Nuwe verhoordatum vir Andries van Mansdorff

’N NUWE verhoordatum is Donderdag (8 Julie) in die Oudtshoorn Streekhof bepaal vir die saak teen ’n man van Bridgton wat tereg staan op klagtes van poging tot moord, huisbraak, aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging om ’n seksuele daad met ’n 12-jarige meisie te pleeg.

Die 36-jarige Andries van Mansdorff het na bewering op 3 Oktober 2020 by die woning van Kaatjie Blaauw ingebreek,

Hy het daarna glo vir Tommy Blaauw met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan, vir Lionel Blaauw met ’n hamer geslaan en probeer om ’n seksuele daad met die 12-jarige kind te pleeg.

Volgens sy regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die beskuldigde aangedui dat hy onskuldig sal pleit op al die aanklagte.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak vir die begin van die verhoor tot 20 Augustus uitgestel.

Van Mansdorff is sedert sy inhegtenisneming in Oktober verlede jaar in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)