DIE Eljada-Kairos Skool in Oudtshoorn het op
1 Februarie vanjaar ’n nuwe adjunkhoof verwelkom, ’n man met hegte onderwysbande in Oudtshoorn en die Klein Karoo.
Hendri Calitz is oorspronklik vanaf Sasolburg en het sy opleiding aan die Universiteit van Potchefstroom voltooi. Na tien jaar se onderrig in London het hy en sy gesin teruggekeer na Suid-Afrika om hulle loopbane hier naby hul familie voort te sit.
In 2014 het Hendri by ’n klein plaasskooltjie op De Hoop, Uniondale begin skoolhou waarna hy by Uniondale Hoërskool aangesluit het. In 2017 het hy by die Oudtshoorn Vaardigheidskool-span aangesluit.
Buiten sy loopbaan as opvoeder het Hendri ’n groot hart vir liefdadigheid. Hy is die voorsitter van die plaaslike Vryburgers-diensorganisasie. Hy leef sy liefde vir sport en die buitelewe uit deur stokperdjies soos visvang en jag.
Hendri is getroud met Phoebe Calitz (Wannenburg) en hulle het drie kinders, Hennie (10), Albie (7) en Johanie (2).
Phoebe werk ook by Eljada-Kairos as leerondersteuner-adviseur in die inklusiewe onderwysspan. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Eljada-Kairos kry nuwe adjunkhoof
Die Calitz-gesin is van links Hennie en Johanie, Phoebe, Hendri en Albie. Foto verskaf