Klein Karoo Saad gasheer vir buitelandse besoekers

Vyftig internasionale voornemende kliënte en besoekers is die afgelope twee weke deur Klein Karoo Saad onthaal in Oudtshoorn en in Kaapstad, tydens die International Seed Federation World kongres (ISF). Bo spreek David Malan, (heel links) besturende direkteur van KKS , een van die groepe toe oor die beplande program vir die dag na die verskeie fasiliteite in en om Oudtshoorn.

KLEIN Karoo Saad het met ware Klein-Karoo gasvryheid, voornemende kliënte en besoekers vanuit alle uithoeke van die wêreld, soos Amerika, Europa, die Midde-Ooste en Verre-Ooste op Oudtshoorn en Kaapstad onthaal.

Voor en na die International Seed Federation World kongres (ISF) wat vanaf 5 – 7 Junie vanjaar in Kaapstad plaasgevind het, het besoekers die geleentheid gehad om na Oudtshoorn te reis, en is hulle deur KKSP en Agrofors op ’n toer geneem na verskeie plase, store en hul aanleg op die dorp.

Tydens ’n glansaand in Kaapstad is daar vir ons kliënte en vennote ’n spogfunksie by Media24 se NASDAK rooftop venue, tydens die ISF op 6 Junie 2023 gehou.

Die toer het op ’n koue, nat en reënerige oggend begin, waar gaste bederf is met die beste boeretroos op die dorp, en heerlike eetgoed. Elkeen het ook ’n geskenksakkie ontvang met peuselhappies om dalk die hol kolletjies tydens die toer, te vul, en ’n keps om die dag se herinneringe vas te vang.

Die eerste stop op die toer was in Calitzdorp by ’n uieland van ’n KKSP produsent.

KKSP het tans meer as 250 produsente wat oor ’n wye gebiede saad produseer; 65% uie-, 20% wortel- en 10% lente-uiesaad.

Die grootste gedeelte van die hele plant- en oessiklus word per hand gedoen, wat verseker dat seisoenale werksgeleenthede vir plaaslike inwoners geskep word – so verskaf KKSP ook seisoenale werksgeleenthede in die verskeie areas waar hul produsente het.

Een van die grootste uitdagings wat baie saadprodusente vandag in die gesig staar is die kwessie hoër kwaliteitsaad wat beteken dat al beter ontkieming en groter isolasies-afstande vereis word.

Isolasieafstande wissel van 1000 m tussen oop bestuifde kultivars van dieselfde tipes tot soveel as 5000 m om verskillende kleure uie te akkomodeer.

KKSP werk ook nou saam met die Universiteit van Pretoria om te bepaal wat bye se optimale omstandighede vir verhoogde produktiwiteit is, en waarom daar in die verlede sommige swak bestuiwingjare was en hoe bestuiwing meer volhoubaar en betroubaar gedoen kan word.

Die gebruik van verskeie tonnels by hul Besemkop Plaas net buite Calitzdorp het tot dusver baie interessante navorsing ten opsigte van bye opgelewer.

Bye in tonnels het ’n spesifieke grootte van ongeveer 20 m x 10 m binne in die tonnel nodig om hul werk optimaal te verrig. As die tonnel te klein is, is die bye nie produktief nie. Bye vir be-stuiwing word ingebring wanneer die land se plante sowat 10 – 15% blomme bevat.

Die kleur van die nette wat gebruik word beïnvloed ook die bye. Daar is waargeneem dat bye hulself dood vlieg teen groen nette, maar ’n sekere skakering blou hou die bye nie net kalm nie, maar beïnvloed hul glad nie.

Bye in die Wes-Kaap is ook kleiner, donkerder van kleur en het groter vlerk tot liggaamsverhouding om die winderige toestande te kan trotseer.

Na die besoeke aan verskeie uie- en wortellande is besoekers geneem na die Besemkop stoor, waar uie vir tot 4 maande gestoor kan word. Binne in die stoor is daar afskortings met 22 waaiers, waar uie gedroog word.

Na afloop van die toer in Calitzdorp is besoekers weer per bussie teruggeneem na Oudtshoorn waar die KKSP se fasiliteite in Parkwerg besoek is.

Die toer is hervat in destydse vliegtuig “hangers” wat in 1946 by die “Royal Airforce” gekoop is, en herskep is in verskeie afdelings.

In die eerste stoor word saad ontvang vanaf produsente of kliënte. Daar word van elke sak ’n monster geneem wat later deur die laboratorium geanaliseer word. Saad skuif dan oor na die volgende stoor waar dit deur verskeie prosesse gaan om skoongemaak te word, voor dit later verpak en verder gedroog word.

Elke besending saad wat ontvang word kry vanaf die begin hul eie unieke strepieskode (barcode) wat regdeur die proses die besendings identifiseer.

Op die einde word elke lot weer herverpak voor dit na die verskeie kliënte gestuur word vir aflewering.

Agrofors – ’n splinternuwe afdeling (2 jaar) van KKSP het nie net hul nuwe kantore aan besoekers gewys nie, maar ook hul span voorgestel.

Agrofors bemark produkte soos kunsmis, weidingsaad en chemie. Alhoewel hierdie laer marge produkte is, is dit deel van KKSP se doel om dit so bekostigbaar as moontlik te maak vir hul produsente en ook om te keer dat insetkoste vinnig styg.

Die laaste besoek was aan die laboratorium, wat in 1993 begin is. In 2018 het hul ’n lid geword van die International Seed Testing Association. (ISTA). In 2020 kry hulle ISTA-akkreditasie, wat uiters belangrik is wanneer dit kom by die uitvoer van saad. By die laboratorium word elke (lot, versending) saad wat deur KKSP produsente gekweek of ontvang word getoets deur ’n baie bekwame en kundige span.

Die toer is afgesluit met ’n heerlike middagete by die Emporium met tradisionele gunstelinge soos bobotie en malvapoedding wat bedien is. Rooiwyn om die koue weer te komplimenteer is ook geniet.

Hierdie is net ’n bewys dat die Klein Karoo deur ywer en harde werk van KKSP Besturende Direkteur David Malan en sy wonderlike span die area en alles wat hier te bied is nie net promoveer nie, maar ook vir die volhoubare toekoms en ondersteuning deur buitelandse kliënte te kan verseker.

Dr. Andreas Wais, sekretaris-generaal van ISTA, vanaf Switserland.

Besemkop, een van KKSP se plase buite Calitzdorp is tydens die toer besoek

Besemkop, een van KKSP se plase buite Calitzdorp is tydens die toer besoek

Verskeie landsvlae is ook opgehang buite KKS se fasiliteite in Oudtshoorn.

In die laboratorium word van elke lot saad wat ontvang word, saad monsters geneem, gegroei, en getoets. (Foto’s Ilse Jordaan)