Die eie belang skree!

Deur Poem Mooney

Ek was besig om die muisvoëls te verjaag uit die moerbeiboom in my voortuin. Die ellendige skadeberokkende vaal voëls met die lang sterte en die manhaftige kuifkoppe, steurende vrugtevreter wat my moerbeiboom verlede jaar behoorlik gestroop het.

Ek was net van plan om een van hierdie astrante voëls ’n doodskoot te gee met my kettie; waar hy reg voor my langs ’n vinknes gesit en krakeel het, toe die gepiep van die tuinhekkie my aandag aflei van die wandaad wat ek wou pleeg.

Dit was toe dat ek ousie Roeslyn gewaar het met ’n handmandjie om die regterarm. “Môre, Gert”, het sy spontaan gegroet. Sy het die handmandjie op die tafel voor my neergesit. Ek het met begerige oë na die hanepootdruiwe in die mandjie gekyk en onwillekeurig aan die muisvoëls gedink en skuldig soos een van die manhaftige vrugtevreters gevoel.

“Ek het dit vanmôre vroeg by Fruit & Veg gekoop, het sy op my onuitgesproke vraag geantwoord en toe het sy ’n blou plastieksakkie met twee bottels Jacobs op die tafel langs my neergesit. Hierdie koffie is vanmôre as ’n wins-koop aan kliënte aangebied en toe het ek vir myself gesê: ‘Roeslyn, jy gaan baie beslis vandag hierdie koffie met Gert Mooney deel!”

Sy het flink opgestaan, kombuis toe gestap en oomblikke later het ek die waterketel hoor sing. “Ek het dit vir ons gemaak. Ek hoop nie jy gee om nie.” Sy het die skinkbord voor my neergesit met twee koppies stomende koffie. “Weet jy wat, Gert?” het sy beginne praat. “Die dorp wemel vanmôre met mense wat al van vroegoggend af inkopies doen. Ek het lanklaas so iets beleef en dit nogal so vroeg in Januarie aan die begin van’n nuwe jaar.”

“Ek het ook gesien hoe die mense kennisgewings versprei het by wyse van plakkate op die lamppale wat die inwoners van die dorp aangemoedig het om te registreer vir die voorgenome verkiesing. Sy het behaaglik geteug aan die koffie, terwyl sy vir my ’n heerlike kaas-en-tamatietoebroodjie aangebied het.

Ek kon duidelik sien dat sy iets op die hart gehad het om met my te deel. Dit het voorgekom of sy nie die vrymoedigheid gehad het om die gesprek te begin nie . Ek het nog so gesit en wonder, maar toe skiet sy sommerso spontaan van die heup af: “Gaan jy hierdie jaar stem, Gert?” Die vraag was duidelik en ondubbelsinnig. “Hoekom vra Ousie?” was my teenvraag.

“Ek wil mos nie persoonlik wees nie, Gert, want ek weet mos jy is Khoi. Het julle ’n Khoi-party, of vir wie gaan julle stem? Ek weet dit is nie goeie maniere om so uit te vra nie, maar Bertus van ou Dik Doors, is ook ’n Khoi en hy het vir my gesê die Khoi-mense gaan binnekort parlement toe, saam met die tradisionele leiers. Toe het ek by myself gesê: ‘Dan is jy mos uitgesort, Gert Mooney, met goeie geld en ’n lekker lewe.’ Dik Doors het persoonlik vir my gesê sy seun is doodseker, hy gaan parlement toe. Hy’t gesê sy aansoek lê alreeds by die parlement en by die komissie sodat hy erkenning kan kry. Onthou, Gert, ek praat onder korreksie. Ek wil nie sketse maak sonder byskrifte nie.” Ek was verbaas oor die sarsie vrae wat sy op my afgevuur het.

“Ousie,” het ek begin antwoord op die salvo vrae, wat gelyktydig op my afgevuur is. “ek wil nie graag met oop oë in ’n dwangbuis beland nie,”

“Gert!” het sy my skerp in die rede geval. “Waar is dié snaakse woord hier van toepassing?” Hier sal jy beslis moet verduidelik.”

“Wag nou, Ousie, wag nou! Gee kans, gee net kans.”Ek het geweet ek moes nie haar intelligensie onderskat met ’n snaakse woord nie. Daarom het ek met ’n beter verduideliking vorendag gekom.

“Sien Ousie, het ek begin. “Ek wil nie hê ons mense moet weer in nog ’n toestand van onvryheid beland nie.” Ousie Roeslyn het swaar gesug. Sy het opgestaan en vir ons elkeen nog ’n koppie stomende koffie geskink. Ek het die koffie met dankbaarheid aanvaar en toe het ek verder probeer verduidelik.

“Ousie,” het ek begin. “Doors moet hom nie van Bertus en die ander klomp opportuniste laat mislei nie. Dit is weglopers uit gevestigde stamhuise wat nou bietjie dag betrokke geraak het toe hulle van geld en goed gehoor het en dit sê ek sonder benadeling van regte.”

“Onthou Ousie nog toe jou oupa-hulle deelboere was by Johannes Grové op Spaanskop? Kan jy nog onthou hoe oupa Jan die beeste dip toe moes vat? Onthou Ousie nog hoe die beeste deur die drukgang moes worstel dipgat toe? Nou-ja, dis nou maar my opinie oor wat ons vorentoe gaan beleef in hierdie nuwe bedeling. Dit is net my opinie, nie Doors sin, of Bertus, of al die ander mense wie parlement toe beur met hulle oë op die sogenaamde beter bedeling nie. My beskeie vraag, Ousie, hoe gaan jy parlement toe, sonder grond, en dit nogal die eerste inheemse nasie, wie hulle grond, kultuur, die verstaan van gewoontereg, taal en groepsregte. Ek weet nie so mooi nie, Ousie, ek weet nie hoekom hierdie mense so onnadenkend optree nie. Jy ken mos die lied: fools rush in…”

“Ja, Gert”, het Ousie Roeslyn opgewonde haar volgende bydrae gelewer. Ek kon die vonkel in haar oë sien en ek het geweet sy het die simboliek ge-snap.

“Jy sien jou verduideliking oor die drukgang het my weereens pad toe gebring en nou dat jy my kop oopgeskiet het, het ’n ander spreekwoord my sommer weer helderheid gegee oor hoe ’n mens ’n gedwonge situasie moet benader. Ek verstaan jou optimistiese versigtigheid en dit is hoekom ek my verstaan oor jou skynbare onwilligheid, eerbiedig.”

“Ek het mos gesien hoe spartel die beeste op Spaanskop deur die drukgang, hoe die horings teen mekaar klap, hoe hulle mekaar ry, hoe kwyl uit hul bekke tap. Ja-nee, Gert, ek verstaan jou onwilligheid oor die parlement toe ganery. Ek verstaan ook die uitdrukking ‘jy kan ’n perd by die water bring, maar jy kan hom nie dwing om te suip nie.”

“Toe, Gert, wat sê jy nou? Jy is mos ’n self erkende Khoi, toe, sê my, gaan jy byt of is jy uit?” Ek het geweet Ousie Roeslyn was besig om my integriteit te toets en ek het kliphard gewonder wat ek moes sê.

Ek het rustig my tweede koppie koffie geledig. Ek het my verkneuter oor haar afwagting op my antwoord. Dit was toe dat my ma se sê-ding voor my kom staan soos ’n bok wat my wil stoot. Sy het ons altyd gewaarsku as dit gelyk het ons wil geluk nastreef, dan sou sy gesê het: “Gaan gy op dat skynsel door, dan dwaal gy lig van het regte spoor.” Sy het seker maar bedoel skynbaar soet, is dikwels bitter, alhoewel ek geweet het skyn kan bedrieg.

Ek was eers na my derde koppie koffie gereed met ’n antwoord vir Ousie Roeslyn. “Ja, Ousie,” het ek met beslistheid gesê.

“Ek is ’n selferkende Khoi, maar ek weier om deel te word van ‘drukgang politiek’ waar jy net ‘ja en amen’ sonder grond, sonder beginsels, sonder selfrespek,” was my antwoord.

“En al die jare van opoffering, Gert, staan jy regtig by hierdie onwrikbare besluit van jou?” het Ousie haar betoog afgesluit.

Ek het opgestaan en die skinkbord met die leë koffie koppies kombuis toe gedra, en toe ek terugkom was ek gereed met my antwoord.

“Ousie,” het ek geantwoord. “Dit gaan nie oor myself nie. Onthou ons het gewerk aan ’n ideaal en ons het ver gekom en onder moeilike omstandighede het ons nogal baie bereik. My finale antwoord berus op die bene van hierdie spreekwoord: Die eie belang skree, terwyl die stem van die gewete praat.” (Deur Poem Mooney)