Briewe van lesers komplimenteer goeie diens: 1 Februarie 2024

Kompliment vir SAPD Polisie De Rust

Ons is nou amper sewe jaar woonagtig in De Rust en ek wil van die geleentheid gebruik maak om die personeel en bestuur van die SAPD Polisiestasie te komplimenteer met die uitstaande diens wat ons as gesin van julle ontvang.

’n Mens hoor gedurig net klagtes van hoe onbeholpe die Polisiediens is, maar dit is nie ons ondervinding nie, ons het vir jare in Gauteng gewoon en gewerk, was baie verbaas en dankbaar oor die sigbaarheid van die polisiebeamptes asook die bestuur.

Ek wil nie name uitsonder nie, want dit sal net tot onmin en onge-lukkigheid lei wat die doel van die kompliment sal versuur.

Ek kan my net indink dat dit nie altyd moontlik is om almal tevrede te stel nie, maar as ’n Polisiestasie vir die hele gemeenskap kan julle baie trots wees op julle diens aan die inwoners van De Rust!

Op 29 Desember 2023 op pad Kaapstad toe stop ons vir koffie in Ladismith en die twee polisie-beamptes by die vulstasie se koffie-winkel groet so beleef dat ek amper dink ek is nog in De Rust, maar wel gedaan aan julle twee beamptes, dit is hoe dit gedoen moet word om die vertroue te versterk tussen die Polisie en gemeenskap!

Alle sterkte ook vir julle met julle daagliks take! ’n Voorspoedige nuwe jaar vir almal!
– Oom André, De Rust inwoner