” verwys het! Die totale ongevalle (gesneuwel, gewond en vermis) was 720! En dit om uiteindelik minder as 200 meter te kon vorder. Tel die 564 ongevalle van dag een by en mens besef hoe ’n groot aantal van hul kamerade die Suid-Afrikaners tydens die offensief verloor het!
Ek kon geen name van Klein-Karoo seuns vind wat hier omgekom het nie. (Aan Duitse kant was ’n soldaat wat die Arras-veldtog oorleef het en later bekend sou word – Adolf Hitler.)
Dieselfde verhaal het hom oor ’n groot deel van die res van die front afgespeel en die Geallieerdes is basies in hul spore gestuit. Al die maande se vooraf beplanning en tonnelgrawery is uiteindelik nie deur die vyand nie, maar grotendeels deur die slegte weer, in die wiele gery en die droom dat die oorlog gou verby sou wees, was aan skerwe! Dié gebied sou eers maande later volledig ingeneem word.
Die Springboks wat oor was, het ná 15 April saam met nuwe rekrute na België vertrek. Hul volgende ontmoeting met die vyand was by die Slag van Passchendaele in September 1917. Daarvan vertel ek volgende keer.
• Bronne: • The History of the South African forces in France – John Buchan (1920) • Springboks on the Somme – Bill Nasson (2007) • The Somme Chronicles – Chris Schoeman • http://www.dailymail.co. uk/news/article-534236/Inside-amazing-cave-city-housed-25-000-Allied-troops-German-noses-WWI.html#ixzz4oPRynap • http://battlefields1418.50megs.com/arrasmap06.jpg (kaart)

Kaart van die gebied waar die veldslag plaasgevind het. Foto verskaf