Die probleem met Peterus Natsnoet de Lange-Swart

Ek het soveel empatie met omgewings waar middelmisbruik ’n probleem is. Ek voer self ’n verbete stryd van jare al met my oudste aangenome seun, Pepe (volle naam Peterus Natsnoet de Lange-Swart)

Sy probleem het klein begin, ’n aantal jare gelede oor ’n Paasnaweek toe ons by oupa en ouma op Hartenbos gekuier het. Op ’n Sondag-oggend, terwyl ons kerk toe is, beland ’n boks Paaseiers van die koffietafel af op die vloer en nege van hulle spring uit hulle papiertjies en reguit in sy bek. Ek vermoed dit is die weergawe wat hy sou gee. Die sjokolade-suiker-rush het hom soos ’n meerkat laat rondhop vir drie dae. Ek het my geskaam dat hy homself so in ’n ander huis moes gedra, maar ek het toe nog nie die probleem raakgesien nie.

’n Tyd daarna draai hy by die dood om. Hy het ’n slak in die hande gekry wat van slakgif in die buurman se tuin gevrek het. Dit was ’n skielike Vrydagaand-jaagtog na ’n veearts en drie dae in die hospitaal (met ’n indrukwekkende rekening daarna). Gegewe dat Tik ook gemaak word van goeters soos slakgif en kokkerotgif en alles, het ek die drie dae as rehabilitasie beskou en was dankbaar dat hy goed daarvan herstel het en verder ’n oënskynlik sinvolle en gehoorsame seun was. Ek kon hom van tikverslawing red.

Tot ’n jaar of drie verloop het en ek een dag ’n boksie donker likeursjokolade present kry. Weereens op ’n Sondag slaag hy daarin om dit van my bedkassie af te kry en vreet ses daarvan op. Die gevolg was, te verwagte, dat die man teen Sondag-aand stormdronk was. Dit was ’n enorme uitdaging vir hom om ’n hoek om te gaan of ’n draai te maak omdat sy voorpote redelik gewillig was om die draai te vat, maar die agterpote wou nog aanhou in die rigting waarheen hy op pad was. Na ’n hele klomp water en ’n rustelose nag, gevolg deur ’n massiewe kopseer (met net ’n “mmmffff!” toe ek hom Maandag-oggend roep vir kosgeetyd), het ons die periode van sy alkoholisme ook oorkom en weereens was daar hoop.

Die jare het verby gegaan, die baard het grys begin word en ’n paar tande moes getrek word en ek het so gehoop dat hy sy probleme afgeskud het. Tot Saterdagaand. Hoe hy daarin geslaag het om die bedkassie se boonste laai oop te kry weet ek nie, maar hy (en ek vermoed die drie jongeres wat sterk onder sy invloed is) het tussen hulle ses antibiotikas en vier Panado’s verorber.

Natuurlik het ek dadelik gedoen wat ek op Google kon vind in so ’n geval, want ek kom op dié acid-party af toe ek laataand by die huis kom. Gelukkig wil dit my nie lyk of enigeen enige nagevolge het nie, maar ek is emosioneel getraumatiseerd. Dat my oudste seun nou gevorder het tot by die punt van misbruik van “prescrition drugs!”

Ek kan nie veel meer sê nie, net dat ek tog maar aan die hoop vasklou dat hy nou net nie eendag as ek weer my rug draai ’n pakkie van my sigarette ook in die hande kry nie. Want dan sal ons die volle siklus van afhanklikheid en mislukte rehabilitasieprogings voltooi hê.

Deur Daniel Lötter