Die Arlington Begraafplaas

Deur Johan Stasheim

Die Fureys sing ’n liedjie met die naam “Green fields of France” oor die baie soldate wat geval het in die Eerste Wêreldoorlog in Europa en daar begrawe lê. Dit begin met die woorde:
Oh how do you do, young Willy McBride,
Do you mind if I sit here down by your graveside,
And rest for a while in the warm summer sun,
I’ve been walking all day, and I’m nearly done.
And I see by your gravestone you were only nineteen,
When you joined the great fallen in 1916.

Die liedjie praat van geliefdes wat agterbly en alles wat so eindeloos sinneloos aan oorlog is in die groter prent­jie. Wat veral treffend is, is die deel van die lied met die woorde:
And I can’t help but wonder, oh Willy McBride,
Do all those who lie here know why they died,
Did you really believe them when they told you the cause,
Did you really believe that this war would end wars.
Well the suffering, the sorrow, the glory, the shame,
The killing and dying it was all done in vain,
Oh, Willy McBride it all happened again,
and again, and again, and again, and again.

Ek dink aan die duisende jongmanne wat in ons eie land se oorloë oor die eeue gesneuwel het, maar die beeld wat dadelik en sterk in my geheue opskiet, is dié van die Arlington Militêre Begraafplaas in Virginia net oorkant die Potomacrivier buite Washington DC, in Amerika. Die plek is ook ’n toeriste-aantreklikheid – dis maar hoe ek ook die eerste keer daar uitgekom het.

Die 253 hektaar begraafplaas het meer as 400 000 grafte van soldate wat in ’n klomp oorloë of aktiewe diens in uniform gesterf het die wêreld oor – so lank terug soos die Amerikaanse bur­-ger­oolog, die twee wêreldoorloë, die oorlog in Korea en natuurlik die lang uitgerekte oorlog in Viëtnam en meer onlangs die konflikte in Irak en Af­ghanistan.

Daar is ook die grafte van ’n aantal bekendes – onder andere presi­dent John F Kennedy en sy vrou Jackie, en sy twee broers – senatore Ted Ken­nedy en Robert Kennedy. JFK se graf is bekend vir die ewigdurende vlam wat daar brand. Alles is baie smaakvol en stylvol uitgelê.

Waarom staan dié begraafplaas vir my uit as een van die mees indrukwek­kende plekke wat ek nog ooit besoek het? Bygesê, ek was al drie maal daar en dit bly elke keer so indrukwekkend soos die eerste keer.

Almal wat die kans kry, moet daarheen gaan; dit is die moeite werd.

Die plek is statig, ongelooflik netjies en perfek in elke opsig. Die derdui­sende enerse wit grafsteentjies is uitgelê in perfekte simmetrie en perfekte reguit rye met die groenste gras tussenin, netjies onderhou. Jou oë gly onwil­lekeurig af op die rye en rye graf­- stene wat in alle rigtings perfek opgelyn is op soek na die een wat skeef of uit lyn uit is. Jy sal dit nie kry nie.

Die graf van die onbekende soldaat is ’n gedenkteken (“memorial”) op ’n heuweltjie wat uitkyk oor Washington en 24/7 onder bewaking van ’n paar seesoldate is. Dié manne is vrywil­ligers en volg ’n ongeloofglike presiese roetine van akkurate drilwerk heen en weer by die reuse marmer-grafsteen. Perfeksie – van die uniforms, gesigs­uitdrukkings, drilbewegings … alles.

Kyk jy verder sien jy die imposante staatsgeboue wat so eie en tipies aan Washington is. Reuse wit marmerstrukture wat perfek onderhou word. Dié beelde bly my altyd by en spreek vir my boekdele van dit wat so eie aan Amerika en Amerikaners is.

Die gemiddelde ou dink aan die Yanks as ’n lawaaierige grootbek-klomp wat te vol is van hulleself! Kyk jy na die statuur en standaard van die wit geboue op ’n streep in Washington DC, besef jy hier is iets meer as ’n ekomiese reus en kragtige nasie.

Amerikaners ag hulle militêre magte en soldate ongelooflik hoog, nie soos hier by ons nie. Dit is vir hulle ’n baie groot eer om Amerika in uniform te dien.

Die ooglopende prag en praal van Washigton – die Arlington Begraafplaas, die Lincoln Memorial, die Capitol-gebou, die Washington Memorial, die Smithsonian-geboue en al die ander geboue – selfs die welbekende Withuis – weerspieël ’n graad van nasietrots en liefde vir hulle vlag waarvan ons maar net kan droom.