Deur Reinderd Visser
Wat is die ideale resep om ’n dodelike virus so vinnig moontlik oor die hele wêreld te versprei? Begin ’n wêreld-oorlog. Hoe weet ek dit? Want dít is presies wat tydens die Groot Oorlog van 1914 tot 1918 gebeur het. ’n Gevaarlike mutasie van die AH1N1- griepvirus het in 1918 ontstaan en dit word algemeen aanvaar dat die oorlog direk tot die wêreldwye verspreiding daarvan bygedra het, met katastrofiese gevolge!
Griepepidemies het regdeur die oorlog van 1914 tot 1918 voorgekom, iets wat logies was met so ’n groot hoeveelheid soldate in beperkte ruimtes bymekaar. Maar nie een epidemie was so dodelik soos dié een van laat 1918 nie.
Miljoene mense oor die hele wêreld sou uiteindelik siek word en sterf. Konserwatiewe syfers praat van 21 miljoen mense, terwyl ander reken dat tot byna 100 miljoen mense gesterf het. Dit is meer as die hoeveelheid mense wat in die twee groot wêreldoorloë saam omgekom het. Geen pandemie* het sedertdien so baie lewens geëis nie.
Dit is feitlik onmoontlik om presies te kan sê waar die dodelike griepvirus van 1918 sy oorsprong het. ’n Logiese afleiding sou wees dat dit in Spanje ontstaan het, want dit staan immers ook as die Spaanse Griep van 1918 bekend.
So maklik is dit egter nie. Die meeste oorlogvoerende lande het gedurende hierdie tyd streng sensuur rondom die getalle sterftes toegepas, ook wat sterftes as gevolg van siektes betref. Spanje as ’n neutrale land het nie daardie beperking gehad nie en daarom het die groot hoeveelheid sterftes onder die gewone bevolking hier eerste wêreldwye mediadekking gekry. So het die persepsie ontstaan dat die pandemie in Spanje ontstaan het.
Maar waar het dit dan onstaan? Daar is heelwat teorieë. Een daarvan is dat ’n soldaat wat besig was met opleiding in Kansas, Amerika, op 3 Maart 1918 met swaar griepsimptome by ’n siekeboeg aangemeld het. Vermoedelik het die virus van ’n klein dorpie in dieselfde staat gekom. Binne dae het meer as ’n duisend soldate met dieselfde simptome by die basis se siekeboë aangemeld. Teen middel Maart het die virus ook na ander dorpe en stede in Amerika versprei.
Wat dit anders as ander griepvirusse gemaak het, was die ongewone hoë getal mense wat daarvan gesterf het. Die virus het kort daarna die Atlantiese Oseaan oorgesteek. Soldate wat in April vanaf Amerika per skip na Europa is om daar te gaan veg, het blykbaar die virus saamgedra. Hier het dit verder gemuteer en was op sy gevaarlikste tydens die noordelike herfs en winter van 1918, tussen September en Desember dus. Dit is ook in hierdie tyd dat die meeste sterftes voorgekom het.
Die virus het in Europa en Engeland onder die soldate gemaai! So ook onder plaaslike soldate wat daar gestasioneer was, met ten minste vyf soldate van Oudtshoorn wat weens die virus gesterf het. In die hospitaal in Surrey, Engeland het skutters Ockert Oosthuizen, Archibald Forbes, Gert Brewis en Stanley Hitzeroth van 1 SA Bataljon aan die virus omgekom. En in Frankryk kon drywer Andrew Bernan van die Cape Auxiliary Horse Transport nie die virus afskud nie. Hy lê daar begrawe.
Hartseer genoeg was dit soldate wat teruggekom het Suid-Afrika toe wat die dodelike virus hierheen saamgebring het en wat uiteindelik Suid-Afrika in paniek gehad het.
’n Minder ernstige virus het middel September saam met soldate via die hawe van Durban die land ingekom en met die treine tot in Johannesburg versprei. Min mense het weens dié virus omgekom wat waarskynlik verklaar waarom so min
Johannesburgers uiteindelik gesterf het. Ten spyte daarvan het ek tog die graf van skutter Andries van Tonder in Durban opgespoor. Hy het by die General and Base Depots van die SA Magte gewerk en was van Georgestraat in Oudtshoorn.
Die eintlike gevaarlike virus het saam met soldate op twee skepe in Kaapstad gearriveer. Die twee skepe was die Jaroslav wat op 13 September 1918 aangekom het en die Veronej op 18 September. Die pandemie het met die spoorlyn van hier binneland toe versprei en oral het mense dodelik siek geword, selfs tot in die kleinste dorpies.
Kimberley, die hoofbasis vir die bruin soldate van onder andere die Cape Corps, is veral ernstig deur die siekte getref. Die dorp met sy diamantmyne het ’n groot getal mynwerkers gehad en die kiem het soos ’n veldbrand onder hulle versprei, met ’n enorme getal sterftes tot gevolg! Ek het iewers gelees dat 2 564 swart mynwerkers gesterf het. Die soldate by die militêre basis het ook nie die virus vrygespring nie. Meer as 200 van hulle is dood, en vyf manne uit die Klein Karoo het ook hier omgekom.
Hulle was skutters Samuel Coetzee (van Schoemanshoek), Charles Classen, Fred Daniels en Piet Matthie (Oudtshoorn) en Jacob Millar (Uniondale). Jan Britz, ’n “dresser” by die SA Veterinary Corps en van Gamka-Wes, het ook hier gesterf.
In Potchefstroom, 1 SA Bataljon se hoofbasis in Suid-Afrika waar ook ’n groot getal soldate gesterf het, is daar twee grafte van Oudtshoorniete – skutter Daniel O’Connel van die bataljon en verpleegsuster Constance Edmeades, dogter van die bekende Edwin Edmeades van Pinehurst.
Ek het die grafte van Klein Karoo- soldate in Namibië opgespoor. Nadat die Suid-Afrikaanse magte die Duitsers verslaan het in wat toe as Duits-Suid-Wes bekend gestaan het, moes die Duitse krygsgevangenes opgepas word. Ten minste drie soldate van hier wat daarby betrokke was, het daar aan die griepvirus omgekom. Twee lê in Windhoek begrawe – hulle was skutters Adam Calitz van Calitzdorp en David Fourie van Uniondale. Skutter Philip Meyer van Jubileestraat het by die krygsgevangenekamp buite Aus in die suide gewerk toe hy siek geword en gesterf het. Sy graf is nog daar.
Op twee soldate na, een in November en een in Desember 1918, het die ander 15 Klein Karoo-soldate wat ek kon opspoor, almal tussen 8 en 28 Oktober aan die virus gesterf. En dit weerspieël wat in die res van Suid-Afrika gebeur het.
Statistiek toon dat byna die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking tydens die pandemie siek geword het en dat die dodelike virus oor ’n periode van drie maande sowat 250 000 tot 300 000 lewens geneem het.
Die gevaarlikste periode was egter September en Oktober. Daar word bereken dat die grootste hoeveelheid sterftes rondom hierdie tyd (ongeveer sewe weke) voorgekom het, met Oktober die maand met die meeste sterftes. Oktober het daarom as Swart Oktober bekend gestaan.
C Louis Leipoldt sê in die tweede strofe van sy pragtige gedig Oktobermaand: “Dit is die maand Oktober, die mooiste mooiste maand!”
In 1918 sou dit helaas kon lees: “Dit is die maand Oktober, die swartste, swartste maand…”
* ’n Pandemie dui op ’n aansteeklike of oordraagbare siekte wat vinnig oor ’n land of groter gebied versprei. Dit is in werklikheid ’n epidemie, maar net op wêreldwye skaal. (Wikipedia)
Bronne: www.southafricawargraves. org; ‘Black October’: The impact of the Spanish influenza epidemic of 1918 on South Africa – Howard Phillips; https://www.ncbi.nlm.nih. gov/pmc/articles/ PMC340389/