Die kerk met die vreemde drake

Deur Daniel Lötter

Onder die land se mooi kerke, is Oudtshoorn se Moedergemeente seker een van die mees uitstaande. Die sandsteen-gebou met sy koel interieur en sy vanselfsprekende atmosfeer van piëteit is vir baie lank al die tuiste vir die vermoeide gees.

Maar dis ’n gebou met ’n klomp interessant-hede. Die kerk is ontwerp in ’n eklektiese versameling van style waarin die Neo-Gotiese van die middel Victoriaanse era oorheers. Die gebou was ’n ontwerp van die argitek, George Wallis, in November van 1859.

In hierdie jare voer die Kaapse regering sowat 3 000 Skotse klipkappers in om staatsgeboue op te rig en ’n klomp van hulle begin werk aan die nuwe gebou – sonder die argitek se toesig.

Na vier jaar is die geld op, en boonop is daar ’n verskil van bykans vier voet tussen die mure en die dak omdat die argiteksplanne verkeerd gelees is. Dus bly die gebou onvoltooid staan vir ’n jaar of drie, voordat Carl Otto Hager se hulp ingeroep word om die probleem met die planne op te los. Uiteindelik word die gebou op 7 Junie 1879 ingewy. In hierdie jare was ds. Van der Riet die leraar.

Hierdie ou Skotse klipkappers was merkwaardige kunstenaars. Selfs die kansel is uit plaaslike sandsteen gebeitel met ingewikkelde en dekoratiewe motiewe. Die plan was om ses engele rondom die kansel te laat staan, maar die kerkraad was bang dat die engele “te Europees” sou lyk en daarom is foto’s van twee dogtertjies (een was Rosie le Roux van Bakenskraal) na Skotland ge-stuur om die ses engele daar te laat maak. Uiteindelik kom net 5 van die engele per skip in Suid-Afrika aan. Wat van die sesde een geword het weet ons tot vandag nie. Die totale koste van die kansel beloop ’n allemintige £799!

Ook die roosvenster aan Kerkstraat se kant het ’n interessante storie. Die vensterraam is uit sandsteen gebeitel en dit is daarna met houtskool op ’n beesvel oorgeteken. Die opgerolde beesvel is na Engeland gestuur met die naam van ’n kleur in elke blokkie geskryf, sodat die glas daar gesny kon word. Terug in Oudtshoorn is die stukkies glas weer op die beesvel uitgepak en daarvandaan in die raam geset sodat die venster vandag nog ’n indrukwekkende kunswerk op sy eie is.

Die banke van die kerk is van Oregon gemaak. Dit was ’n goedkoop en volop houtsoort, omdat die dennebome van dié Amerikaanse staat gebruik is as ballas(ballast) in die ruim van die Amerikaanse vragskepe wat Tafelbaai aangedoen het. Daar is dit afgegooi en geruil vir skulpgruis, wat weer in Amerika in aanvraag was. Die Oregonstompe is dan op veilings verkoop aan meubelmakers. Vir die dakbalke en plafon is kiaat uit Australië ingevoer en die voorkant van die orrel se geelhout was nie inheems nie, maar ’n variëteit wat uit Swede ingevoer is.

Om die binnekant af te rond is 73 orrelpype met die hand beskilder. Hiervan is daar slegs 24 wat werk, want agter hulle versteek, is daar nog ’n horde orrelpype. In totaal is daar nie minder as 1 349 werkende orrelpype nie!

Aan die buitekant is ’n unieke afwerking, wat van Oudtshoorn se Moederkerk ’n eiesoortige gebou onder Gereformeerde en Protestantse Kerke wêreldwyd maak. Die eindpunte van die gewels is naamlik versier met klein, waterspuwende drakies (gargoyles). Hierdie drakies, of “demoontjies” soos die Franse daarna verwys, is ’n oorlewing uit die bygelowige Middeleeue en is nou nie juis versoenbaar met die sobere belydenis van die Hervorming nie.

Skuins agter die kerk staan ook ’n eiesoortige monument wat dateer uit die hoogtepuntjare van die Afrikaner Volksnasionalisme van 1938 se Groot Trek Eeufees. In hierdie feesjaar het ossewaens dwarsdeur die land getrek op pad na Bloedrivier of Pretoria. Die fees op Oudtshoorn is gehou op die oop terrein waar Spar se parkeerarea hedendaags is.

Vir ’n week voor die feesdae van 7, 8 en 9 September, het elke skoolkind ’n klip saamgebring skool toe. Op die oggend van die negende het die feeswa aangekom en is die klippe gestapel langs die kerk. Mevrou Langenhoven met haar blou Voortrekkerrok (wat nou in Arbeidsgenot hang) was ook daar. Die stapel klippe is later vasgemessel tot die monument wat vandag daar staan, en afgerond met kosbare formasies uit die Kango Grotte – ’n daad van “versiering” wat eietyds ’n man in ’n lelike penarie kan laat kom!

Dis egter wat oor jare heen binne hierdie ou gebou gebeur het wat die volle omvang van menslike vreugde, menslike smart en menslike emosie verwoord. Hier was spogtroues in die jare van volstruisveerweelde. Daar was hartseerdae soos met die begrafnis van Langenhoven. En daar was bidure … dankseggingsbidure en biddae om reën. En van al die stories, is dit juis die een van die biduur-bekgeveg wat my nog altyd laat skud het van die lag.

Dit was in die dae van ds. George Murray (vir wie die yslike pastorie gebou is omdat hy sestien kinders gehad het!). Dit was ’n besondere droë jaar en soos altyd in droogtetyd, duik daar twis op oor waterleibeurte. Daar na Hazenjacht se kant toe boer twee ou neefs, oom Kosie en oom Japie, neffens mekaar. En oom Japie is ’n gesoute watersteler.

Toe besluit oom Kosie om die saak sommer direk na die Hoogste Gesag waaraan hy kan dink te neem. Woensdagaand sit hy en wag totdat do-minee Murray kans gee vir gebede. En toe staan hy op en val weg: “Onse Vader, ek kom dra vanaand vir neef Japie aan Uwe op. U het verorden: Wee diegene wat toorn stook. En U weet ook vanaand dat Japie ’n mens erg versondig. Gee dit dan tog vanaand in sy hart dat hy hom van sy sondige weë bekeer en dat vrede en geregtigheid van sy siel besit neem, want hy…”

En dis net daar wat oom Japie hom onderbreek. “Verskoon nou vanaand, Liewe Here, dat ek nou vir Kosie hier in die rede moet val, maar met permissie gesê: Hy staan nou vir U en lieg. Ek is nie die water toegeken wat my toekom nie, omdat Kosie op die besproeiingsraad sit. Nou gaan U darem seker nie ’n man kwalik neem wat in hier-die dae van droogte die watertjies vat wat hom toekom nie.” “Nee, Here,” vat oom Kosie weer vas. “Japie praat nou nie die waarheid nie. Laat ek nou vir U verduidelik wat hier aangaan…”

Op hierdie punt tree die leraar tussenbeide. “Broers! Amen!” sê hy met ’n ferm stem van die kansel af. “Amen, seg ek!”

Maar oom Japie kry nog ’n dwarshou in. “Vader, onse dominee is ’n goeie mens, maar van waterbeurte weet hy niks, So laat ek nou hier verduidelik hoe die saak staan met Kosie se skelmstreke. Kyk, soos dit nou gaan is….”

“Broer Japie. A-MIN!” sê die predikant.
En daarmee is die geveg toe afgehandel en sluip die twee ou strydendes onder die slotgebed suutjies by die sydeure uit sodat hulle nie die predikant in die oë hoef te kyk nie!