“Om nuwe grond te ploeg en dit dan net so te laat lê sonder om te besaai was nog altyd vir my ’n raaisel,” het Pa gesê terwyl hy sy pyp teen sy skoensool uitgeklop het.
“Onbeboude ruimtes of pleine was nog altyd net die bymekaarkomplek van kwaaddoeners, loslo-pers en booswigte. ’n Mens kort net goeie omheining of behoorlike toesig om hulle buite te hou.”
Pa het soos ’n hoë geleerde mens gepraat en sy aanslag het my met verwondering vervul. Ek stry nie, want ek kon nie die bewondering wat ek vir my Pa gehad het altyd so goed wegsteek nie. “Vir baie mense met goeie ondernemingsgees het braaklande en oop pleine nog altyd die een of ander groot uitdaging ingehou, en goeie oordeel en ’n klein bietjie ondernemingsgees is deesdae skaars.”
Pa het stip voor hom uitgestaar en dit was vir my asof hy onbewus was van die ander gespreksgenote onder die seringboom in ons agtertuin.
“As daar iemand wil opstaan om die bruinmense bymekaar te maak…”
“Daar is geen kortpad na die kruin,” het oom Ben daardie middag opgemerk waar hy en Pa-hulle in die loute van die wintersonnetjie onder die prieël gesit en bak het.
Pa, oom Ben, Boeta Brym en oompie Daat, my ma se neef wat in die army was tydens die Tweede Wêreldoorlog, het oor landsake gepraat.
“Wat bedoel jy Ben,” het Boeta Brym opgemerk waar hy op ’n omgekeerde koeldrankkissie gesit het. Boeta Brym was besig om ’n lemoen te skil. Hy het die vraag gestel so asof hy nie werklik die strekking van die gesprek gevolg het nie. Boeta Brym was altyd ’n man van min woorde en sy opmerking het ons almal verbaas.
“Man, ek praat van nasiebou!” Oom Ben se stemtoon was saaklik.
“Wat is die storie oor nasiebou, Ben?” het oompie Daat hom versigtig tot Oom Ben gewend.
“Jy weet tog ons mense bevind hulle huidiglik in ’n identiteitskrisis en met die storie oor nasiebou besef jy seker dat jy besig is om skoor te soek. Ons weet tog almal dat daar ’n groot groep mense is, veral die geleerde spanne, wat reguit sê hulle is swart. Hulle is net te skaam om te erken dat hulle bruinmense is. Hulle sê mos…”
“Wat sê hulle, Daat?” Pa het oompie Daat skerp aangekyk. “Wat sê hulle, wat wil hulle wees?” Pa het aangedring op ’n reguit antwoord.
“Nee, Boeta,” het oompie Daat apologeties redes probeer aanvoer. “Die oorgrote meerderheid van ons mense sê daar is nie sulke goed soos bruin- mense nie. Hulle sien dit as ’n skelnaam wat deur die duusvolk aan hulle gegee is, omdat hulle nie swart of wit is nie.”
“Nou wat is hulle dan?” het Pa hardkoppig volgehou. “Hulle is mos nie wit nie, en swart is hulle ook nie. Enige mens wat oë het, kan sien dat witmense wit is, swartmense swart en bruinmense bruin is. Daar is ook Indiërs, Portugese, Grieke, Chinese en Jode en geeneen van hierdie genoemde groepe mense stry oor wie en wat hulle is nie. Hoekom moet ons altyd ’n probleem het oor kleur, of gaan dit hier oor ’n gevoel van minderwaardigheid?”
Op daardie oomblik het oompie Arrie, tannie Cornelia, Ma en juffrou Bessie hulle by die groepie onder die seringboom aangesluit.
“Waaroor tob julle weer vanmôre?” het Ma die groepie onder die sering toegeroep. “Hoekom lyk julle so stroef vanmôre? Daat lyk vir my soos iemand wat die wêreld op sy skouers probeer dra.”
“Miskien,” het oom Ben ewe droogweg opgemerk, “miskien is jy reg Ousus, ons is besig om te praat oor nasiebou.”
“Maar dan moet julle nie lyk asof die honde julle kos afgeneem het nie,” het tannie Cornelia ’n stuiwer in die armbeurs probeer gooi. “Ons is dan nou almal deel van die Reënboognasie…”
Pa het tannie Cornelia bruusk in die rede geval. “Reënboognasie se voet. Ons praat spesifiek oor die bruinmense wat ontken dat hulle is wat hul is.”
“Maar, Ouboet,” het tannie Cornelia volhard, “jy moenie so praat nie. Die mense sê sommer jy is etnies as daar gepraat word soos wat ons nou hier praat…”
“Cornelia!” Pa was kortasem van die drif wat in hom opgestoot het. “Is die Indiërs etnies as hulle oor die bestaan van hulle eie mense praat, is die Jode, die wit- of die swartmense? Hoekom moet dit net altyd na ons kant toe vinger gewys word as ons oor die waarheid praat? Jy moenie namens ander mense vir my kom staan en preek nie. Praat vir jouself en van jou eie. Jy is mos bruin, of wil jy dit ontken, Cornelia? Toe, sê vir my wat is jy?”
“Ek wil maar net ’n mens wees, Boeta. ’n Mens wat deur ander mense gerespekteer word vir wat ek is…”
“En wat is jy Cornelia?” het oompie Arrie geamuseerd opgemerk. “Watter soort mens is jy? Kyk na die kleur van jou vel en dan sê jy vir my, toe sê nou vir my?”
Tannie Cornelia het haar skouers opgehaal en na Ma gekyk asof sy verwag het om ondersteuning uit daardie oord te kry.
Ek het die duiweltjies in Ma se oë gesien dans.
“Cornelia,” het Ma gesê: “Antwoord vir Arrie. Hy praat met jou. Hy het ’n vraag aan jou gestel en hy verwag ’n eerlike antwoord van jou.”
“Natuurlik is ek bruin, Arrie,” het tannie Cornelia, oompie Arrie se vraag beantwoord.
“Dis wat ek wou hoor,” het Pa triomfantlik kommentaar gelewer en sy kromsteelpyp opgesteek. “’n Mens moenie wegskram van dit wat jy is en wie jy is nie. Om te ontken is soos om jouself en jou identiteit te verloën. Dit is wat ons die heeltyd besig is om te doen. Ons dink ons kan van die werklikheid af weghardloop en dit is onmoontlik, want om te stry is om teen die wind te spoeg. Dit is hoekom ons vandag nog nêrens is nie. Ons bly verdomp die Marmite tussen die twee snye brood. Dit sal ons altyd bly as niemand vir ons intree nie.”
Pa het nadenkend aan sy pyp gesuig en dit was duidelik dat hy half uitgepraat geraak het oor die onderwerp van nasiebou. Dit was vir my, of altans die indruk wat ek gekry het, of Pa hom so half-en-half van die onderwerp af onttrek het.
Ma het die koffie ingebring en almal het in stilte koffie gedrink en van die toebroodjies geeët.
Dit is weereens oom Ben wat die onderwerp verder geneem het. “As daar net iemand is wat wil opstaan. Iemand wat nie bang is om te praat nie. ’n Ware leier wat nie sal skroom om in te staan vir ’n groep verdrukte mense nie.”
“Wil jy my sê daar is niemand nie, Ben?” het tannie Cornelia geteem.
“Nee Cornelia,” was oom Ben se besliste kommentaar. “Die leier wat kan instaan, is net te ingat. Hulle word in hoë posisies opgeneem en sodoende ontman. Hulle word ambassadeurs, parlementslede, voorsitters van komitees en ander hooggeplaastes. Jy sal sien hulle is die sameroepers van al wat ’n forum is wat daar te bedink is – munisipaliteite de lot, en as hulle eers daar is, is almal alles behalwe bruin. Dis hoekom ek praat van die braakland. Niemand sien kans vir die braakland nie. Daar is niemand wat gewillig is om te ploeg of te saai nie. Almal wil alles gaar hê, verstaan jy Cornelia, niemand sien kans om die moue op te rol en die hand aan die ploeg te slaan nie.”
Oom Ben was kortasem van die opgekropte spanning, en die ingehoue emosie het sy nekare laat swel. Hy het na die mense onder die sering gekyk asof hy hulle die eerste keer sien. Dit was ineens baie stil onder die sering in die agterplaas.
Pa het die stilte verbreek toe hy ewe kalm opgemerk het: “Kyk hoe het ons die brûe agter ons afgesny het deur oneerlikheid. Ons het stewige basisse prysgegee. Die United Democratic Front, die Kerk, en kerkskole wat die sterkste samebindende faktore was. Hier het bruinmense in groot getalle saamgewerk en saamgetrek. Hierdie instellings is op berekende wyse van die eie identiteit ontneem. Die Boskollege was die destydse skeldnaam vir die U.W.K., ’n kamstige etniese universiteit, so ook was die Pentek met voorbedagte rade gediskrediteer en nou, nou voel jy kompleet soos ’n ‘boarder’ in jou eie huis.”
“Sal die Here tog nie iemand stuur om in te tree vir die bruinmense nie,” het boeta Brym gesug.
“Ek sien niemand wat hierdie rol kan vervul nie,” was oompie Daat se kommentaar.
“Maar is daar regtig niemand nie?” Tannie Cornelia se stemtoon was baie mistroostig. “Wat van die meester, die predikant en die prokureurs? Ons het dan hope van hierdie mense!”
“Cornelia!” het oompie Arrie tannie Cornelia tot halt geroep. “Het jy dan nie vanmôre gehoor wat Boeta gesê het nie, en ek stem met hom saam. Hierdie mense is net te ingat. Hulle is te bang om hulle nekke uit te steek. Hulle is te bang hulle posisies kom in die gedrang en boonop glo hulle die mense sal hulle afskryf as hulle die idee van bruin-mense as ’n werklikheid, die bestaan van die bruinmense as ’n bevolking, gestalte te laat kry.”
Oompie Arrie het met ’n vreemde vurigheid gepraat. “Jy sien Cornelia, almal soek posisie, en nou praat ek spesifiek van die intelektuele groepe, die goeies uitgesluit. Sodra hy hierdie posisie het, raak sy stem stil en dan is hy of sy net swart of net wit. ’n Skande, sê ek vir jou Cornelia, ’n Godskreiende skande. Maar ek sê vandag vir jou hulle kan maar so inkruip, maar hulle sal nog ontdek, as jy eenmaal in ’n ou se agterent ingekruip het, moet jy kruip tot daar waar die maaiers sit. Kom ek sê vir jou Cornelia, en onthou ek is nie bang om dit te sê nie: ek vrek eerder voor ek by enigiemand inkruip of gatlek vir ’n posisie of roem sonder dat ek myself kan verdedig voor die ge- meenskap”.
“Hoe gaan ons verenig as mense te bang is om te sê wie en wat hulle is, Arrie?” het oompie Daat sommer so kort van die heup af gekorrel.
“Net hy sal weet, Daat. Ek is vandag skoon dom. Dit voel vir my ek word dommer by die dag.” Oompie Arrie het swaar gesug.
Ek het oompie Arrie vir die eerste keer moedeloos gesien en ek het half ongemaklik gevoel, want sy optrede was so half vreemd vir my.
“Ag ja, Here,” het Pa kliphard gesug. “Bruinman se kind, jy kan maar boeke toemaak en tel.”
Pa se stelling het my laat wonder. Ek was in die duister, want die geboeketoemaak en die tellery het my net verder verwar. Ek kon maar net my eie afleidings maak, maar ek wou nie sê wat ek vermoed het nie, ek het egter die strekking van stelling gerespekteer.
“Boeta,” het oom Ben hom tot Pa gewend. “Ons praat so ernstig oor nasiebou, maar ek sal graag wil weet hoe ernstig is ons oor hierdie saak.
Ons praat van braak en nou vra ek vir jou Boeta: Wie is bereid om sy hand aan die ploegstert te slaan? Almal kla omdat daar niemand is wat namens die bruinmense praat nie, maar niemand het die ‘guts’ om self agter die ploegstert te loop nie. Jy sien Boeta, ons het al die elemente wat nodig is om ’n politieke eenheid te vorm. Daar is byvoorbeeld die taal, godsdiens, kultuur, politiek en boonop is ons as ras ’n biologiese eenheid wat nie weggewens kan word nie.”
Ek het verras na oom Ben gekyk en toe na Pa. Die selftevrede glimlag op Pa se gesig het my oortuig dat oom Ben se uitleg oor wie en wat ons is, so in sy kraam gepas het.
“Jy sien Ben,” Pa het afgemete gepraat. “Die wyse waarop ’n mens ’n ding inmekaar sit of saamstel, is bou. Om te bou is byna soos om ’n kunswerk saam te stel. Dit sit nie in enige mense se broek om te bou nie, veral nie as dit kom by die bou van ’n nasie nie, want hier gaan dit oor die samestelling van steun, vertroue, verhoudings, vriendskappe en die omskepping van teorieë in werklikhede. Jy moet verstaan Ben, dit baat nie ons geleerde vriende en die mense wat in die politiek opgeneem is, praat oor hulle drome, planne en ideale en hulle doen niks aan die braakland nie. Kyk hoe lankal het die slim mense gebraak en hulle het dit netso laat lê. Daar is nog niks gesaai nie, die omheining ontbreek en waar is hulle?
“Hulle bevind hulle op landerye wat reeds be-werk is. Dit sê vir my hulle verkies ’n makliker pad. Hulle wil leiers wees op terreine waar hulle sonder inspanning kan werk.”
“Kan jy nou sien Boeta,” het oom Ben Pa aangevul. “Dit is waarom ek gesê het daar is geen kortpad na die kruin nie. Ek sê vir jou Boeta, die leier wat iets gaan doen met die braakland, gaan die kleurlingvolk verenig.”
“Sal die Here dit tog nie so beskik dat daar iemand sal opstaan soos ’n Simson van ouds, wat vreesloos onder die Filistyne sal inklim of soos Ester wat op ’n onverskokke manier die saak vanhaar mense by die koning gaan stel het.”
Almal het na tannie Cornelia gekyk. haar versugting was ’n openbaring. Ma het skielik opgestaan. Sy het haar voorskootbande gestrik sonder om ’n woord te praat. Sy het veelbetekenend na tannie Cornelia gekyk en toe half tot haarself gesê: “Moenie laat ons wen nie mense, onthou, van sit en staan kom niks gedaan.”
Sy het die leë koffiekoppies bymekaar gemaak en daarmee kombuis toe gestap.