Vrou vas na 1 030 Mandrax-tablette in haar huis gevind is

’N 46-JARIGE vrou van Dysselsdorp is Saterdag deur die Dysselsdorp Polisie en buurtwaglede vasgetrek nadat 1 030 Mandrax-tablette en vermoedelik gesteelde rekenaartoerusting in haar huis gevind is.

Die beraamde waarde van die Mandrax is R61 800.

Sy is in hegtenis geneem op klagtes van handel in dwelms en die besit van vermoedelik gesteelde goedere, en het Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het lede van die Dysselsdorp Polisie Saterdag, nadat inligting ontvang is, ’n lasbrief bekom om die vrou se woning in die Heinz View C-blok, in Bokkraal, Dysselsdorp te deursoek. Die 1 030 Mandrax-tablette, toegedraai in kleefplastiek, is in die huis gevind, waarna die vrou in hegtenis geneem is.

Rekenaarkaste wat verbind kan word met ’n onlangse inbraak by ’n plaaslike skool is ook in die huis gevind en deur die polisie gekonfiskeer. (Deur Liesel le Roux)