Koste om van Eskomnetwerk af te gaan

Dit is Vrydag en weer eens begin Eskom met beurtkrag vir die hele naweek. ’n Mens se bloed wou net-net begin kook totdat jy lees Eskom beplan om die tariefstruktuur van 1 April 2021 te verander. Toe is die vet in die vuur. Nou raak sonkrag ’n alternatief om van die netwerk af te kom.

Eskom se nuwe tariefstruktuur
Eskom het sy nuwe tariefstruktuur aan Nersa (Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika) voorgelê. Eskom beoog om die huidige tarief te verander na ’n vaste koste- en veranderlike koste-struktuur. Die vaste koste sal bestaan uit ’n volumetriese gebruikkoste sowel as ’n vaste daaglikse netwerkkoste wat onafhanklik is van gebruik. Die huidige koste per eenheid dek reeds hierdie koste.

Nou vra jy wat maak dit saak. Dit maak saak vir diegene wat reeds sonkrag gebruik en net aan die Eskomnetwerk verbind is vir die dae wat hulle nie sonkrag het nie. Dit beteken hulle gaan ekstra moet opdok om aan die Eskomnetwerk verbind te wees, al gebruik hulle geen elektrisiteit nie. Selfs die gebruikers wat reeds op die broodlyn leef en skaars krag kan bekostig, gaan nou verder belas word.

Eskom vra ons moet krag spaar, maar as ons dit doen, wil Eskom ons straf met groot verhogings in tariewe om hul inkomste konstant te hou.
Hopelik sal Nersa dit nie toelaat nie.

Nou kan ’n mens eers uitkom by wat saak maak. Wat kos dit om jou huis van die netwerk af te kry en net op sonkrag staat te maak.
Die som begin met die hoeveelheid krag (kWh) wat jy maandeliks gebruik.

Hier is 3 voorbeelde:
Voor jy begin, doen navorsing en kry vir jou ’n betroubare verskaffer/installeerder.

Volgens Eskom gebruik die gemiddelde huis-houding in Suid-Afrika 30 kWh per dag. Dit werk uit op 900 kWh (eenhede) per maand. Oudtshoorn se koste vir 900 eenhede is R1 944 (900 x R2.16) dit is sonder die ampere-heffing.

30-eenhede-per-dag-stelsel
As aangeneem word dat 70% van die gebruik gedurende die dag plaasvind, laat dit ons met 9 kW wat gedurende die aand gebruik word en moet jy gevolglik ’n battery of batterye hê wat jou die hele nag hou. Om 30 kW per dag te lewer, gaan jy die volgende benodig:

• 14 x 390 kW sonpanele wat saam R29 890 kos;
• 2 x 5 kW inverters teen altesame R25 530;
• 1 x 9.6 kW battery teen R60 800; en
• Kabels ens teen sowat R10 000.

Totale hardewarekoste beloop dus sowat R103243. Dan moet die installasiekoste by kom.

20-eenhede-per-dag-stelsel
Die groot meerderheid van huishoudings gebruik minder as 30 eenhede per dag. Om die berekening te vergemaklik, word 20 eenhede per dag gebruik om hierdie stelsel se prys te bereken. Elektrisiteitskoste op Oudtshoorn beloop R1 296 (600 eenhede x R2,16) sonder die ampere-heffing.

As die 70/30 aanname (70% dag/-30% nag) weer gebruik word, is dit dus 14 eenhede in die dag en 6 eenhede in die nag.

Om 20 kW per dag te lewer gaan die volgende benodig word:
• 8 x 390 kW sonpanele teen altesame R17 080;
• 2 x 5 kW inverters teen R25 530;
• 2 x 3.5 kWh Lithium-Ion batterye teen altesame R36 980; en
• Kabels ens teen sowat R8 000.

Totale hardewarekoste beloop dus R87 590. Dan moet installasiekoste nog bykom.

10-eenhede-per-dag-stelsel
Elektrisiteitskoste op Oudtshoorn beloop R648 (300 eenhede x R2.16) sonder die ampere-heffing.

As die 70/30 aanname (70% dag/-30% nag) weer gebruik word, is dit 7 eenhede bedag en 3 eenhede snags.

Om 10 kW per dag te lewer, gaan jy die volgende benodig:
• 5 x 390 kW sonpanele teen altesame R10 675;
• 1 x 5 kW inverter teen R12 765;
• 1 x 4.8 kWh Lithium-Ionbattery teen R28 175; en
• Kabels ens teen sowat R5 000.

Die totale hardewarekoste beloop R56 615 wat installasiekoste uitsluit.
Nie een van dié stelsels is gemaak om geysers en stowe te trek nie. Nog ’n aspek wat ingedagte gehou moet word, is die oppervlakte wat die sonpanele gaan opneem en of daar enige obstruksies soos bome ens is.

Dit is bekend dat geysers van 30% tot 50% van daaglikse elektrisiteits-verbruik uitmaak. ’n Paar berekeninge toon aan dat by opsie 1 kan 12 eenhede per dag afgetrek word, wat jou dan ’n kleiner stelsel besorg. So kan ’n mens aangaan. Opsie 2 gaan jou 8 eenhede per dag spaar en opsie 3 gaan jy 3 of 4 eenhede spaar.

Let wel: hierdie is net ’n aanduiding van kostes. Die hardewarekoste is verkry van ’n aanlyn sonkragmaat-skappy se webtuiste. Kabels ens is net ’n beraming. Jy moet die koste van ’n gasstoof, sonkraggeyser/gasgeyser ook nog bytel om die werklike koste te bereken om van die netwerk af te gaan. As jy nog ou yskaste en vrieskaste het, sal jy moet kyk om nuwes aan te skaf met ’n AAA+ ­energiegradering. Deur LED-ligte te gebruik gaan jy nog meer spaar. (Deur Heinrich Bosman)