Hulde na dood van Khoisan-stamhoof

Hoofman Ockert Lewies se oorskot kom by die kerk aan. Foto: Deon Meyer

DIE woorde van die digter Jan FE Cilliers oor gnl De Wet: “Stil, broers, daar gaan ’n man verby, hy groet, en dis vir laas,” het Saterdag (12 Junie) in Amalienstein gestalte gekry in die wyse waarop eerbied betoon is aan ’n ander kryger, die ontslape Khoisan-stamhoof, Ockert Lewies (66).

Lewies het sy aardse reis op Woensdag, 2 Junie 2021, voltooi toe hy in die Alan Blyth Hospitaal in Ladismith oorlede is.
Verskillende sprekers het Saterdag in die Lutherse Kerk op Amalienstein hulde aan die ontslape hoofman gebring. Jeffrey Donson, Icosa-leier, het gesê Lewies was ’n toegewyde lid van Icosa en het hom telkens met sy wysheid verbaas.

Volgens ’n familiewoordvoerder, Randall Fourie, was Lewies ’n kampvegter vir sy volk as eerste nasie aan die suidpunt van Afrika. Fourie het aan roubeklaers gesê dat Lewies sy genetika aan die Universiteit van Stellenbosch laat toets het en dat daar bevind is dat hy 93% Khoi was.

“My oom het ’n voorliefde vir draf gehad, want dit is wat sy voorvaders gedoen het wanneer hulle sou jag. Daarom het Ockert Lewies die bynaam “Geel Luiperd van die Rooi Duine” gekry,” het Fourie onder luide applous gesê.

In sy trooswoord het kommissaris Aaron Messelaar van die Griekwa-koningshuis gesê Lewies het toegelaat dat die Here sy koers bepaal het. “God het Ockert voor presidente en ministers gebring, klou vas aan sy nalatenskap,” het hy aan Lewies se weduwee en kinders gesê.

Rudine February, dogter van die ontslapene, het haar pa as ’n vredeliewende persoon bestempel, en ’n regverdige man.

Haar pa se mantel as hoofman het op Rudine se seun, Shane, geval en hy is by die graf as die nuwe hoofman gekroon toe Lewies se tradisionele drag aan hom oorhandig is. (Deur Deon Meyer)