Dié slae het nie kwaad gedoen!

Deur Johan Stasheim

EN daar staan ons toe. ’n Bedeesde rytjie van ses skoolseuns in ons skool­-klere in die gang voor die skoolhoof se kantoor.

Die gesigte wat nie te lank vantevore nie hard en uitbundig gelag het, is nou strak en doodstil. Die rede is natuurlik baie duidelik – hier is ’n ernstige drag slae op pad.

Dit is natuurlik in die dae voordat skoliere met hul ouers en ’n regspan skool toe geroep is wanneer Jannie drooggemaak het en ’n paar houe met ’n rottang moes kry om hom op die “straight and narrow” te hou.

Daardie dae was jy banger dat jou ouers gaan uitvind wat jy by die skool aangevang het as wat jy vir die rottang was!

Iewers het die stelsel mettertyd die “plot” verloor, maar, nou ja.
Meeste onnies het destyds byname gehad – Kiepie, Giep, Appelkop, Kolo­sili, Ma’am… elkeen met ’n storie daaragter natuurlik.

Mnr Booysen se bynaam was “Poison”. Hy sou dié dag die besigheid afhandel.

Sy manier was natuurlik die harde manier – jy kry een hou waar jy in die kantoor buk met jou kop onder sy tafel, sodat jy nie kan wegruk nie.

Jy gaan uit en gaan staan weer agter in die tou om so bietjie jou sitvlak te vryf.

So loop die tou manne drie maal deur en is ons daar weg met vuurwarm sitvlakke.

Die brand gaan darem gou weg, maar jy word aan die spul herinner tydens die rugbyoefening die middag en wanneer jy op jou fiets klim huis toe.

Nou waarvoor is daar so ’n pak slae uitgedeel?

Die kinders was immers in die “ou dae” baie meer onderworpe aan streng dissipline.
Maar… seuns bly maar seuns en ons was soms baie oorspronklik en bitterlik stout.

Soos vroeër daardie dag…

Dit was ’n gewone skooldag soos enige ander en die klasse het aangegaan soos dit altyd doen. Soos dit tipies was in skole is klaskamers destyds toegerus met ’n luidsprekertjie bokant die swartbord waarmee die hoof uit sy kantoor met die onderwyser kon kommunineer, ’n leerling laat roep of selfs met die hele skool en sy personeel gelyktydig praat – die sogenaamde “afkondigings”.

Dit was ons biologieperiode – ’n dub­belperiode nogal – toe die skoolhoof skielik al die personeel dringend na die personeelkamer ontbied. Daar was seker die een of ander dringende saak wat hy moes bespreek met almal wat net nie kon wag nie.

’n Totale onttrekking van personeel uit die klasse uit is natuurlik nie die blinkste idee in die wêreld nie, en dit lawaai maar sommer baie gou. Ons ses raas nie, maar sit haastig en planne maak.

Oomblikke later is Jack (eintlik Jaco) afgevaardig om die projek uit te voer, want hy het geweet hoe alles in die “kantoor” werk. Sy ma het in ’n stadium daar uitgehelp as sekretaresse vir die skoolhoof en kon hy alles dophou ná skool wanneer hy vir sy ma gewag het.

Hy glip toe by die klas uit kantoor toe …

Nie lank daarna nie, kom die interkom aan met sy bekende piepgeluid en almal gee oudergewoonte aandag. ’n Onbekende stem begin praat en sê “Môre kinders, al die personeel is tans besig en julle almal kan maar speelgrond toe gaan tot verdere kennis. Baie dankie.”

Nog ’n piepgeluid en die luid-spreketjie skakel af.

O wee … Soos blits ontaard die hele skool in totale chaos met kinders wat skreeuend uit die klasse storm speelgrond toe.

Die personeelkamer se deure bars te laat oop en ’n paar menere probeer te-vergeefs die skreeuende tsunami keer. Maar … “Poison” was te slim vir ons. Hy is soos ’n koeël uit ’n geweer uit reguit na die hoof se kantoor toe. En Jack was te laat om te ontsnap.

Ná ’n baie kort ondervraging is die res van die ses planmakers kantoor toe ontbied en ná ’n hewige lesing staan ons toe daar in die ry en wag.

Ek kan net lag as ek daaraan terug-dink… die ses manne het toe eintlik heel goed uitgedraai in die latere lewe.

Al ses het professionele loopbane gevolg – een tandarts, twee ingenieurs, twee mediese dokters (een is ’n uroloog) en een was ’n professor in Plantkunde by ’n universiteit.

Dié drag slae – en al die ander – het beslis niks kwaad gedoen aan hierdie paar manne nie.
Die beste is natuurlik dat ons ouers genadiglik nooit daarvan te hore gekom het nie!