Johan Strasheim
Hulle sê dit is maar taai om ’n boer te wees. Hoe sleg kan dit nou wees?
Die grootste probleem is die oneindige web van sogenaamde “red tape” wat interaksie met die regering op alle vlakke in die proses inbring.
Daar is die mense van Mannekrag wat nou en dan jou kom inspekteer (pla); daar is die ontvanger van inkomste wat moet sorg dat die reuse sirkus wat ons die regering noem befonds word; BTW en dieselrabatte word gefynkam en met ’n vergrootglas ondersoek en selfs soms baie laat betaal; daar is die
Ongevallekommissaris met sy fakture en stories; daar is die werkloosheidsversekeringsfonds met sy eise; daar is die plaaslike regering met sy eiendomsbelasting – die Vader alleen weet waarvoor.
Moenie vergeet van die departement van water en sanitasie nie; dis ’n deurmekaarspul van formaat en die naaste ding aan ’n “black hole” wat jy op aarde kan kry.
Dan is daar die Departement van Omgewingsake, wat op papier al die regte geluide maak, maar in sekere opsigte werklik in ’n onwillige monster ontaard het.
Die volstruisboere is verder oorgelaat aan ’n magdom ander departemente wat besluite neem (of nie neem nie) wat die hele bedryf kan lamlê.
Die kersie op die koek is die SAPD… Gelukkig in ons omgewing kom ons goed met mekaar oor die weg en van die manne probeer hard. Maar, o wee, die vuurwapenregister en alles wat daarmee saamgaan, is ’n prosedurale koekstruif wat herinner aan kermispoeding wat op die grond geval het.
Dan is daar die morsige inmenging van politici met populistiese, ondeurdenkte en onwerkbare planne soos byvoorbeeld onteiening van grond sonder vergoeding – asof daar nie genoeg onsekerhede in die landbou is nie.
Die lys van al die ander pynlike entiteite waarmee jy as landbouer te doene kry, is te lank om almal hier te noem.
En, natuurlik, al die voorafgenoemde interaksies is nie jou keuse nie, maar vereis nogtans pakke papierwerk, vorms, opgawes wat ingestuur moet word aan bestemmings waar jy sonder twyfel weet die vermoë ernstig onder verdenking – of selfs afwesig – is.
Sodra ek hoor die regering sê hulle is daar om jou te help, kyk ek maar of dit die eerste April is!
Dan is daar die droogtes.
Sonder water kan jy al die planne in die wêreld hê, maar helaas. Dit maak dinge moeilik, want vir boere wat bo-op die grond boer – soos met vee, volstruise en wild – raak die voerproduksie ’n probleem. Die manne wat onder die grond boer – voerprodusente en veral saadboere – kry net een keer ’n jaar kans om die produksiesiklus te begin. Mis jy hom, moet jy ’n hele jaar uitsit om weer te probeer.
As boer moet jy maar ’n baie unieke en steil risikoprofiel kan handhaaf! Jy moet inherent ’n optimis wees of jy sal dit nooit kan volhou nie.
Daar is maar tawwe tye so nou en dan, soos in alles in die lewe seker maar.
Ander kere is dit hemels.
Daar is min goed so vervullend soos om op ’n plaas te lewe. Om te sien hoe jou lammers gebore word, hoe die saadoeste op die lande groei en ontwikkel, afgehaal word en uitendelik met groot afwagting in groot sakke weggery word.
Hoe die seisoene die veld verander en hoe die eerste reën van die seisoen alles in ’n lushof omskep. Die wit sneeukombers op die Swartberge wat die belofte van volgehoue water vir die komende lente en somer inhou. Selfs die mense se gemoedere. Die sonsopkomste. Die sonsondergange. Die permanente en dawerende voëlgesang. Die hoenderhaan wat die belofte van ’n nuwe dag luidkeels verkondig.
Die plesier van kyk na ’n nuutge-spande heining wat regop en blink in die oggendson pronk, die terapeutiese klits-klits van ’n horde klapspuite wat lewegewende water op die gewasse gooi. Die gemeenskaplike humor wat jy met jou werksmense deel en die plesier om te sien dat jy ’n reuse verskil op jou beskeie manier maak aan baie mense se lewens. Spasie en ruimte op die plaas is die ander ding.
Ek het ’n vriend wat juis sê mens meet jou rykdom aan die hoeveelheid persoonlike spasie wat jy het!
Dit is menige man se droom en ek lewe dit. Maar, jy moet altyd onthou dat ’n boerdery ’n besigheid is.
Van geloof, hoop en liefde is “cash flow” dus loshande die belangrikste!