HY steun die versoek van boere om die Klein Karoo-gebied tussen George en Calitzdorp tot ’n droogterampgebied te verklaar, sê die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson.
Boere uit dié gebied geleë in die munisipaliteite van die Groter Oudtshoorn, Kannaland en George, het versoekskrifte aan die burgemeesters van die drie munisipaliteite gestuur waarin hulle vra vir steun dat die gebied na ’n jarelange voortslepende droogte tot ’n rampgebied ver-klaar moet word.
Ten spyte van verskeie reënbuie die afgelope maande, is riviere en damme in die streek steeds leeg – die gevolg van die afwesigheid van goeie reën in bergagtige gebiede wat riviere en damme kan voed.
“Ons steun ten volle alle versoeke van belanghebbendes, veral die landbousektor, om ons gebiede tot ’n droogteramptoestand te verklaar,” sê Macpherson.
“Sommige gebiede, soos Paardebont, word die afgelope tien jaar erg deur droogte geraak, met die meerderheid gebiede wat al meer as sewe jaar aan hierdie verskriklike droogte onderwerp word.”
Macpherson sê hy het reeds met die burgemeesters van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, Memory Booysen, en die George Munisipaliteit, Leon van Wyk, gesprekke gevoer om die bes moontlike manier te vind wat sal verseker die aansoek word ondersteun deur naburige munisipaliteite en dat die proses vinnig plaasvind. Die burgemeesters skenk ook aandag aan droogtehulpprogramme be-skikbaar en hoe om so gou moontlik daarvoor aansoek te doen.
“Ons het groot medelye en empatie met diegene wat deur die droogte geraak word, en ondersoek ander maniere van bystand aan die landbougemeenskap. Terwyl die droogte ’n geweldige negatiewe uitwerking op ons plaaslike ekonomie gehad het, het Covid-19 die situasie verder vererger,” sê hy. (Deur Liesel le Roux)