Deur Ilze-Mari Gündling
SOWAT 80 meter van die keermure op die Swartbergpas is reeds tot die hoogte van die padoppervlak herbou met die beplande voltooingsdatum van dié deel van die werk aan die pas die eerste week in Oktober. So sê Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke.
Volgens La Hoe sal sowat 180 meter van die keermure uiteindelik herbou word, en die vloedbeskadigde gedeeltes van die pad hergruis word.
Werk aan die keermure is nodig om die basislae van die pad te ondersteun. “Dit is ’n stadige proses, aangesien alles met plaaslike handearbeid gedoen word, maar dit vorder goed.”
Sodra dit gedoen is, kan die konstruksie van die padlae en hergruising voltooi word.
Volgens La Hoe behoort hergruising in middel Oktober voltooi te wees. “ ’n Verdere vier kilometer pad waar groot gruisverlies was as gevolg van swaar reën sal tussen middel Oktober en middel Desember hergruis word.”