Trotse Struisie
Ek het al vir ’n geruime tyd iets op die hart en ek het gevoel vandag is dit tyd om dit te sê omdat my hart vandag weer eens van trots straal om ’n oud-Struisie te wees.
Alhoewel dit nou al alombekend is dat Hoërskool Oudtshoorn die minderheid wedstryde Saterdag gewen het, is dit vir my amazing om vandag vir die soveelste keer te hoor in watter gees die spanne die verloor gevat het.
Die afgelope week het talle Struisies dmv WhatsApp en Instagram hulle lojaliteit en trots vir Hoërskool Oudtshoorn verkondig en dit alles terwyl die skool uitmekaar geskeur word deur toeskouers van buite.
Ek sê nie dat enige iets wat gebeur het, ongesiens verby moet gaan nie. Wat ek bloot wil sê, is dat dit weer eens bewys het dat die leerders van Hoërskool Oudtshoorn nie gaan lê nie – dat hulle nie gaan toelaat dat die opinie van buitestanders hulle onderkry of beïnvloed nie. En is dit nie immers waaroor skool moet gaan nie?
Ek is trots om te kan sê dat ek in ’n skool was waar ek geleer het om steeds met my hele hart vir die eerste rugbyspan te skree, al het al die spanne voor hulle verloor. Ek is trots om te kan sê dat ek in ’n skool was waar ek geleer het om te kan inhaak en te sing saam met wie ook al langs my staan – of dit ’n meisie of ’n seun is en of dit ’n graad aggie of ’n matriek is – want ons vriende is nie beperk tot een geslag of een graadgroep nie. En dit is definitief nie beperk tot een velkleur nie. Ek is trots om te kan sê dat ek in ’n skool was waar die kultuuruitblinkers net soveel erkenning as die sportuitblinkers kry en waar ons jubel en juig oor ons hoeveelheid A-kandidate ten spyte van ons hoeveelheid druipelinge.
Ek is trots om te kan sê dat ek in ’n skool was waar ons geleer het om nie bang te wees om te verloor nie, nie bang te wees om Engels te praat nie, nie bang te wees om vrae te vrae, foute te maak óf om te presteer nie. En ook nie bang was om ons sê te sê wanneer ons gevoel het dit is nodig nie.
En dít is wat my so trots op Hoërskool Oudtshoorn maak. En moet my nie verkeerd verstaan nie: Die tyd gaan beslis weer kom waar daar talle Struisies dmv WhatsApp en Instagram hulle lojaliteit en trots vir Hoërskool Oudtshoorn verkondig omdat Struisies wéér eens presteer het, waar daar vir die eerste rugbyspan geskree word omdat al die spanne voor hulle gewen het, waar daar nie ’n einde is aan die kultuur- en sportuitblinkers nie en waar ons weer gaan jubel en juig agv ons hoeveelheid A-kandidate én ons hoeveelheid druipelinge.
Maar vir nou leer ons eers al die lesse wat eintlik belangrik is vir die lewe daarbuite, want is dit nie immers waaroor skool moet gaan nie? Dis net ’n kwessie van tyd. Forever #proudlyStruisie.
-Julia de Beer, Potchefstroom
Dienslewering
Daar is die laaste tyd baie gekla oor gebrekkige dienslewering. Asook raadslede wat hul plig versuim of nie hul samewerking wil gee nie. Die dorp is slordig, strate is vuil, sypaadjies en waterslote is toegegroei en met rommel bestrooi.
Op De Rust lyk dit dieselfde. Sekere dienste het heeltemal platgeval. Om te kla help nie veel nie.
Raadslede het jy nog laas teen die lamppale gesien en sommige daarna nie weer nie. Hierdie mense verdien groot salarisse en voordele. Ons word tot oor die ore belas om te help betaal aan daardie salarisse. Hulle verteenwoordig jou as kieser en moet na jou klagtes luister en aandag gee, dis waarvoor hulle betaal word.
Politieke partye sal ernstig moet kyk na die bekwaamheid en kundigheid van hul kandidate, ’n eienskap wat baie keer ontbreek. Stemdag is om die draai. ’n Kandidaat wat nie kan presteer nie, kan sy party benadeel. Die belastingbetaler verdien baie beter as wat tans die geval is.
– Albert Schoeman, De Rust
Verkiesing – fokus op rede
Die nasionale verkiesing is op hande en die politici maak weer eens, soos in die verlede, staat op die lojale ondersteuning van kiesers wat histories en ideologies aan ’n bepaalde politieke party verbind is.
Miskien moet ons net weer ’n oomblik rustig word en indringend op rede fokus, eerder as om passievol op die verbintenis met ’n politieke party te konsentreer.
Ondersoek die meriete en die detail van jou politieke party, eerder as om jou verbintenis met die party voorop te stel. Loods ’n persoonlike ondersoek en stel vas wat is die redes vir jou verbintenis met die party. Kom tot ’n gevolgtrekking op grond van feite, en nie op grond van assosiasie en emosionele verbintenis nie. Ons as kiesers moet in staat wees om die spanning tussen rede en passie effektief te bestuur.
Thomas Jefferson het in 1798 geskryf: “One of these (reason or passion) for most part, must prevail over the other, for a longer or shorter period of time.”
Kiesers moet nie opgeneem en gedomineer word deur die filosofie, die denke en die maatstawwe van die party nie. Sulke onderwerping en verslawing is die doodskoot vir vrye en onafhanklike denke van die indiwidu, binne die party. Denkende wesens handhaaf altyd verskillende, kontrasterende en komplekse opinies oor bepaalde kwessies, veral as hulle geoorloof is om vry te dink en te praat.
In ’n gepolariseerde samelewing is die rede van deurslaggewende belang. Daar is egter nie waarborge dat feite oor oortuigings kan triomfeer nie. Binne die groepdenke-konteks is dit moeilik om van opinie te verander, omdat groepdenke intimideer, en in baie opsigte, rigied en hierargies is.
Sir Michael Howard het gesê: “Reason is not a thing, or a person, or a god. It is an activity and an individual one. It is thinking and judging. It can only be done by people, free to think, to read, and inform themselves, and to debate the issues before they decide, and ha-ving decided, being free to change.”
Dit is die verantwoordelikheid van elke kieser om eers te dink en na te dink voordat daar ’n besluit geneem word.
Vir die komende verkiesing is die benadering en werkswyse miskien vir ons van kardinale belang. Assesseer al die toepaslike inligting en neem dan ’n ingeligte besluit.
Die werkswyse van politieke partye ten opsigte van die werwing van stemme is nie in die beste belang van die kiesers nie. Die politieke partye moet tydens werwing openbare vergaderings hou, waar die potensiële kandidaat aan streng ondervraging onderwerp word. Sodoende sal die kapasiteit van die kandidaat, vir die openbare pos, getoets word.
Dit sal verseker dat oorywerige politieke mededingers, deur so ’n proses gekeur word.
Indien kiesers nie hulle stemme op ’n verantwoordelike en nadenkende wyse uitbring nie, is hy/sy besig om die algehele vooruitgang van sy/haar land te ondermyn, en om die mense van die land in die steek te laat.
Kiesers moet ook in staat wees om moniterings- en kontrole-meganismes in plek te hê, om te verseker dat die kieserspubliek die kandidaat aanspreeklik kan hou, ten opsigte van die uitvoering van sy plig.
– David Piedt, Oudtshoorn
Baie ongelukke
Die hoofnuus wat elke week ons plaaslike koerante se voorblaaie haal, is die baie motor- en ander ongelukke in ons dorp. Dit is verstommend en skrikwekkend dat die raad geen poging aanwend om dit aan te spreek nie.
Die rede hiervoor is die afwesigheid van gekwalifiseerde, vreeslose en toegewyde verkeersmanne wat kan toesien dat verkeersreëls gehoorsaam word en die taxi’s kan vasvat.
Op die oomblik is hier hopeloos te min verkeersmanne en van die dorp se bestes is in ander plekke. Die gebruik van “law enforcement”-amptenare om die verkeersmanne se werk te doen, is onaanvaarbaar en dra by tot hierdie swak beeld van ongelukke. Dit wat hulle verantwoordelikheid is, naamlik verordeninge, staan stil en kry nie die nodige aandag nie. Kom kyk maar hoe lyk die straat by die Piv op
’n Sondag-oggend vol leë en stukkende bottels, asook ’n klomp vullis.
Stel as ’n dringende aangeleentheid meer verkeersmanne aan met seniors onder hulle wat toesig en evaluering kan doen. Waar ons raadslede vir wie ons gestem het in hierdie krisis is, weet niemand nie.
-Bekommerde inwoner, O’hoorn
Verkeershoof gee terugvoer
Die hoof van Oudtshoorn Verkeer, Pat Jordaan, het as volg gereageer op die skrywe:
Daar word kennis geneem van die bekommernis van die klaer.
Dit is nie waar dat daar niks gedoen word om veiligheid in die dorp aan te spreek nie.
Ons het wel ’n massiewe tekort aan verkeerspersoneel by die Oudtshoorn Munisipaliteit maar hulle is glad nie ongekwalifiseerd nie. Die raad kan slegs soveel verkeersbeamptes aanstel soos wat sy begroting toelaat. Daar is wel poste wat al vir ’n geruime tyd vakant is wat binnekort gevul sal word. Die gekwalifiseerde verkeersbeamptes van Oudtshoorn, wat kwansuis in ander dorpe werk, kan gerus aansoek doen vir die betrekkings sodra dit geadverteer word om hopelik ’n verskil te kan maak
Die munisipaliteit verrig benewens wetstoepassing ook die volgende dienste aan die publiek waar gekwalifiseerde verkeersbeamptes aangewend word:
1. Leerling-en bestuurstoetse.
2.Toetsing van voertuie vir padwaardigheid.
Die publiek verlang hier ook dienslewering.
Wetstoepassingsbeamptes is by magte om sekere magte en pligte van verkeersbeamptes uit te voer en hulle skenk steeds aandag aan die munisipale verordeninge. Dit is dus sinneloos om hulle nie aan te wend waar daar wel ’n tekort bestaan nie. Ons is besig met beplanning in samewerking met die polisie en Provinsiale Verkeer om aksies te beplan teen persone wat die padreëls met minagting verbreek. Al ons motoriste moet selfdissipline aan die dag lê.
Ons gaan nie die tye en datums be-kend maak nie. Dit is ook elke motoris se plig en verantwoordelikheid om al die wette van die land na te kom. Dit wil voorkom of verkeersreëls nie ernstig genoeg geag word deur baie motoriste dwarsdeur die land nie. Ek is vol vertroue dat ons met ons beplande operasies ’n hele paar arrestasies gaan uitvoer en ook op voertuie gaan beslag lê.
Ek vertrou u vind hierdie inligting voldoende en in orde.