Beloning vir “eerlikheid” of nie?

Hannes Visser

Ek vermoed die Engels uitdrukking, “catch twenty-two”, beteken min of meer dieselfde as tussen die duiwel en die diep blou see.

Maandag was ek in so ’n situasie. Maandae is sakkrapdag in my woonbuurt en dan gebeur ’n hele klomp goed as ek werk toe gaan. Dis swartsakke uitsit, honde toesluit, motorfiets uittrek, buurman groet en wat nog alles.

Met al die geharwar ry ek kantoor toe en besef ek het my rugsak met my skootrekenaar op die sypaadjie vergeet.

Ek jaag terug, maar nodeloos om te sê is daar geen teken van die rugsak nie. Die volgende twee ure jaag ek in die strate rond en keer elke man en vrou met ’n sak en ’n mank trollie voor. Alles help niks.

Teen tienuur het ek die versekeraar gebel en op elke sosiale groep my beroepe gedoen en ’n beloning aangebied. Teen twaalfuur het ek vrede gemaak dat my rekenaar met omtrent twee jaar se skryf-werk weg is.

Net na twaalf kry ek ’n oproep. Iemand het my rekenaar by Oudtshoorn Courant se kantoor aangebring. Ek jaag soontoe en daar is my skootrekenaar, rekenaarmuis, bril en my sleutels. Al wat weg is, is die rugsak.

Die twee manne wat onder oë van twee polisiemanne sit, verduidelik hulle het die rugsak voor die hek sien staan en die inhoud geneem, maar later besluit om die “eerlike” ding te doen en my goed af te gee waar ek vroeër gewerk het.

Hulle kan nie mooi verduidelik waar die rugsak heen is en wat hulle genoop het om die goed uit te haal en later terug te besorg nie, maar dit is alles detail wat maar kan verbygaan, want ek het my skryfwerk terug.

Nou kom die catch 22 deel. Hier sit die manne wat erken het hulle het my goed geneem, maar ek het gesê daar is ’n beloning. Ek bied iets aan, maar hulle voel hulle sou meer gekry het as hulle die rekenaar by Cash Crusaders verkoop het. Die polisieman verduidelik die gevolg wat dit vir hulle sou inhou en ek verduidelik dat die rekenaar eintlik vrek oud en op sy laaste bene is, maar dat die skryfwerk vir my belangrik is.

Ek bied aan om al my werk af te haal dan kan hulle die rekenaar met liefde kry en gaan probeer verkoop. Na ’n kort rukkie besluit hulle op die beloning alhoewel dit helfte minder is as die R1 000 wat hulle glo hulle sou kry as hulle dit verkoop het.

Aan die twee manne, dankie dat julle my goed teruggebring het en darem iets verdien het. Aan myself – maak back-ups en maak seker jy het jou rugsak op jou rug voor jy ry, want jy is al ’n jaar ouer en dan vergeet mens goed. (HANNES VISSER)