Kingdom News: Die oog gevestig op Jesus

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

Hebreërs 12:1-2
Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volhar-ding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Die Comrades marathon is ’n ultramaraton wat elke jaar gedurende Mei of Junie plaasvind. Deelnemers moet ’n afstand van ongeveer 90 kilometer aflê tussen Durban en Pietermaritzburg in die provinsie van KwaZulu-Natal. Hierdie uitmergelende maraton toets elke atleet tot die uiterste toe en baie atlete wat ten volle gekwalifiseer het deur die jaar en ywerig begin het, sukkel steeds om hier-die wedloop klaar te maak. Dit is beslis ’n toets van uiterstes.

Die skrywer van Hebreërs gebruik ’n soortgelyke analogie wanneer hy verwys na ons geestelike reis op aarde en gee aan elke Christen doeltreffende sleutels vir wanneer ons voel dat ons geestelik moeg is en wil uitsak. Die realiteit is dat ons somtyds tog moeg word en voel dat ons net nie meer wil voortgaan met hierdie geestelike reis nie.

Die skrywer dui aan dat ons ’n groot skare van geloofsgetuies rondom ons het en hy verwys hier na mense soos bv. Moses, Abraham, Noag, Isak, Josef en soveel ander wat geglo het. Hulle het onwrikbaar op God bly vertrou en Hom in geloof gevolg te midde van die uitdagings van hul omstandighede.

Hulle het dus aangehou en uitgehou, want hulle fokus was reg gewees. Hulle fokus was op God en totale oorgawe en geloof in wat Hy kan vermag. Hulle word daarom dus geloofshelde genoem en die skrywer vra dat ons vandag hier in ons omstandighede en uitdagings, soos wat ons ons wedloop hardloop, na hierdie geloofshelde sal kyk sodat ons deur hulle voorbeeld bemoedig sal word.

Die skrywer dui ook aan dat ons alle dinge wat ons so maklik verstrik, veral die sonde, van ons sal afskud en ons oog op Jesus sal hou. Het jy al in die berg gaan stap met ’n rugsak op jou skouers? Die impak van hierdie gewig op jou, veroorsaak dat jy gouer moeg word en heel moontlik wil opgee. Somtyds voel ons dat ons hierdie rugsak nodig het en dat ons nie van dit ontslae kan raak nie.

Die probleem is dat ons baie maal, onnodige gebruiksartikels in hierdie rugsak dra. Ons voel ons het dit nodig om te kan oorleef, maar dit is baie maal onnodige bagasie wat ons net moeg en swak maak.

Die skrywer verwys dan na Jesus, die begin en die voleinder van ons geloof. Dit is op Hom wat ons moet fokus, ons moet Hom voor oë hou en glo dat Hy die een is wat aan ons die nodige krag sal gee om ons geestelike reis suksesvol te kan voltooi. Die probleem is egter dat ons in baie opsigte, Jesus Christus die objek van ons gevoelens en emosies gemaak het en nie die begin en voleinder van ons geloof nie. Dit is wat met Petrus gebeur het. Ons lees in hierdie gedeelte van waar Jesus vir Petrus tydens ’n storm nooi om op die water te loop en na Hom toe te kom.

Ons lees in hierdie gedeelte in Mattheus 14: 28-32 die volgende:
Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Hulle het toe in die skuit ge-klim, en die wind het gaan lê. 33 Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

Wat is die “wind” en “golwe” in jou lewe vandag? As Jesus jou soos Petrus uit die boot geroep het, sou jy jou oë op Hom of jou situasie gevestig wees?

Ek hou daarvan om te dink my oë sal vasgenael op Jesus wees, maar as ek eerlik is, is ek baie meer geneig om soos Petrus te wees as wat ek waarskynlik wil erken. Net soos Petrus, begin ons baie maal goed en vertrou ons op Jesus, maar dan begin ons rond te kyk na die omstandighede rondom ons en ons haal ons oog van Jesus af.

Daarom wil ek 3 eenvoudige, dog kragtige maniere met jou deel, om jou oë op Jesus gevestig te hou. Om ons oë op die begin en voleinder van alle dinge en ons geloof, te vestig, sal jou perspektief verander. Jou situasie mag dalk nie verander nie, maar ’n verandering van perspektief kan die deur oopmaak na ongelooflike geloof om in jou situasie sterk en met deursettingsvermoë te kan volhard.

Ontwikkel ’n konsekwente gebedslewe
1 Tessalonisense 5:17 sê: “Bid gedurig” Gebed is ook die een ding wat die dissipels vir Jesus gevra het om hulle te leer in Lukas 11:1, “Hy het op ’n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, net soos Johannes ook sy dissipels geleer het” Gebed was belangrik vir Jesus en die dissipels. Gebed kan help om ons fokus op Jesus te hou, veral wanneer die wind en golwe rondom ons begin slaan.

Omring jouself met eendersdenkende ge-lowiges. Dit is geen geheim dat Christene gemeenskap met ander nodig het nie. Ons sien in Handelinge hoe die vroeë kerk juis in gemeenskap met mekaar was: “En hulle het hulle toegewy aan die leer van die apostels, aan die gemeenskap, aan die breking van die brood en aan die gebede” (Hand 2:42).

Hierdie mense was toegewyd daaraan om saam te wees. Ons het gemeenskap nodig, maar binne daardie gemeenskap het ons broers of susters in Christus nodig om ons aanspreeklik te hou.

Wanneer die wind en golwe kom, het ons diegene nodig wat ons sal herinner om ons oë gevestig op Jesus te hou, en nie net dat ons hulle nodig het om saam met ons te staan in die lewe se moeilike en uitdagende seisoene nie.

Vra die Heilige Gees om jou daagliks te vul.

Vanaf die oomblik van verlossing word jy deur die Heilige Gees verseël volgens Efesiërs 1:13-14: “Toe julle die boodskap van die waarheid gehoor het, die evangelie van julle verlossing, en toe julle in Hom geglo het, is julle ook verseël met die Heilige Gees beloof. Hy is die waarborg van ons erfdeel, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Ons moet daarom Sy grootheid prys.

Baie Christene maak die fout deur te dink dat ons nie nodig het om die Heilige Gees te vra om ons weer te vul nie. Die apostel Paulus sê vir gelowiges in Efesiërs 5:18 om deur die Gees vervul te word: “En moenie dronk word van wyn wat tot roekelose dade lei nie, maar word deur die Gees vervul” Om ’n konstante vervulling van die Heilige Gees te hê sal help om ons oë op Jesus gevestig te hou, want die Heilige Gees is die Gees van Jesus!

Moenie toelaat dat dit wat rondom jou gebeur, jou oog laat afhaal van Jesus Christus nie. In hier-die jaar gaan baie dinge in die wêreld verander en gaan ons dinge hoor en beleef wat ons gou gaan moeg maak as ons nie op Jesus gefokus bly nie.

Hy is die begin en voleinder van ons geloof en Hy is die een wat ons styf vashou in die holte van Sy hand. Hy sal jou rig en lei, Hy sal jou bystaan en help deur Sy Heilige Gees, maar jy sal jou oog op Hom moet hou. Ek en jy kan nie vir een sekonde bekostig om na die dinge rondom ons te kyk nie en afhanklik van hierdie faktore te wees vir ons sukses in hierdie wedloop nie. Gooi dit wat jou vashou en so maklik verstrengel van jou af anders gaan dit jou moeg maak en laat uitsak.

Gee dit vir Jesus en vertrou Hom in jou omstandighede.

Wanneer ons ’n lewe leef wat toegewy is aan gebed en omring word deur ons broers en susters in Christus om ons aanspreeklik te hou, en die Heilige Gees vra om ons daagliks te vul, sal die wind en die golwe veel minder kommerwekkend wees.

Die Here mag hulle nie elke keer verwyder nie, maar as Hy dit nie doen nie, kan ons verseker wees van Sy teenwoordigheid wanneer ons oë op Hom gevestig bly! (Deur Pastoor Francois Mattheüs)