Die Klein Karoo se soldate in Duits-Oos-Afrika*

Deur Reinderd Visser

Foto’s wat Reinderd Visser op ’n onlangse besoek geneem het van grafte in Kenia van soldate uit Oudts­hoorn en omgewing. Heelbo is die begraafplaas in die stad Voi, en onder van links die herden­kingsmuur in Nairobi, die grafte van Harold Ereaut (Voi) en Diederick Coetzee (Voi).

Die lyding, siekte en dood van wit en bruin soldate uit die Klein Karoo tydens die Eerste Wêreldoorlog in Duits-Oos-Afrika…

Deur Reinderd Visser
Ek gesels vandeesweek verder oor die oorlog in Duits-Oos-Afrika. Jy sal ont­hou dat ons verlede keer die verband tussen die oorlog dáár en die Comrades Marathon ontdek het. Vandag wil ek grotendeels fokus op die soldate vanuit die Klein Karoo, met die klem op diegene wat hul lewens verloor het.

’n Adjudant van een van die Suid-Afrikaanse eenhede wat vroeg in 1916 in Oos-Afrika aangekom het, het sy eerste indrukke van die landskap so neergepen: The scenery was glorious beyond description, the foliage and flo­wers luxuriant and the grass fresh and green, and in the distance always that glorious snow-clad Kilimandjaro – a sight worth journeying half over the world to see – appeared to watch like a giant sentinel …

Dié indrukke kon nie meer misleidend gewees het nie! Agter die prent­jiemooi beeld het lyding, siekte en dood in verskillende vorme geskuil! Die vy- and se dodelike wapens sou die minste van die aanvallers se probleme wees. Soos iemand dit gestel het, die soldate moes wel koes vir koeëls, kartetse en myne, maar erger nog is hulle gekonfron­teer met malaria, swartwaterkoors, disenterie, tifus, bosluiskoors, lint­wurms, sandvlooie (waarvan die eiers onder jou vel uitbroei), luise, rooimiere, swart soldaatmiere, tsetsevlieë, perdesiekte, infeksies, leeus, luiperds, skerpioene, slange, te veel water (moerasse en reën), te min water, en dikwels te min rantsoene.

Die syfers bevestig dit – vir elke soldaat wat in aksie gesneuwel het, het nie minder nie as 30 soldate aan ’n tropiese siekte of een of ander maag­aandoening gesterf! En die perde, donkies, muile en osse het die siektes en dood ook nie vrygespring nie, met tienduisende wat gevrek het!

Onder hierdie kontrasterende omstandighede het soldate uit ons streek daar aangekom – aan die een kant prent- ­jiemooi, aan die ander kant dodelik!

Die eerste wit soldate uit die Klein Karoo het in Februarie 1916 gearriveer met die eerste twee ongevalle kort daar­na, in ’n veldslag op 21 Maart. Skutters Paul King en Jacobus Calitz (van Rooiheuwel) het daar gesneuwel.

Vir die res van die jaar tot einde Desember 1916 sou die troepe meestal te voet kruis en dwars oor die land agter die vyand aantrek. Daartydens het nog ’n soldaat van hier plaaslik, John Aling (25) op 27 Junie 1916 gesneuwel. Elf ander van hier het egter in dieselfde tyd­perk aan siektes gesterf! Hulle was kapt Harold Ereaut (mediese dokter, di­senterie), John Dicker (disenterie), Joseph Swartz (ontwatering), Diede­rick Coetzee (onder operasie), Henry Denyssen (swartwaterkoors), en Reginald Rex, William Wallace, Hendrik van der Watt, Petrus Niemand en Herold van der Spuy (almal malaria).

In 1917 was die soldate gelukkiger wat siektes betref. Net een, skutter Daniel Victor van die Ladismith-om­ge­wing, het aan tifus gesterf. Vier soldate het in aksie gesneuwel of aan hul wonde gesterf. Hulle was Joseph Smith, Joseph Norman (’n vere-sorteer­der), Frans Calitz (’n slagter van Calitzdorp) en Stephanus Fourie (’n boer van Ladismith).

Hoewel die bruin soldate van 1 Cape Corps (1CC) ook in Februarie 1916 na Oos-Afrika vertrek het, sou die meeste uit die Klein Karoo eers in Desember 1916 en Januarie 1917 daar aankom en tot vroeg 1918 daar bly. 2 Cape Corps (2CC) sou hulle in 1918 vervang. Ek kon die name van 15 soldate van 1CC en een van 2CC opspoor wat in dié periode gesterf het. Die eerste sterfgeval was op 4 Januarie 1917 met skutter Mikel du Plessis (van Jubileestraat) wat aans malaria gesterf het. Die volgende ongeval, ’n mynontploffing, was skutter William Trantral op 21 Ja­-nuarie. Die enigste ander bruin soldaat wat in aksie sou sterf, was skutter John van Aardt van die Dysselsdorp-distrik op 30 Augustus. Die res is weer eens aan meestal tropiese en maagsiektes dood. Van 1CC: Goliath Coetzee (Reserwestraat) en sers Adolf Olieslager sterf albei aan serebrale malaria; skutters John May (Kango-distrik), Christiaan Trompetter, Hans Tarentaal (Oxfordstraat), Peter Heuvel (Matjiesrivier) en Frank Titus sterf almal aan malaria; Abram Visagie (Hillstraat), Cornelius Langeveld (Birdstraat), Jan May (Dysselsdorp) en Willem Ruiters sterf aan disenterie; en Piet Jullies (St Georgestraat) aan pokkies, en Jo­seph Mar­tin aan swartwaterkoors. Korp John Kivett (Uniondale) van 2CC is ook aan malaria dood.

Dan was daar die vergete en minste geëerde “soldate”, naamlik die dry­-wers, pakdraers en arbeiders. Die arbeiders moes byvoorbeeld paaie maak en help om spoorlyne te bou; drywers moes toerusting en ammunisie met hul os-, donkie- of muilkarre na die front neem, en pakdraers moes tientalle kilogram voorraad op hul rug dra, oral waar die troepe beweeg het. Uit die sowat eenmiljoen manne wat hierdie werk gedoen het, het minstens 90 000 aan siektes en selfs verhongering gesterf.

Bruin drywers is onder andere by die South African Native Labour Bureau (SANLB) ingedeel en ook hier het man­ne van Oudtshoorn hul bydrae ge­lewer. Ek kon die name van vyf drywers opspoor wat weens siektes in Oos-Afrika gesterf het. Drie van hulle – almal van Oudtshoorn – is in Tanzanië dood – Klaas Booyse (malaria), Jacob Pospas (siekte onbekend) en Hans

Scholtz (malaria). Twee muildrywers, Johannes Linden (malaria) en Evert Botha (disenterie) het siek huis toe gekom, is hier oorlede en in die plaas­like begraafplaas begrawe. Ek kon egter nie hul grafte opspoor nie.

Ek het ook die name van 74 ander drywers en arbeiders gevind wat op Oudtshoorn ingeskryf is en tydens hul diens gesterf het.

Ek weet egter nie of hulle van die streek was nie. Hoe ook al, ten minste 29 manne van die Klein Karoo, en moontlik 74 ander, het in Oos-Afrika die hoogste prys betaal. En die grootste meerderheid aan siektes!

Ek was onlangs in Kenia en kon oorlogsbegraafplase in Nairobi en Voi besoek. Hier kon ek die grafte van skutter Coetzee (Nairobi) en Kaptein Ereaut (Voi) besoek. Die liggame van skutters Jacobus Calitz en William Trantral is nooit gevind nie en hul name verskyn op die herdenkingsmuur in Nairobi. Daar is nog een of twee name by Mombasa se oorlogsbegraafplaas, maar die meeste van die Klein Karoo-soldate se grafte of name is oor Tanzanië versprei, waar die grootste gedeelte van die oorlog gevoer is.

Dit was uiteindelik eerder Oos-Afri­ka se tropiese omstandighede en siektes as die gevegte wat die soldate ge­- toets het. ’n Soldaat kon dit nie meer sinies opsom nie: Ah, I wish to hell I was in France. There one lives like a gentleman and dies like a man, here one lives like a pig and dies like a dog!

* Duits-Oos-Afrika was vanaf 1885 tot 1918 ’n kolonie van die Duitse Keiserryk in Tanganjika, tans Tanzanië.
• Bronne: The Great Silence – Tim Couzens; Trekking On – Deneys Reitz; The Story of the 1st Cape Corps – ID Difford; www.southafricawargraves.org