Aan my vriende wat in die 50s gebore is

Deur Johan Strasheim

In die middel van die vorige eeu was dinge baie anders. Minder kompleks en vir kinders baie makliker dink ek. Baie van ons ma’s het gerook terwyl hulle swanger was.

Dit was darem nie almal nie. Baie mense het in huise met asbes gewoon, baie dakke was van asbes gemaak en ek onthou die “tydelike” skoolklasse was almal van asbesplate gemaak.

Deesdae frons die ingeligte Google-brigade oor allerlei dinge wat destyds alledaags was – soos aspirien, bloukaas, rou eierprodukte, hope spek en verwerkte vleis, tuna uit ’n blikkie en niemand is vir diabetes of servikale kanker getoets nie.

Na die kommervrye swangerskap is ons bababedjies geverf met pragtige verf wat lood bevat. Daar was nie “kiddie proof” deksels op medisynebottels, deure of kaste nie en wanneer ons met ons fietse gery het, het niemand valhelms of skoene aangehad nie, om nie eens te praat van die risiko’s wat ons gelate aanvaar het om duim te gooi nie. Ons het sonder om twee maal te dink met die bus middestad toe en terug gery om te gaan fliek.

Ons het as kinders in motors gery sonder veiligheidsgordels of lugsakke. Inteendeel – lugsakke het nog nie bestaan nie! Ons het water uit die tuin-slang gedrink en nie uit ’n plastiekbottel nie.

Wegneemkos was beperk tot hamburgers, ’n footlong, vis, viennas/frankfurters/russians en alles natuurlik met aartappelskyfies en later dalk ’n samoosa of ’n vetkoek met maalvleis.

Daar was geen pizzawinkels, McDonalds, KFC, Steers, Nandos of enige van dié eetplekke nie. Die Wimpy het later begin uitslaan en dit was ’n rewolusie.
Meeste winkels het om 18:00 gesluit en nie oor die naweek na Saterdag 13:00 oopgemaak nie. Miskien die Griek op die hoek wat vis of worsies en “chips” kon aanbied. Ten spyte daarvan, is ons op een of ander manier tog nie dood van die honger nie. Dit was heeltemal aanvaarbare praktyk om een koeldrank met vier vriende te deel, uit een bottel en niemand het iets oorgekom daarvan nie.

Ons kon “empties” bymekaarmaak en dit by die kafee inruil en Chappies, Wilson’s Toffees en Wicks kougom koop. Ons het kolwyntjies, witbrood en regte botter geëet en koeldrank met suiker in gedrink, maar ons was nie oorgewig nie want ons het altyd buite gespeel. Ons is in die oggend by die huis uit, soms “strate toe”- soos my ma altyd gesê het – en het heeldag gespeel. Alles was reg solank ons terug was wanneer die straatligte aangaan.

Dit was baie lank voor selfone en niemand kon ons ooit in die hande kry nie – en ons was OK. Ons het ure spandeer om kaskarre te bou en dan teen die bult af te ry, net om uit te vind dat remme baie sou help.

Ons het boomhuise gebou en in rivierbeddings met toltrekkertjies en Dinky Toy karretjies gespeel. Ons het nie Playstations, Nintendo’s en X-box gehad nie, geen videospeletjies nie, geen 99 kanale op DSTV nie – lank geen TV nie – geen videoflieks, geen “surround sound”, geen selfone, geen persoonlike rekenaars, geen internet of internet blogs- en klets-kamers nie. Ons het net pelle gehad en ons het meesal buite gespeel!

Ons het uit bome geval, snye en skrape opgedoen, bene en tande gebreek en daar was geen regsgedinge as gevolg van hierdie ongelukke nie.

Net meisies het gaatjies in hulle ore gehad. Jy kon paaseiers en “Hot Cross Buns” net in Paastyd koop. Ons is vroeg-vroeg geleer hoe om ’n windbuks veilig te hanteer en almal het op ’n stadium ’n kettie gehad. Ons het fiets gery of na ’n vriend se huis gestap en aan die deur geklop of die klokkie gelui, of sommer geroep van die voorhekkie af. Dit was meestal nie nodig dat jou ma hoef te werk nie.

Op skool in rugby en krieket het nie almal die span gehaal nie. Diegene wat uitgeval het, moes maar leer om die teleurstelling te hanteer. Stel jou dit voor! Ons onderwysers het ons summier ’n pakslae gegee as jy nie binne die reëls gebly het nie.

Die idee van ’n ouer wat betrokke raak as jy oortree, was bykans ongehoord. Indien wel, was die moeilikheid gewoonlik erger. Ons ouers het ook nie eksotiese name vir hul kinders uitgedink nie en die ou tradisie van die aangee van familie-name was maar hoe dit gewerk het.

Hierdie generasie het van die beste risiko- nemers, probleemoplossers en uitvinders ooit opgelewer.

Tydens die afgelope 60 jare of so was daar ’n ontploffing van innovasie en nuwe idees. Ons het vryheid, mislukking, sukses en verantwoordelikheid ervaar en ons het geleer hoe om dit alles te bestuur tot voordeel van die samelewing. (JOHAN STRASHEIM)