Plaaslike honde skitter by skoue

Lea en Boas Olivier, wie se honde verskeie toekennings gewen het, met Lea wat as die beste kinderhanteerder by al vier skoue aangewys is Foto verskaf

360 honde van regoor Suid-Afrika en hul eienaars het die afgelope naweek op Oudtshoorn toe­gesak waar die George Kennel Club en Outeniqua Kennel Club hul skoue aangebied het. Van die groot presteerders was boonop twee jong Oudtshoornie­te, Lea en Boas Olivier, wie se honde verskeie toekennings gewen het, met Lea wat as die beste kinderhanteerder by al vier skoue aangewys is.

As gevolg van die pandemie was die skoue vanjaar nie oop vir die publiek nie, maar was die skoue volgens die organiseerders, Jos en Phillip Van Zijl, weer baie suksesvol.

Plaaslike honde wat by die skoue presteer het, is Lilly, ’n Australiese skaaphond van Melani Par­kin en Christian Nezar van Oudtshoorn, wat die “Australian Shepherd Speciality”-afdeling gewen, terwyl Parkin en Nezar se Australiese skaaphond Hudson ook ’n wenner was. Die Si­be­riese Husky Usher van Mark en Gerla Anderson van De Rust was die “Best in Show” by die George Kennel Club 2-skou deur op twee jaar die bykans onmoontlike te vermag om al die ander honde te klop. Carien Fouché van Oudtshoorn se Billy Jean was ook ’n wenner.