JEANNE NEL, ’n bekende en ’n geliefde inwoner van Oudtshoorn, is Sondagoggend, 31 Januarie, in die rype ouderdom van 90 jaar in haar woonstel in Adderleystraat oorlede.
’n Gedenkdiens word om 11:00 op Vrydag, 19 Februarie, vir haar in die Baptiste Kerk in Parkstraat, Oudtshoorn, gehou. Covid-19-protokols sal streng gevolg word met net vyftig mense wat by die diens toegelaat word.
Jeanne is die ma van Pierré André Nel, ’n voormalige speaker van die munisipale raad van Oudtshoorn. Haar man, Madoc, het haar op 12 Junie 2017 ontval.
Pierré sê sy was ’n liefdevolle, innemende en toegewyde moeder en ouma. Jeanne word ook oorleef deur ’n dogter, Jeanine Greenberg van Johannesburg, drie kleinkinders, Tarryn, Daniel en Joshua, asook twee agterkleinkinders, Mirella Rose en Jayden.
Jeanne, ’n nooi De Villiers, is op 31 Augustus 1931 in Durban gebore. Ná skool is sy as verpleegster opgelei en was lank aan die Johannesburg General Hospitaal as verpleegkundige verbonde.
Pierré vertel Jeanne het Madoc in 1953 in die hospitaal ontmoet nadat hy met ernstige brandwonde in die hospitaal opgeneem is. Sy het hom 10 maande lank so toegewyd versorg dat hy haar daarna gevra het om te trou.
Hulle is toe in 1954 in die huwelik bevestig.
Hulle het enkele jare later na Zambië verhuis waar Madoc as telekommunikasiekundige ’n goeie pos aangebied is.
Nadat hulle teruggekeer het Suid-Afrika toe, het hulle op Oudtshoorn kom woon waar Jeanne 30 jaar lank in die bestuur van die ACVV Gotlandhuis gedien het.
Sy was in 1992 ’n stigterslid van die DA op Oudtshoorn en het jare lank as lojale lid getrou steun vir die party gewerf. Veral toe haar seun raadslid geword het, het sy en Madoc hom toegewyd gehelp met stemwerwery.
Tydens verkiesings het sy altyd kiesers by die DA se tent verwelkom. Sy het ook gereeld raadsvergaderings bygewoon.
Jeanne was by baie mense bekend vir haar smaakvolle kleredrag en wye verskeidenheid hoede. Sy het nooit sonder ’n deftige hoed in die openbaar verskyn nie.
Pierré sê hy is dankbaar dat hy sy moeder tot met haar afsterwe in haar eie woonstel kon versorg en dat sy nie weens die Covid-19-pandemie êrens afgesonderd in ’n kliniek hoef te gelê het nie.
Geliefde Jeanne Nel oorlede
Jeanne Nel