Dit is waar ds Heikie Snyman (Bernard Delport, links) se probleme begin het – die dag toe sy ou pel, Papie, (Niekie Eksteen) tequilas begin vra het. Bernard, ’n boer in die De Rust-omgewing, en Niekie, mede-eienaar van The Village Trading Post, ’n restaurant op De Rust, is net twee van verskeie De Rusters wat voor en agter die kameras doenig was vir twee kortrolprente wat Maandagaand op De Rust vertoon word. Foto verskaf
SATERDAG (4 Mei 2019) word ’n stukkie geskiedenis in die De Rust NG Kerksaal gemaak wanneer ’n kortfliek – wat uitsluitlik deur De Rusters gemaak is – vertoon word.
Al die akteurs asook die produksiespan is van De Rust – slegs die regte vir die musiek is van oorsee af, sê Ben Pretorius, regisseur en vervaardiger.
Die fliek – wat by die 50 minute lank is – gaan oor ’n leke-prediker (Bernard Delport) wat van sy gewete en sy gemeente vlug nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ’n kroegman (Henno Paetzold) met ’n baksteen bygedam het.
Hy soek skuiling in ’n afgeleë Karoo-werkershuisie, waar sy lewe verstrengel met die nuwe eienaars – ’n kunstenares (Lanie-Marié Roets) en haar subtiel psigotiese man (Marnus Barnard) wat ’n moord-storie probeer skryf.
“Lemoenbloeisel is ’n drama, maar soms ook vrek snaaks,” sê Ben. “Ek dink mense sal verras wees hoe professioneel die film gemaak is. Van spel tot kinematografie en redigering. Dit lyk beslis nie asof ’n klomp ape ’n Saterdagmiddag besluit het om ’n ‘home-video’ te maak nie. Dit het maande se beplanning en ’n hele paar dae se skiet gekos om die fliek te maak.”
As voorprent word Die Spookhuis vertoon – ’n kortfliek van Daleen Engelbrecht onder mentorskap van die beroemde Koos Roets. Daleen en haar man, Schalk, is van George. Saam met die Klaarstroom Amateur Kinematograwe (Klak) kom hulle gereeld in Klaarstroom byeen en dan word daar ernstig fliek gemaak.
Die Spookhuis, met Oudtshoorniete Alida en Johan Botha en De Rusters Niekie Eksteen en Ben, was een van hierdie produksies.
Die fliek-aand begin om 18:30 en kaartjies kos R60 vir volwassenes en R30 vir kinders. Kry joune by De Rust NG Kerkkantoor, Village Trading Post of by die deur teen R70. Etes is beskikbaar. Bring iets te drinke en kom geniet ’n heerlike fliek-aand in De Rust.