Kingdom News: Vind vreugde in Jesus Christus

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

DIE meeste mense strompel rond in ’n konstante toestand van verwarring.

Hul lewens is gevul met vrese, onsekerhede en bekommernis oor allerhande dinge en situasies.

Ons as kinders van God moet te midde van alles wat rondom ons aangaan of wat mag gebeur, te midde van onsekerheid en uitdagings steeds vir ander wys wat dit is om werklik vreugde te hê.

Die Psalmdigter stel dit so mooi wanneer hy skryf:
“You turned my wailing into dancing; you removed my sackcloth and clothed me with joy.” — Psalm 30:11 NIV

Die meeste mense, insluitend Christene, poog om hulself van tyd tot tyd te bevredig met tydelike oomblikke van vreugde gekoppel aan een of ander gebeurtenis of hoogtepunt net om weer daardie vreugde te “verloor” wanneer uitdagings en probleme oor hulle pad kom.

Paulus het hierdie probleem heeltemal verstaan, hy het ook in die donker rondgestrompel tot daardie wonderlike dag toe hy Christus op die pad na Damaskus ontmoet het.

Van daardie dag af, ten spyte van baie vervolging en uitdagings, het hy selde toegelaat dat die donker mis van moedeloosheid sy gedagtes vertroebel en sy vreugde verdryf.

Jy kan dieselfde “aanhoudende” vreugde in Christus Jesus ervaar as jy kan doen wat Paulus gedoen het.

Ons lees etlike verse saam uit Paulus se brief aan die gemeente in Filippi:
”Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” Fil. 4:4-7

Paulus se brief aan die kerk in Filippi is vol van vreugde op elke bladsy en dit is ’n positiewe bewys dat vreugde meer as ’n ontwykende droom is.

Vreugde was deel van sy DNA. Hoe kan dit wees? Wat is die geheim van Paulus se vreugde?
Paulus het volle vertroue gehad dat God aan die werk was in en deur sy lewe, dat God, die Skepper van die Heelal, in volle beheer was, en dat God die een is in wie ons leef en beweeg.

Paulus het verstaan dat God alles toegelaat het en dat alle dinge in sy lewe plaasvind vir een uiteindelike doel, om God te verheerlik!

Paulus het dit geweet: “My lewe en alles daarin is vir God en Hy is in beheer.” Paulus het verstaan dat vreugde nie afhang van wat gebeur, of wat ons het, of wie in ons lewens is of nie in ons lewens is nie.

Vreugde is ’n gesindheid van die hart wat bepaal word deur volle vertroue in God en Sy plan met jou lewe. Ware, opregte vreugde is ’n produk van ’n sterk en intieme verhouding met Christus Jesus. Om Christus werklik te ken, is om werklik vreugde te hê.

Vreugde is ook soveel dieper as om bloot net soms gelukkig te wees. Vreugde is ’n vrug van die Heilige Gees.

As kind van God het jy die volle werking van die Heilige Gees in jou en daarom kan jy werklik vreugde daagliks ervaar te midde van enige uitda-ging of probleem.

Vreugde is in die hart.
Vreugde is vanuit die siel.
Vreugde oortref alle dinge.
Vreugde omhels vrede en tevredenheid.
Vreugde loop diep en loop oor.
Vreugde is ’n oefening en ’n gedrag.
Dit is doelbewus en opsetlik.
Vreugde is diep en in God se Woord gesetel.
Vreugde is ‘n innerlike wete.
Vreugde verduur swaarkry en beproewinge.
’n Persoon streef na geluk, maar kies vreugde.
3 beginsels om vreugde in chaos te vind

Nr 1. Ek sal vreugde in chaos vind wanneer ek fokus op die dinge waarvoor ek dankbaar is.
Paulus kon terugkyk na sy bediening en onthou van die besetene vrou wat sy prediking onderbreek het.
Hy kon sy inhegtenisneming en marteling ont-hou, hy kon sy gevangenisskap onthou en onthou hoe hy uit die stad verjaag is. Paulus kies egter om nie hieraan vas te hou nie.

Hy besluit om nie die slagoffer-mentaliteit te kies nie.

Hy staan nie stil by sy verlede nie. Hy herinner homself aan die positiewe aspekte van die bedie-ning en die mense vir wie hy skryf. Hy dink aan hulle bekering, hulle getrouheid, hulle groei en deelname aan die evangelie, en hulle volgehoue volharding.

My vriende, die enigste manier om die slagoffer-mentaliteit van ons kultuur dood te maak, is om dit met dankbaarheid te vervang.

Nr 2. Ek sal vreugde in chaos vind wanneer ek God in beheer plaas van alles.
Paulus het alle vertroue gehad dat die werk wat Christus in die verlede onder die Filippense begin het, Jesus in die toekoms tot voltooiing sou bring. Dit het beteken dat God in die hede sou aanhou werk.
Wanneer ek ophou om god in my eie lewe te probeer speel en Hom toelaat om totale beheer te neem en my geestelike groei op Sy manier te bewerkstellig, sal ek anders kyk na die omstandighede wat my langs die pad geknou het.

Terwyl ek daarmee besig is, moet ek ook ophou om bekommernis, angs, manipulasie en vrees aan te wakker in ander se lewens. Wat ons moet doen is om met vertroue te bid in elke omstan-digheid wat oor ons pad kom, en God te dank vir Sy Woord en beloftes wat ons daardeur sal lei.

Nr 3. Ek sal vreugde vind wanneer ek liefde reg toepas.
Die Woord leer ons wat liefde regtig is en hoe dit toegepas moet word:
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” 1 Kor. 13:4-7

Wanneer ons besef wat ware liefde is en dit so toepas in ons lewens, sal ons besef dat vreugde ’n direkte uitvloeisel van hierdie liefde is.

Vriendelike mense is vreugdevolle mense, mense wat nie hul eie belang soek nie, is vol vreugde, mense wat nie boek hou van die kwaad nie, ervaar werklike vreugde.

Mense wat in alles, God se waarheid soek, ervaar ’n vreugde ongeag van elke omstandigheid.

As jy vreugde nodig het, begin met die daaglikse dankbaarheid-uitdaging, laat God in beheer wees. As Hy jou daarheen gebring het, sal Hy jou daardeur sien.

Gee alles daagliks vir Hom. Bevry jouself van jou eie troon en laat Jesus die Koning wees en laat ware liefde dit wees wat jou rig en lei.

Vreugde is ’n gesindheid van die hart wat bepaal word deur volle vertroue in God.

Om Christus te ken is om vreugde te ken. Hy is die pad van ware, opregte vreugde. (Deur Francois Mattheüs)