Briewe van lesers: 15 Junie 2023

Bridgton winkelkompleks

Ek lees op facebook baie negatiewe kommentaar oor die besigheidskompleks langs die Bridgton kliniek. Daar word na die gebou verwys as ’n stoor, saal en ek weet nie wat nog nie.

Wanneer ek egter kyk wie die persone is wat sulke kommentaar lewer, is dit mense wat nooit daar sal gaan koop of eet nie. Hulle behoort tot ’n beter klas en besit motors en doen al hul inkopies in die dorp en George.

Hierteenoor is die gewone man en vrou van Bridgton wat so dankbaar vir hierdie kompleks is. Hulle wat so baie gaan spaar op taxigeld dorp toe en nou meer kos kan koop asook iets lekker om te eet.

Onthou, hierdie gebou staan in ’n area waar alles afgebreek en vernietig moet word en is dit verstaanbaar waarom daar nie ruite buite is nie. Boonop het die mense nooit die inbrekers gesien nie, en koop hulle nog die gesteelde goed.

Ons moet die ontwikkelaar bedank wie dit gewaag het om so baie geld te belê in ’n besigheid waarvan hy nie eens verseker is van die sukses nie, asook die munisipaliteit vir die inisiatief om die grond op tender uit te sit vir ontwikkelingvoorstelle.

Kom ons begin om die besighede wat daar gaan wees te ondersteun en neem eienaarskap. Oudtshoorn benodig ’n ommeswaai van klaers na trotse inwoners.
– Trotse Oudtshoornniet

Sien die positiewe raak

Na aanleiding van 2 vorige briefskrywers wil ek ook graag my opinie lug.

Ek stem saam dat ons dorp nie in ‘n baie goeie toestand is nie, maar ek sien darem ook die positiewe raak wat besig is om te gebeur.

Munisipale werkers is besig om die middelmannetjies se dooie gras uit te haal en te vervang met vetplante en klippe eie aan ons dorp.

Die ingange van buite af is netjies en lyk goed.

Ons dorp is bekend vir al sy toeriste aantrelikhede daarom kry ons so baie besoekers. Verder het ons van die beste skole en sportgeriewe

In plaas van kla, kan ons nie liewer almal saam werk en positiewe bydrae lewer nie.

Dankie aan die werkers wat ons dorp weer netjies maak, dalk is ons een van die dae “die dorp van die jaar”.

O, ja, en moenie vergeet nie, ons is aangewys as die dorp met die skoonste lug.
– Groete Mona Brittnell