Eerste Afrikaanse Covid-19-digbundel deur KKNK op Oudtshoorn bekendgestel

Andre Boezak lees ’n gedig van hom voor uit die nuwe digbundel wat vrygestel is.

Die nuwe digbundel. Foto’s: Hans van der Veen

’N EERSTE Afrikaanse digbundel met die Covid-19-pandemie as tema, Maskers en mure, is Vrydagaand (11 Junie 2021) op Oudtshoorn bekendgestel. Die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh was die samestellers.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê dit is vir die fees ’n voorreg om by die publikasie van die bundel betrokke te wees. “Die uitgewers, Hannes Visser en Marlene Malan, kan trots wees op die versameling stemme wat werklik die tydsgees vasvang. Dit is vir ons as fees en ook vir baie van ons borge en donateurs baie belangrik om projekte soos hierdie te ondersteun.”

Maskers en mure is ’n bloemlesing gedigte wat saamgestel is om hierdie tydperk in die wêreld­geskiedenis vas te vang.

Gepubliseerde én onbe­kende digters kon werk voorlê. Meer as 500 bydraes is van ongepubliseerde digters ontvang, asook sowat 80 deur gevestigde digters, onder wie Frazer Barry, Hans du Plessis, Diana Ferrus, Jaco Jacobs, Ronelda S Kamfer, Koos Kombuis, Ma­retha Maartens, Bibi Slippers, Johan Jack Smith en Nathan Trantraal. Uiteindelik is die werk van 142 digters in Maskers en mure opgeneem.

Volgens Daniel Hugo was die reaksie oorwel­digend. “Na die eerste versoek om bydraes het dit daagliks ’n volgehoue stroom inskrywings van oor die hele land geword. Mense van alle ouderdomme en beroepe het ingeskryf. Dit was duidelik dat almal die afgelope jaar van inperking op hul eie, unieke manier ervaar het.

“Niemand kyk deur dieselfde oë na die pandemie en die maande van afsondering nie. Elkeen het dit op hul eie manier probeer verwerk – met óf ontsteltenis, óf optimisme, óf berusting, óf humor. Ek glo die skryf van gedigte is ook ’n manier om te verstaan wat met die wêreld gebeur het. Ons leef almal agter maskers en mure, het min sosiale kontak en daar is ’n streep deur ons daaglikse, doodgewone doen en late getrek. In dié vreemde grendeltyd het ons almal ’n behoefte daaraan om uiting aan emosies te gee. Ons het ook die behoefte om aan ons ervarings van hierdie vreesaanjaende tyd ’n duursame, kreatiewe gestalte te verleen – sodat ons nooit mag vergeet van die stryd waarin die mens en die wêreld die afgelope meer as 12 maande gewikkel is nie.”

Die bundel is uitgegee deur Turksvy-publikasies in samewerking met die KKNK.