Pastoor kry 40 jaar tronkstraf vir verkragting

’N GEESTELIKE leier van Dysselsdorp wat aan verkragting van ’n tweeling in sy kerk skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof vir 40 jaar tronk toe gestuur.

Past Freddy Jaftha (50) het die dade met die tweeling in 2017 en 2018, vandat hulle 16 jaar oud was, gepleeg. Sy getui­enis in die hof sowel as dié van sy vrou is deur die hof as leuenagtig verwerp.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het in haar voorvonnisbetoog gesê dat die belang van die gemeenskap sterk na vore kom en die twee slagoffers vir die vonnisverrigtinge hof toe gekom het om afsluiting te kry.

Verswarend vir vonnis is dat Jaftha die kinders se geestelike leier was wat sy vertrouensposisie misbruik het en hulle steeds traumatiese ervarings beleef.

Jaftha se regsverteenwoordiger, adv Stephan Lourens, het die hof versoek om in ag te neem dat hy nie ’n baie gesonde persoon is nie, sy gesin se enigste broodwinner en ook nie meer jonk is nie.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit is skokkend dat Jaftha as ’n pastoor die dade met die kinders gepleeg het en elke keer gesê het dat dit die Here se wil is.

Hy het die kinders belowe dat hy hulle sal gesond kry en hulle het hom geglo.

Hy het gebid en hulle met olyfolie gesalf. Hy het dan sy vingers in hul geslagsdele gedruk en gesê dat hulle hulle by die huis moes gaan uitwas en vir niemand moet vertel nie. Jaftha het ook een van die twee susters haar skoolklere in die kerk laat uittrek en ge­slagsgemeenskap met haar op ’n mat gehad. Die een suster het aanvanklik nie geweet wat die be­skuldigde met die ander gedoen het nie.

In hul impakverslae sê hulle dat hulle nooit kon dink dat hulle hul maagdelikheid op dié manier sou verloor nie.

Jaftha toon ook geen berou nie en die twee susters het deur geweldige trauma gegaan terwyl die een selfs aan selfmoord gedink het.

“Die hof moet met vonnis ’n boodskap uitstuur dat dié soort misdade swaar gestraf sal word. Die wreedheid en afskuwelikheid teen­oor kinders en vroue is onaanvaarbaar,” het Boks gesê.

“Verkragting het ’n kanker in ons gemeenskap geword.”

Die hof het gelas dat Jaftha naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.

Die tweeling se pa het na die hofsaak sy tevredenheid met die vonnis uitgespreek en gesê die familie is bly die saak is uiteindelik agter die rug. (Deur Garnett Wicomb)