Deur ’n skoon bril: Juffrou Van Vuuren en die gorilla

Deur Gielie Goedvoel

Ek wonder soms of mens van nature positief of negatief is en of jy vir die een of die ander kan besluit. Soos Gawie wat jare gelede vir ’n vriend vertel het van hulle eersteling wat gebore is. Toe die vriend vir Gawie vra of hy opgewonde is, antwoord Gawie: “Ja, ek was, maar toe ry ek by die army-kamp verby en besef oor 18 jaar gaan ek daar moet sit en wag dat my seun ’n naweekpas kry”.

Nou- ja, vir ouens soos Gawie het ek maar min hoop op ’n positiewe lewensuitkyk in vandag se Suid-Afrika. Vir hom sal dit ’n totale ommekeer in sy hele siening oor alles neem, maar dit is seker nie onmoontlik nie.

Vriend Gert wat in Bloemfontein woon sê laasweek vir my hy weet nie hoekom die mense in Bloemfontein so tekere gaan oor slaggate nie, want hy sien hulle glad nie raak nie. Hy is te besig om heel gedeeltes te soek waarop hy kan ry.

’n Bekende skrywer het eenkeer in die moeilikheid gekom toe sy in ’n rubriek iets oor gemoedstoestand geskryf het en gesê het mens moet jou met goeie goed besig hou dan ly jy nie aan gemoedsbekakking soos Oom Poem voorlaasweek die toestand genoem het nie. Ek stem nogal saam. Om positief te wees en die silwer randjies raak te sien is nie sommer ’n outomatiese ding nie.

Nee, dis soos om jou kar blink te poets en jou tuin onkruidloos te hou. Dis blerrie harde werk, maar as jy dit eers reggekry het en dit raak deel van jou daaglikse roetine, word dit makliker.

Dit is ’n feit dat ons meestal net sien wat ons wil sien. My Standard 2 juffrou het ’n fiksasie op vuil kolle gehad. Dit is onmoontlik vir ’n Standard 2 seun om na pouse in die klas te kom en ’n maagdelike wit bladsy oop te slaan sonder om ’n vuil vingerafdruk te laat. Juffrou van Vuuren het elke periode na pouse deur ons boeke geblaai en rekord gehou van hoeveel vuil kolle elkeen deur die week vermag het.

Sy het nie ’n saak gehad met al die ander onbesmette bladsye, die mooi sag-op-en-hard-af-skoonskrif of korrekte somme nie – sy het net vuil kolle raakgesien en met driedubbele rooi strepe omkring. Ek dink my rekord was 16, maar dit was ’n besonderse rowwe week met albasterkampioenskappe elke pouse.

Wat ek in Standard 2 by Juffrou van Vuuren gesien het, is ’n klompie jare gelede by Harvard-universiteit bewys.

Mense sien net dit waarop hulle fokus en kan so ’n lewensgrootte gorilla heeltemal miskyk. As ’n eksperiment het die Universiteit ’n klomp slim mense (daar is mos nie dommes op varsity nie …) in ’n ouditorium laat sit. Op die verhoog was ses mense. Drie in swart klere en drie in wit klere. Hulle het ’n basketbal gehad wat hulle vir mekaar gegooi het.

Die opdrag aan die slim gehoor was om noukeurig te tel hoeveel keer die mense in wit aan die bal raak en na die oefening sal daar gekyk word wie kon korrek telling hou.

Terwyl die spelers die bal rondslinger, stap ’n man in ’n gorillapak tussen die spelers deur, gaan staan in die middel van die verhoog en slaan met sy vuiste op sy bors voordat hy aan die anderkant afstap.

Na die oefening moes die mense nie sê hoeveel keer die bal geraak is nie, maar hulle is gevra wat die gorilla op die verhoog gedoen het.

Meer as helfte van hulle het die gorilla glad nie gesien nie en gestry dat daar ooit een was.
Toe ’n video van die oefening na die vraery vir hulle gewys is, het almal die gorilla gesien.

Elke keer as ek wonder hoe mense dit regkry om net die negatiewe en slegte goed raak te sien, dink ek aan Juffrou van Vuuren en aan die gorilla net om te onthou dat ons sien wat ons wil sien.

Die wêreld is vol slim mense en een van hulle het gesê ons sien nie die wêreld soos dit is nie, ons sien die wêreld soos ons is. (Deur Gielie Goedvoel)