Die dag toe pawiljoen ineenstort

Deur Johan Strasheim

Loftus Versfeld in Pretoria – nou die tuiste van die Blou Bulle. Die groot rugbystadion was vir so lank as wat ek kan onthou die tuiste van die destydse Noord-Transvaal en ek het menige groot oomblikke daar ervaar. Daar is baie, te veel om op te noem, soos die wedstryd waar Frik “gedrop, geplace en gescore” het. Daar is egter een gebeurtenis wat my tot vandag toe bybly …

Op Saterdag 30 Augustus 1969 speel Noord-Transvaal teen die Wallaby-toerspan van kaptein Greg Davis op Loftus Versfeld in Pretoria. Sovér ek kan onthou het my pa – dr Bertie Strasheim – dié dag die fluitjie hanteer, maar ek kan nie mooi onthou nie, want die dag is oorskadu deur ander drama.

Ek was die dag weer daar – op die hoofpawiljoen, soos ek omtrent elke Saterdag in daai jare was toe ek saam met my pa rugby toe is. Die ligbloues vol Springbokke het daardie dag met 13-3 gewen. Die manne van “Down under” het maar swaar geleef op die toer van 1969 en die Springbokke het die toets-reeks 4-0 gewen.

Die volgende Saterdag was dit juis die derde toets op Nuweland in Kaapstad.

In daardie jare was rugby nog ’n suiwer amateursport en die rugbystadions nog nie naastenby so ge-sofistikeerd en ontwikkel soos dit in die hedendaagse professionele era geword het nie.

Om kapasiteit vir die groot wedstryde te skep is daar sogenaamde “tydelike” pawiljoene gebou, om al die ondersteuners te kan huisves. Wie sal dit nie ont-hou nie! ’n Goeie hupstoot uit die ekstra hekgelde het natuurlik ook gehelp.

Hierdie tydelike pawiljoene was in der waarheid eintlik nie die beste idee nie. Dit was eintlik maar net ’n komplekse struktuur van steierwerk (“scaffold”) met pype en plate wat aanmekaargeskoef is met klampe.

Die tuisspan het gewen en die eindfluitjie is ouder-gewoonte met ’n groot gejuig begroet en soos in daardie dae praktyk was moes die spelers hardloop vir die tonnel – of ingesluk word in ’n see van geesdriftige ondersteuners wat op die veld gestroom het om aan hul sporthelde te raak.

Daarna daal daar gewoonlik ’n opgewonde kalmte oor die stadion neer terwyl die duisende mense in strome die slakkepas proses begin om terug te kom na waar hul motors geparkeer is om huis toe te gaan, of vleis te braai net daar langs die pad. Dit was dae voor losies en “fancy” fasiliteite. Die onthaal vir die spe-lers en eregaste is soms in ’n groot tent op die B-veld agter die suidelike pawiljoen gehou.

Uit die aard van die saak was my pa meestal in sy rol as skeidsregter en administrateur daarheen genooi en het ek en my broer ons besig gehou op die pawiljoen. Dit is ongelooflik om te sien wat mense daar agterlaat … donkerbrille, verkykers, sigarette, biltong, truie, kombersies, baie kussingkies, hoede, geld en natuurlik vrugte. Nartjies was dié vruggie van die dag daardie jare – veral om op die veld te gooi wanneer iets nie jou goedkeuring wegdra nie! Deesdae word jy sommer toegesluit vir so iets. Hoe het dinge nie ver-ander nie.

Die spelers was ’n minuut of drie weg in die tonnel terug kleedkamer toe onder die hoofpawiljoen en die mense begin bedaar toe daar ’n onmenslike gedreun en geskreeu langs die suidekant van die hoofpawil-joen losbars. Die tydelike pawiljoen wat daar opgerig is vir sowat 1200 toeskouers het begin meegee onder die verskuiwende massa mense.

Dit was baie erg en al wat ek kan onthou, is dat jy mense sien deur die struktuur tuimel, papiere wat in ’n wolk rondwaai en honderde mense wat gil en skreeu. Ek onthou spesifiek een ou wat met sy opgerolde program in sy hand deur die lug getrek en op ander mense verder af te lande gekom het. Jy kon net magteloos staan en kyk. Mense op die veld het geskok hulle koppe gestaan en vashou.

Binne ’n paar sekondes was alles verby – behalwe die oor- en weer geskreeu. Die paar noodhulpmanne op diens (Gerhard Viviers het hulle die “pynpolisie” genoem) het nadergehardloop om te kom help.

’n Handjievol polisiemanne het die skare bietjie probeer terugdruk op die veld om plek te maak waar die beseerdes later bymekaargebring is. Meeste was gelukkig net lig beseer, maar sommige moes sit en ander lê. Sulke oomblikke van menslike teëspoed sit jy moeilik om in woorde.

Toe ek weer kyk sien ek my pa – ek verbeel my hy was nog in sy rugbyklere – by die tonnel uitkom en hardloop om te gaan help. Behalwe ’n skeidsregter was hy natuurlik ’n dokter ook. (Hy het daarvan gehou om te praat van ’n “geneesheer”.) Ek kon dit nie glo nie – daar gaan hy, met ’n dringendheid langs die heining langs die veld af tot onder in die hoek om onbekende beseerdes te help. Dit is nou maar eenmaal soos hy was, en ek is vandag steeds trots op sy optrede in daardie krisisoomblik.

Nodeloos om te sê, ons het dié dag baie laat eers by die huis gekom, maar ek het lekker gaan slaap met die wete dat my pa ’n held was.