Die besemkas in my brein

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

Dis dalk omdat my brein altyd iewers anders besig is as ek veronderstel is om die onthougoed daar te bêre, maar my onthouboksie is heel hol.

Ek weet nie waar my handsak is, waar ek my sleutels gebêre het, of dat ek vanoggend ’n tandartsafspraak ge­had het nie. Ek kom by die winkels; dan vergeet ek wat ek daar kom koop het, en bêre soms die koffieblik in die yskas en die botter in die kas langs die Earl Grey-tee. Ek weet nie meer waar ek orals verlede week was, wat my eerste kar gekos het, hoe my kind gelyk het op haar eerste verjaardag nie. Ek weet ook nie meer hoe my kamer op skool gelyk het, of watse kleur die voordeur van my eerste huis was nie. Als weg.

Ek vermoed my brein het daai ge­heueholte gevat en vol pragtige bolle wol, mooi muurkleure, kamerapaadjies, stringe krale, lekker resepte en ou wiele gepak, amper soos ’n deurmekaar besemkas, maar in my brein.

Maar daar is ’n onthouplekkie dus­kant my hart waar ek onthou hoe alles gevoel het wat eens deur my hart en ore daar gebêre is.

Ek weet presies hoe voel Namibië se grenspos as mens uiteindelik daar aan­kom en die 4×4’s teen die rivierwalle opgetrek staan.

Ek onthou hoe dit voel om kind te wees in ’n langpadkar waar ek altyd regs agter gesit het, en met my pa se krulhare gespeel het terwyl ons Glory Glory Halleluuuuja sing.

Ek onthou mamma se mooi as hulle uitgegaan het, hoe haar hoëhakskoene geklink het as sy kom groet het, haar nagsoen-lipstick gevoel en haar Chanel no 5 geruik het wat met pappa se lank­spaar-krismisboks-studentegeld gekoop is.

Ek onthou hoe ek myself van buite bekyk het op my boetie se begrafnis, en gewonder het wanneer ek weer in my lyf gaan inkom waar ek sal begin voel en nie net waarneem nie. Ek onthou grootmensmusiek wat ver speel terwyl ons spookstories vertel, helder Nami­bië-sterre terwyl Vangelis deur die woes­tynnag weergalm. En ouma se vet-en-stroopbroodjies, kaalvoet in Keetmanshoop se strate swembad toe loop, krakies in die grond soek en grawe vir ’n nxamas, en oupa se kuggie as hy pyp rook.

Ek onthou hoe al die mense van my verlede my laat voel het. En hoe die vreemde oom by die mark se oë geblink het terwyl hy verduidelik het van sy seun. En die spesiale bêre van my Lielie se stem wat my uit ’n koma uit sal kan gaan haal. En die voel van my Adi se seekat-klem-seuntjielyf wat asseblief net nooit ooit groot mag word nie. Ek onthou die gevoel van als.

En so gaan ek voel-voel deur die lewe. Al vergetend. Al laat. Al deurme­kaar. Meestal wild geklits.
Met ’n besemkas in my brein, en ’n onthoukas vol voeljuwele langs my hart.