Sally Sadler van Milleniumpark op Oudtshoorn by drie Struisies aan wie sy 60 000 broodknippies oorhandig het. Van links is Hanru Storm (VRL-leier), Riaan Maartens en Daniel Jordaan. Foto verskaf
’n Bydrae van 60 000 plastiek-broodknippies deur ’n inwoner van Millenniumpark op Oudtshoorn, Sally Sadler, het ’n projek van die Hoërskool Oudtshoorn se Verenigende Raad van Leerders (VRL) ’n groot hupstoot gegee.
Die skool het begin met ’n projek waardeur ’n rolstoel vir ’n gestremde volwassene of kind gekoop kan word sodra 200 broodsakkies vol broodknippies of 200 kg broodknippies bymekaargemaak is. Dit maak deel uit van ’n inisiatief wat in 2006 deur Mary Honeybun van Kaapstad begin is en deesdae twee tot drie rolstoele per maand vir Suid-Afrikaners koop.
Die broodknippies, selfs stukkendes, word deur herwinning omskep in prentrame, klerehangers en houers vir saailinge. Die omgewing baat ook daarby dat dié plastiek deur mense opgetel word.
Die skool het inwoners aangemoedig om hulle te ondersteun. Broodknippies kan by die Hoërskool Oudtshoorn afgegee word, wat dit dan by die Mosselbaai Munisipaliteit, die afgeepunt van die streek, sal aflewer.