Jakoba Visagie (links), Tersius Lamprecht en Brendalene Pretorius (regs) kyk hoe Linda Jaquet, onderburgemeester van Prins Albert, die lint knip om die dorp se FARR-kantoor geopen te verklaar. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
’N KANTOOR vir die bewusmaking van afwykings by babas weens drankgebruik tydens swangerskap is Saterdag op Prins Albert geopen.
Dié stap vorentoe om die gemeenskap en die groter Groot-Karoo-omgewing oor dié kwessie in te lig, is gereël om saam te val met die Internasionale FAS-bewuswordingsdag (fetale alkoholsindroom) wat op 9 September 1999 in Auckland, Nieu-Seeland, begin is – op die negende minuut van die negende uur van die negende dag van die negende maand van dié jaar.
Tersius Lamprecht van die FARR-kantoor (Stigting vir Alkoholverwante Navorsing) in Kaapstad het spesiaal na Prins Albert gereis om die opening van die kantoor te vier.
FARR is die leidende nie-regeringsorganisasie wat navorsing doen en inligting verskaf oor Fetale Alkoholsindroom-spektrum-afwykings (FASD), en veral die ergste vorm hiervan, naamlik FAS.
FARR is al vanaf 1997 daarby betrokke om geboorteafwykings en verstandelike gebreke by babas te bekamp wat deur alkoholgebruik tydens swangerskap veroorsaak word.
“Dit is FARR se werk om die gemeenskap oor die gebruik van alkohol tydens swangerskap in te lig. Ons organisasie maak seker dat niemand gestigmatiseer of beskuldig word nie, want ons weet niemand doen aspris skade aan hulle kinders nie,” het Lamprecht gesê.
“Ons omarm swanger vroue; ons help hulle omdat daar dikwels baie druk is op hulle om in daardie nege maande aan te hou drink.”
Lamprecht het ’n boodskap voorgelees van FARR se uitvoerende hoof, Leana Olivier.
Volgens haar is dit uiters belanrik om die boodskap van “geen alkohol nie” tydens swangerskap so wyd moontlik uit te dra.
“Die gebruik van alkohol deur swanger vroue in Suid-Afrika is veertien keer hoër as in enige ander land ter wêreld. Hierdie vroue ervaar dikwels druk om aan te hou sosialiseer tydens swangerskap, deur die gebruik van drank.
“Dié wat weer heeltemal ophou drink in daardie tyd, kry dit reg omdat hul gesin of eggenoot hulle aanmoedig en ondersteun. Die meeste swangerskappe in ons land is onbeplan, en daarom gaan vroue soms onwetend voort om drank te gebruik wanneer hulle swanger is.”
Linda Jaquet, onderburgemeester van Prins Albert, het gesê FARR is swanger ma’s in die dorp se ondersteuning.
“En FARR kan op my staat maak om hiermee te help. Ek hoop FARR Prins Albert bereik dieselfde hier as wat in De Aar bereik is. Daar is FAS-afwykings weens alkoholgebruik tydens swangerskap van 30% tot 10% verminder.”
Jakoba Visagie en Brendalene Pretorius van FARR Prins Albert het die gemeenskap uitgenooi om ’n draai te maak by die kantoor in Kwikkiestraat, Noordeinde, vir advies en bystand. Of skryf aan hulle by princealbert@farrsa.org.za vir inligting. Alle navrae en besoeke word vertroulik hanteer.