Kan iemand dalk verklaar hoekom net sekere strate deur munisipale werkers gevee word? (Berig op bladsy 2 waarin verduidelik word hoe die munisipale skoonmaakspan werk. – Redakteur)
*****
Die taxi drivers (handjievol goeies uitgesluit wat jy op jou vingers kan tel), moet regtig leer wat padreëls is asook respek, want dit ontbreek dikwels. Of weet hulle nie daar is iets soos padreëls en respek vir mede-padgebruikers nie? Hulle maak asof die paaie aan hulle behoort. Hulle jaag en steek ander voertuie verby om vir hul base geld te maak en stel so ander onskuldige mense se lewens in gevaar… En dan is hulle nog arrogant ook. So taxi-base, praat asseblief met jul drywers, want agter jul rûe is dit hulle taxi’s…
*****
Ek ry vroegoggend. Tot my skok sien ek vroumense op twee verskillende plase besig om te plant in landerye waar die ryp spierwit lê. Nou vra ek myself: Het sekere plaasboere dan geen hart nie. Hoe pyn daardie mense se hande nie? Moenie die arme mense se menswees so disrespekteer nie. Sal jy as eienaar van daardie plase so vroeg in landerye goed plant? Dit is onmenslik om jul arbeiders so te behandel. Plaas ’n slag julself in hul skoene. Hoekom nie die mense bietjie later laat inval en later uitval nie? Dit beteken nie dat die arbeiders wat verleë is om geld te verdien misbruik hoef te word nie.
*****
Daar is ’n paar motorfiets-parkeerplekke op die dorp (Oudtshoorn) waarvoor ons dankbaar is. Die parkeerstrepe lê egter soms verkeerd. Omdat ’n motorfiets nie ’n trurat het nie en soms te swaar is om agteruit uit ’n parkering te stoot, is die algemene gebruik om effens verby te ry en dan agtertoe in die parkering in te stoot sodat vorentoe uitgery kan word. Daar word nooit reguit in ’n parkering ingery nie. Stef.
*****
Ander mense wat nie eers hier naby woon nie, laai sowaar hul swartsakke met vullis voor St Tropez se woonstelle af. Die vullissake is al vanoggend verwyder. Moet dit dan nou vir die volgende agt dae op hierdie sypaadjie lê om weer rondgestrooi te word? Dis mos nie reg nie. Engee
*****
Wat die water uit reservoirs by Zeelandsnek betref: Hoekom ’n kanaal maak as die onderhoudsafdeling weet wat die probleem is? Die probleem blyk geen of min belangstelling deur die onderhoudafdeling in die verlede. James Stokes