■ Dankie aan Arno Albertyn dat hy op eie ini-siatief die jarelange boskasie op die hoek van Van der Rietstraat en Jan van Riebeeckweg op Oudtshoorn bygedam en gesnoei het! (Foto bo) Dit is al vir jare ‘n verkeershindernis en seeroog in die buurt! Hy het aan inwoners ’n goeie bravo-voorbeeld gestel. – Alet Coetzee
■ Die munisipaliteit adverteer ’n pos vir bestuurder “rental housing” teen ‘n groot salaris sonder ‘n werkomskrywing. Wat moet so ’n persoon doen aangesien die munisipaliteit nie oor huurhuise beskik nie en boonop is daar nie so ’n pos op die organogram nie. Dit is beslis ’n vrugtelose uitgawe. Daar is al so baie gesmeek vir ’n behuisingsplan wat huurhuise en huise vir die middelinkomstegroep moet insluit, maar nie die raad of die Kaapse hoof van behuising steur hulle daaraan nie. Die behuising gaan net oor RDP-huise
■ St. Tropez-huurders is uniek. As hul nie onregmatig vullis uitsit nie, bulder hul hoëtroustelle
■ Wie is die ANC se premierskandidaat in die Wes-Kaap? Dit kan tog nie pres Ramaphosa wees wie se foto op die pale wys nie. Hoe kan hulle verwag mens moet stem vir ’n premier maar hulle is te skaam om sy foto te wys? Kom nou ANC, wys julle muis. – Jannas B
■ Ek verstaan as besighede kameras installeer, maar hoekom by huise in Oudtshoorn installeer? Meeste is op so ’n hoogte dat dit bo-oor die grensmuur kyk. Kameras is deesdae baie gesofistikeerd en die kleur-, nagsig- en zoom-funksies is baie goed. Wees maar versigtig vir loerbroers wat jou privaatheid skend sonder dat jy dit weet.
■ Dit is uiters swak maniere dat onderwysers gedurende klastyd selfoonoproepe ontvang en hulle selfone gedurig hard peep van sms’e en whatsapp’s en dan nog steurend vibreer wanneer op silent.
■ Dis 25.04.2019 tyd 16.04 maar kry nie antwoord by die munisipale noodnommer en kontrolekamer – ek wil persoon raporteer wat helder oordag vir ure openlik staan en tuin natspuit. Dis nou die vierde keer. Die vorige drie keer wat ek wel deurgekom het, was daar geen reaksie nie. (Ek sien in Die Hoorn vandag daar is 17 ongelukke ‘n week in ons dorp en ek hoop die verkeersafdeling het dit ook gelees. Ons betaal mos vir diens.) – Francois du Plessis
■ Trots op die pragtige paaie wat oral in die Wes-Kaap gebou word. Nou wag ons dalk by padblokkades, maar hoe lekker gaan ons nie ry as daardie werk verby is nie.