MET harde werk, ’n “never say die”-houding, en ’n bietjie hulp van Die Hoorn het die nie-winsgewende organisasie, Green Leaves Farm (GLF), onlangs ’n stuk grond gekry waarop hulle hul droom kan verwesenlik van ’n groentetuin vir die gemeenskap!
In Junie het Die Hoorn met Jolin Loggenberg, mede-stigterslid van GLF, gesels oor sy en agt ander mans van die Black Joint-gemeenskap op Oudtshoorn se hoop en drome om ’n groentetuin aan te plant tot voordeel van hulleself, hul families, sopkombuise in die gemeenskap en hopelik selfs die Groter Oudtshoorn se inwoners.
Dit het egter in daardie stadium vir hulle gelyk asof al hul drome en werk tevergeefs was omdat hulle nie ’n gepaste stuk grond kon kry waarop hulle die tuin kon vestig nie. Hulle het selfs borge aan boord gehad wat kon help met saad, saailinge, toerusting en advies. Al wat hulle gekort het, was die grond.
Volgens Loggenberg het hulle byna moed opgegee, toe Howard Barends, ’n heuningbos-boer in die Nooitgedacht-omgewing ’n stuk grond langs die Prins Albert-pad aan hulle beskikbaar gestel het.
Op 30 Junie het Die Hoorn die groep na die stuk grond vergesel. Daar is voorheen patats en aartappels geplant en ’n leiwaterbeurt is beskikbaar.
“My hart klop vir die jeug en om hulle te help, en daarom het ek onmiddellik betrokke geraak toe ek van die Green Leaves-span bewus geraak het. Hulle kan enige tyd begin – so gou moontlik,” het Barends gesê.
Barends sal voorts ’n trekker beskikbaar stel, waarvoor GLF slegs die diesel sal moet aankoop, en sy deurlopende ondersteuning bied.
Toe die mans van GLF oor die stuk grond uitgekyk het, met ’n breë glimlag op elkeen se gesig en ’n glinstering in die oë, was dit duidelik dat hulle baie dankbaar en opgewonde was.
“Ons kan nie wag om te begin nie – hierdie is net die begin, en ons weet daar is baie werk, maar ons gaan inspring en die meeste daarvan maak. JW Saad het klaar baie vir ons gedoen – hulle het nie net hul kennis met ons gedeel nie, maar ook beet-, kool-, blaarslaai- en spinasieplantjies gegee, en gaan help met implemente waar nodig. Hulle is net een van die maatskappye op Oudtshoorn wat hulp aangebied het,” vertel Loggenberg.
Die mans sê hulle het beslis ervaar dat die gemeenskap ’n hand na hulle uitgesteek het. Die Wes-Kaapse Departement Landbou sal hul bystaan met inligting en raad. Volgens Ernst Gu- der, senior landboukundige in die Klein Karoo, was hulle beïndruk toe Loggenberg hul nader.
Jacobus Martin, voorsitter van Oudtled Taskforce – ’n organisasie wat dit beywer vir die opheffing van bruin en swart besigheidseienaars en die gemeenskap – sê hy het die GLF-span ontmoet nadat hulle na hom verwys is toe hulle gesukkel het om grond te bekom en hy het hulle in aanraking gebring met Howard Barends.
“Ons het koppe bymekaar gesit met van ons lede en ander vennote. Howard was reeds deel van ons organisasie, en ons het hom vertel van die jong talent wat ’n oplossing soek. Hy het dadelik ingestem,” sê Martin.
Volgens Martin stap Oudtled Taskforce en hul vennote nou die pad saam met Green Leaves Farm om te verseker hul droom word bewaarheid. (Deur Stefan Goosen)
Grond beskibaar gestel vir groentetuin-projek!
Lede van Green Leaves Farm saam met Howard Barends by hul stuk grond. . Foto:
Stefan Skapie Goosen