Liefde vir katte ken geen perke

Lee Ann van Sittert en haar liefling hond, Casper. Sy hou een van die baba katjies vas. Foto: Lindi Brill

The Cat Lady, soos Lee Ann van Sittert van The Cat Hotel bekendstaan, is soos die goeie feë vir hawelose katte in die Klein Karoo. Sy versorg daagliks talle katte by haar huis in Hoogstraat.

“Ek het 12 jaar terug besef dat daar ’n groot nood is met hawelose katte. Al die organisasies het net omgegee vir honde,” vertel Lee-Ann.

Aan die begin is die hawelose katte in een van die slaapkamers in haar huis aangehou, maar later met die hulp van ’n ‘dierbare tannie’ wat R2 000 geskenk het, is die kathok agter in hul erf gebou.

Katte van alle ouderdomme word daagliks by haar huis afgelaai, waar sy ’n veilige hawe vir hulle geskep het en versorg tot hulle aangeneem word en liefdevolle huise kry.

“Mense bring gereeld katte hier aan, van baba’s wie se ogies nog nie eers oop is nie tot volwasse katte wat nie kan saamtrek nie, en selfs swanger katte wat dan hier by my kraam,” vertel sy.

Daar bestaan ook ’n wanpersepsie dat Lee Ann finansiële hulp van diereorganisasies ontvang wat haar uitgawes dek, maar meeste van die fondse kom uit haar eie sak.

Daar is goedgesinde weldoeners wat haar van tyd tot tyd help, maar sy sê die uitgawes hou nooit op nie.

Die katte se hokke moet gereeld onderhou word en die grootste uitgawe is katkos en katsand wat maandeliks aangekoop moet word.

Met Die Hoorn se besoek was daar 11 klein katjies van ses weke en ouer sowel as twee volgroeide katte beskikbaar vir aanneming. Daar is ook ’n wyfiekat met vier kleintjies wat ses dae oud is. Hul ogies is nog toe. Hierdie mamma-kat moet op Lee Ann se eie koste gesteriliseer word.

“Ek kry daagliks oproepe van mense wat opsoek is na mediese hulp vir hul katte omdat hulle nie die veeartskostes kan bekostig nie. Dit maak my baie bekommerd,” sê sy.

Sy beplan ’n uitreikaksie na Blomnek in De Rust vroeg in 2025 waar sy soveel as moontlik wyfiekatte wil laat steriliseer.

Lee Ann betuig haar opregte dank aan al haar ondersteuners vir al hul skenkings van verskillende soorte kos en katsand. Sy is op haar gelukkigste wanneer katte aangeneem word en hul eie liefdevolle huise kry.

Enige persone wat finansieel wil bydra tot die sterilisasies van katte of kos, mousse, melk en katsand wil skenk, kan Lee Ann skakel by 083 334 0172.

Skakel haar ook vir aanneming van katte wat in haar sorg is.

The Cat Hotel gaan op 30 November ’n stalletjie by Die Hoorn se Kersmark behartig waar hulle items gaan verkoop om fondse te genereer. Persone kan items soos klere, huisware, tuinware, boeke ens. skenk vir herverkoop.

Daar kan ook donasies en katbenodighede op die dag van die mark vir die organisasie afgegee word. (LINDI BRILL)