Kanker kry Japie Coetzee nie onder nie

Japie Coetzee (bo) en van sy dasse wat hy vir die Kansa-huis wil verkoop.

Groot blydskap oor Toy for Joy Projek – nog ’n Japie Coetzee-inisiatief

Die Oudtshoorniet Japie Coetzee het verlede jaar nog ’n verdienstelike projek geloods – die Toy for Joy-projek waardeur speelgoed in ’n goeie toestand waarmee kinders nie meer speel nie, geskenk word en dan gaan na kinders wat nie speelgoed het nie. Die Hoorn vat graag hande met Japie Coetzee om dié mooi projek te laat voortduur. Daar is ’n gemerkte boks in ons kantoor waarin sulke intems geplaas kan word. Stap net deur PostNet tot binne Die Hoorn.

TWEE dekades gelede is kanker by hom gediagnoseer. Hy was platgeslaan en in sak en as.

Maar Japie Coetzee (74), ’n moderne Samaritaan, het besluit om nie in sak en as te gaan sit nie en eerder sy dankbaarheid teenoor sy Skepper te toon deur ander se lewens draagliker te maak.

Meester Japie vertel: “Ek was plat, ja, maar my vrou, Jane, het my ondersteun en danksy haar en my Skepper is ek vandag ’n kankeroorwinnaar. Hier­na het ek op my eie begin woel in my gemeenskap met verskeie gemeenskapsprojekte, soos Die stryd vir gestremdes, Toy for joy, en Die Bejaardesentrum.”

Kanker het egter hierdie onbaatsugtige, mee­lewende man agtervolg en selfs in die Covid-tyd moes hy nog ’n skok absorbeer.

“Verlede jaar op 21 September het kanker my steunpilaar, Jane met wie ek 49-jaar getroud was, kom eis. Jane moes altyd by die Kansa-huis in George oorbly as sy vir behandeling gaan. Dit was haar droom om hierdie huis op te gradeer.

“Dit is iets waarmee ek nou voortgaan. Ek is tans besig om geld in te samel vir die huis. Ek begin by myself en wil nou al die goed wat in die garage staan, verkoop en die geld vir die Kansa-huis skenk.”

Unieke items soos die geliefde naaimasjiene van sy vrou gaan nou verkoop word. Meester Japie wat onderwyser was vir ongeveer vier dekades, wil ook nou daardie dekades se 100de dasse verkoop – iets wat veral groot byval vind by kopers wat ’n aandenking van hierdie merkwaardige man wil hê.
Coetzee kan geskakel word by 082 598 7273. (Deur Deon Meyer)