Die taai pad na ’n Afrika-boskamp

DIE koel weer en rokerige wasigheid so tipies vroeg-winter bring elke jaar baie herinneringe by my terug. Dit is wanneer ons altyd gaan “kamp oopmaak” het in Mosambiek. Die jaarlikse eksodus daarheen was ’n ware oefening in fyn logistieke beplanning. Wat dit uitdagend gemaak het was die lang afstande en veral die twee grensposte waar ons moes deur.

Grensposte in Afrika is ’n belewenis, ongelukkig selde goed – veral as jy met te veel goeters daar moet deur. (Dit was noodwendig byna elke keer!) Te veel goed trek die aandag van al wat amptenaar is soos spreekwoordelike motte na ’n vlam!

Maar nou ja, soos met alles raak jy gewoond daaraan en die span ontwikkel ’n fyn kuns om selfs daardie korrupte hekkies te oorkom.

Ons is een jaar op 9 Mei weg uit Pretoria noorde toe in ’n los, soort van konvooi, die cruisers, bakkies en sleepwaens so hoog gelaai as wat die suspensies en die verkeerspolisie in Suid- Afrika toelaat. Anderkant die grens is enige iets “onderhandelbaar”. Dié jaar het ons ’n paar bykomende uitdagings gehad… want ons het ’n paar nuwe “tools” saamgeneem om die Afrika- wilderis mee te probeer makmaak.

Gary en ek is eerste weg in twee Land Cruisers. Gert en Kurt is agterna met nog ’n bakkie en ’n trokkie vol vrag – ’n trekker met ’n bossiekapper agterin. Natuurlik sonder enige permitte of “papiere”. Ons is nog nie eens by die ­grenspos nie toe die trokkie breek. Die twee moes toe in die voertuie slaap – toevallig die koudste nag van die jaar – terwyl hulle vir die nodige onderdele gewag het!

Dit is so 500 km van Pretoria af tot by die Beitbrug-grenspos en dit neem sowat ses uur om daar te kom. Daarna kan dit enige iets van een tot vier ure neem om deur al die rompslomp by die grenspos tot in Zimbabwe te kom. Gary en ek is deur en ons het soos altyd die eerste aand by die welbekende Lion & Elephant Motel oorgebly. Ná ’n ys-koue Zambezi Lager het ons gaan inkruip om baie vroeg die volgende oggend weer in die pad te val.

Ons is so 05:00 die volgende oggend alreeds op pad. Die vroeë winterog-gende is baie koud, maar baie helder. Ons het gehoop die ander twee manne sou opvang, maar met gebrekkige sel-foonontvangs kon ons maar net raai waar hulle trek met die noodonderdele en daarna die lastige spul by die grens-pos… Ons het maar aangestoot.

Ons kon bietjie bene rek toe ek opmerk dat ’n tou op Gary se vrag losgekom het. Ons kon darem gesels met tweerigting radios. Dit was iewers tus-sen Beitbrug-grenspos en Masvingo. Dit is ’n vervelige, sieldodende stuk pad in Zim wat voel of dit vir ewig aanhou. In Masvingo kon ons darem sel-foonontvangs kry en hoor dat Gert en Kurt weer op pad was.

Die formaliteite by die Zim/Mosambiek-grenspos neem altyd ’n hele ruk. Taal begin nou ook ’n struikelblok raak – ons Portugees is maak gebrekkig.

Daar is altyd ’n reuse-hoeveelheid onderhandeling en verduideliking oor die hope goed wat ons saamry – van spaarwiele en dromme helikopterbrandstof tot uniforms, toiletpapier en blikkieskos.

Dit is ’n geval van uithou, aanhou en bekhou… en uiteindelik ry ons in Mosambiek in. Verligting, want die ergste is verby.

So drie minute verder is die eerste padblokkade en die ondervraging oor al ons proviand begin weer van voor af. Die klomp goed wat ons saamry, lyk maar net te interessant en uiteenlopend vir die nuuskierige amptenare in hul vaalgrys uniforms om te ignoreer. Dit is nou maar een maal Afrika. Die manne verskil van Suid-Afrikaanse amptenare. Hulle is oor die algemeen baie vriendeliker.

Die volgende aand het ons by ’n plekkie oorgeslaap waar die ander twee manne weer by ons aangesluit het.

Die derde dag is die laaste stuk van die reis en jy begin opgewonde raak om weer terug te wees. Ons het ontbyt ge-ëet by die ingang van die Gorongoza Game-wildtuin, bestaande uit vars plaaslike brood langs die pad gekoop, kerrievis en koue hoender en so bietjie koue skaapboud in dun snye gesny. Naby Gorongoza vul ons aan met vars groente en vrugte by padstalletjies.

By Inhaminga draai ons finaal af van enige vorm van openbare pad – en dit is dan ook hier wat ’n groep van ons plaaslike manne uit die kamp ons opgewonde inwag. Die plaaslike manne met hul machetes is noodsaaklik vir die laaste stuk pad. ’n Mosambieker met sy kapmes kan alles doen – van bokke slag tot bome afkap – noem maar op! Met so 100 km om te gaan moes ons eers die trekker van die trokkie afhaal, want die laaste stuk pad is hopeloos te sleg vir die trokkie met ’n swaar vrag om dit in een stuk te maak.

’n Groot klomp swoeg en sweet, geskel en gelag later is die trekker af en is ons weer op pad. Hierdie keer natuur-lik met die trekker en bossiekapper wat sommer die baie lang gras vooruit platsny. Hier is waar die konvooi in die regte wildernis begin inbeweeg.

Ek was in die voorste voertuig agter Gert op die trekker. Dit is ’n pragtige plek en jy voel soos ’n regte pionier om stadig deur die ongerepte bos te ry tot by die jagkamp. Dit is ’n lekker gevoel. Plek-plek is die gras so 3 meter hoog. Jy kan ’n paar tree van ’n buffel af verbyry en dit nie weet nie. Dit het ons die hele dag geneem om die laaste sowat 75 km die eerste keer af te lê, terwyl ons ook sommer die pad oopsny met die bossiekapper.

Die volgende oggend word die aanloopbaan noukeurig oopgesny en voorberei – volgende keer kamp toe is deur die lug!

Ek sou graag alles wou wys en vertel. Ook van die keer wat ek stoksielalleen van die kamp af terug is huis toe – “non stop”. Miskien ’n volgende keer?