Drie groot dankies
Dit is reeds geruime tyd my voorneme om aan ons plaaslike koerante ’n versoek te rig vir ’n indiepte-ondersoek na die eindelose lang rye mense wat daagliks vanaf die Poskantoor, op in Hoogstraat tot op die hoek van St Saviourstraat, en onlangs selfs af in St Saviour- tot by Baron van Reedestraat toustaan. Vir wat? Vir ’n skamele R350 se Covid-geld? Is dít hoe die owerheid die mense verslaaf om vir die ANC te stem, anders? Wens daar wil ’n wiskundige/statistikus die berekeninge (probeer) maak om te bewys dat daar werklik so baie mense in die Groter Oudtshoorn woon. Dit kan tog nie Sassa-geld wees nie, want dit word na my wete slegs een keer per maand uitbetaal. Dié mense staan elke liewe dag in lang rye. Genoeg agtergrond. My eerste dankie gaan dus aan die plaaslike koerante wat dié toestand ter perse gebring het.
My tweede dankie gaan aan Johan Strasheim vir sy eerlike, opregte en gevoelvolle skrywe oor hul lieflinghondjie Milo vir wie hulle na 11 jaar met die nodige liefde en deernis van haar pynlike aardse bestaan, noodgedwonge, moes verlos. Meeste van ons ken die hartseer en pyn, want ons moes ook reeds daardie onbenydenswaardige besluit met die nodige verantwoordelikheid en deernis neem. Ek salueer u vir u moed om u gevoelens met ons as lesers te deel. Dit is, soos u dit noem, die dood van ’n geliefde lid van die gesin en laat ’n groot leemte in die huis, veral as jou eie mens kinders reeds uit die huis is.
My derde groot dankie aan ons geagte burgemeester, Chris Macpherson. My indruk is dat ons vir die eerste keer in ’n baie lang tyd, ’n burgemeester het wat dinge sien en ervaar soos dit werklik is … en bereid is om daadwerklik iets daaraan te wil doen om dit wat verkeerd en lelik is, reg te stel. Mag sy mederaadslede hom die nodige opregte, entoesiastiese steun gee! Doe so voort asseblief! Ons bid vir u en die hele Raad.
– Pieter Conradie, Oudtshoorn