Jong wenners wil prysgeld met familie en kerk deel

Die wenners van 2018 se gedugte Idols-kompetisie wat deur Brian’s Grill en House of Entertainment aangebied is! Hulle is van links Bethean-Joy Bruiners (laerskole-afdeling), Kesia Swartz (hoërskole-afdeling), Lesinda Stalmeester en Anuschka Henning (gesamentlike wenners van die volwasse afdeling) by Joanita Barnard (bestuurder Brian’s Grill) en Paul Amas (seremoniemeester). Foto: Wyndham Ewerts
Deur Wyndham Ewerts
DIE gewilde Oudtshoorn Idols 2018 het Donderdagaand in ’n volgepakte Brian’s Grill ten einde geloop met die wenners wat in die volwasse afdeling gekroon is.
Die beoordelaars moes omtrent kopkrap en het vir digby ’n uur en half lank geswoeg om ’n wenner te kies!
“ Al vyf finaliste het in die finale rondte sang van hoogstaande gehalte gelewer en daar was bitter min te kies tussen hulle,” het een van die beoordelaars, Pietie Muller, gesê.
Volgens Juanita Barnard, bestuurder by Brian’s Grill, het sy en Paul Amas van House of Entertainment ’n paar maande gelede begin om die kompetisie te organiseer en bemark.
“Ons hier by Brian’s Grill belê graag in die gemeenskap van Oudtshoorn en die doelwit van dié Idols-kompetisie was om vir ons talentvolle sangers ’n ordentlike platform te skep van waar hulle kan floreer,” sê sy.
Die prysgeld vir die drie afdelings -laerskool, hoërskool en volwassenes – het gesamentlik ’n allemintige R20 000 kontant beloop. Die wenners van die kompetisie het ook Vrydagaand in ’n voor- vertoning vir die bekende sanger Jakkie Louw by Brian’s Grill opgetree.
“Ons hoop van harte dat die prysgeld die wenners sal motiveer om hulle musikale ambisies na te jaag. En die deelnemers wat nie gewen het nie, kan ook met reg hul koppe omhoog hou, want die medediging was uiters straf,” het Juanita bygevoeg.
Volgens Paul wat ook die seremoniemeester vir die kompetisie was, was dit opvallend hoe geesdriftig die finaliste mekaar ondersteun het ondanks die groot prysgeld op die spel.
Brian Minnie, eienaar van Brian’s Grill, sê dit was vir hom ’n riem onder die hart is om te sien hoe gewone mense dwarsoor die kleurgrens mekaar só op die hande kan dra. “Musiek is voorwaar n groot gelykmaker!”
Die Hoorn het met die wenners gesels oor hul drome en wat hulle met die prysgeld gaan maak:
• Beathean-Joy Bruiners (12), wenner van R3000 in die laerskole-afdeling en ’n leerder van die Laerskool Van Reede, het gesê sy gaan die grootste gedeelte van haar prysgeld vir haar ma se medikasie gebruik.
“My droom is om eendag onderwys te studeer. Musiek is onmisbaar deel van my lewe en ek sal graag my sangloopbaan wil voortsit,” het sy bygevoeg.
• Kesia Swartz (17), wenner van R7000 in die hoërskole-afdeling, en ’n graad 11-leerder by Bridgton Senior Sekondêr, sê dit was eintlik haar tannie se idee dat sy moes inskryf.
“Vandag is ek nie spyt nie! Ek gaan beslis ’n tiende van my wengeld aan die kerk skenk. Die res van my geld gaan handig te pas kom vir my matriekafskeid wat binnekort is.”
• Anuchska Henning (22), medewen- ner in die volwasse afdeling (R5000) en bekende sanger in kareokekringe, het gesê sy gaan beslis die helfte van haar wengeld vir haar ma gee wat haar deur dik en dun ondersteun het. Anuchska en Lesinda Stalmeester (27) het die R10000-prysgeld in dié afdeling gedeel.
• Lesinda het op haar beurt vertel sy was vol vertroue dat sy die kompetisie sou wen omdat sy behoorlik voorberei het. “Ek beoog beslis ook om ’n tiende van my wengeld aan die kerk te gee. Ek dink ek praat vir al die finaliste as ek sê dat ons dankbaar is vir die blootstelling en platform wat Brian’s Grill vir ons ge-gee het. Die geld wat ons gewen het sal beslis ’n verskil maak!” het sy gesê.