Deur Liesel le Roux
Hoewel dit sedert Saterdag snerpend koud in die Klein Karoo was, het dit nie die opwinding laat afkoel waarmee voornemende sneeukykers die week in toue na die Swartbergpas gery het om “sneeu te gaan kyk” nie.
En dit maak nie saak hoeveel winters ’n mens al beleef het nie; hoe lank jy al in die omgewing woon nie; hoeveel keer jy al die nat sneeu-ys onder jou voete of in jou hande gevoel het nie. As die Swartberge wit word en lyk of handevol versiersuiker daaroor uitgestrooi is, is dit nie maklik om weg te bly nie. En, ja, die motors met sneeukykers het van oral gekom – van George en Mosselbaai en elders langs die kus, maar daar was ook voertuie met CA- en Gauteng-nommerplate van waarskynlik vakansiegangers in die streek.
Dit reën toe ons Sondag laatoggend by die begin van die pas aanland. Die wit sneeuprentjie van Kobus se Gat vroeër die dag op Facebook is weggereën en slegs klein hopies sneeu lê langs die pad tussen die Karoobossies.
Maar dis duidelik ’n ander storie hoër op teen die berg.
Diegene wat die nat en gladde pad teen die Swartbergpas uit aandurf, kom met sneeumannetjies op die motor se enjinkap en foto’s van sneeutonele terug.
Ons besluit om nie die pas aan te pak nie; ons weet hoe besig en uitdagend die pas op sulke dae kan word.
En toe ons terugry stuur Google Maps inderdaad vir my ’n waarskuwing op my selfoon van ’n “verkeersknoop” op die R328 – dit is nou die pad oor die Swartberge. Ja, ’n sneeu-verkeersknoop in die Klein Karoo.
– Liesel le Roux

So het dit Sondagoggend by Kobus se Gat aan die voet van die Swartbergpas gelyk. Foto Facebook