As ek saamvlieg as passasier

Ons is een Oktober, soos baie kere tevore, Pretoria toe. Alhoewel ons al lank in die Klein Karoo woon, is ons wortels daar bo heel verstaanbaar maar nog diep in die grond. Ons was ’n leeftyd lank in die Jakarandastad.

Die jakarandas is juis so mooi daardie tyd van die jaar ná die baie reën met die strate in Brooklyn naby die Tukkiekampus ’n pers lushof met lanings stokou Jakarandabome langs die strate. Pragtig… en die sterk heimwee van sorg­vrye studentedae kom met ’n glimlag in jou gedagtes op. Jakarandatyd was eksamentyd. Dit raak nou lank gelede.

Die trippie noorde toe was nog altyd absolute roetine – tot die Covid-gogga die wêreld op sy kop gedraai het en sul­ke reise ’n frustrerende gemors geword het met van die reëls wat aan belag­lik­heid grens. As iemand wat self vliegtuie vlieg en al male sonder tal met passasiers saamgevlieg het, is ek seker noodwendig meer bewus – en krities – van al die fases van so ’n besigheid as die “gemiddelde passasier”. Ook meer geïrriteerd. Gelukkig hou Romana my oor die algemeen kalm en uit die moeilikheid uit.

Ons is op pad terug. Na wat voel soos ’n ewigheid, waartydens jy soos ’n ver­dagte, domkop, amperse misdadiger, smok­kelaar en as skaap rondgestuur en bespuit word, is ons op die Boeing 737-800 in ry 32, daar doer agter. Die vlug is vol en die nagenoeg 180 mense sit soos sardiens styf teen mekaar in die klein, regop sitplekkies en luister na die lugwaardin wat almal vertel van die suur­stofmaskers, nooduitgange en al die goed wat ek al tot vervelens gehoor het oor die jare. Ek sit en kyk vir die mense wat hulle bagasie aan boord bring en dan in almal se pad is en die oorhoofse ruimtes met hopeloos te veel goed volstop. Die ergste is wanneer hulle nog laat kom ook en al die oorhoofse pakplek reeds vol is en dan op en af loop en na plek soek wat nie bestaan nie. Ek kyk maar weg en skud net my kop.

Uiteindelik draai ons op die aanloopbaan en die manne voor in die “kantoor” maak die krane oop. Ek is altyd verstom oor die enorme krag wat die enjins lewer. So ’n wyle later lig die neus, en ’n paar sekondes later begin ons onverwags steil al dreunend die hoogtes inklim. Die weer bo OR Tambo Lughawe is maar sleg en dit reën liggies. Maar nie lank nie of ons is omhul in die dimensielose wit wêreld van binne in die wolke vlieg.

Ek ken dit baie goed. Vir ’n wyle ruk en pluk dit sommer lekker en die vliegtuig skud verwoed in die klim. Ons is na ’n rukkie bo die ontstuimige weer uit en rustig op koers George toe op 34 000 voet bo seevlak. Die land is toe onder die wolke terwyl ons sit en wag, almal natuurlik met ons maskertjies aan.

So 20 minute voor die aankomstyd kondig die kaptein aan dat die daling gaan begin, wat die weer op die grond is en so aan. Nie lank nie of jy hoor die enjins minder hard werk terwyl die vliegtuig se neus merkbaar ondertoe begin wys. George is gedeeltelik bewolk, sê hy, en ek het ’n spesifieke verwagte scenario in my kop omdat ek dit self soveel kere tevore ervaar het. Ek verwag ’n rustige daling, sagte draaie en doodstil nadering aanloopbaan toe, soos so baie kere tevore. Toe nie.

Toe ons in die wolke insak, begin die pret en die vliegtuig stamp sommer lek­ker. Die manne voor in die kantoor werk vandag vir hulle geld. Die lug oor die Outeniquaberge is erg onstabiel. Seker die westewinde. Dit pla my nie baie nie, maar ek weet daar is mense wat baie bang word. Uiteindelik is ons op ’n lang eindnadering en ek hoor die onderstel uitkom terwyl dit onophoudelik ruk en pluk en die manne voor veg om die spul stabiel en op koers te hou aanloopbaan toe.

Daar is seker erge winde so ent bo die grond wat dinge so wild maak. Dit gaan maar erg en ek trek my sitplekgordel simbolies so ’n bietjie stywer vas. Jy sien die grond nader kom en ek merk op dat daar rook op die grond is wat mooi reguit boontoe trek en wys dit vir Romana. Dit beteken dat daar nie regtig wind op die grond is nie en ek sê ook vir haar hier kom ’n harde landing – wag maar vir hom.

Hulle ry effens te vinnig om die turbulensie te oorkom. As dit gebeur, betaal jy die prys sodra jy wil land en die vliegtuig dryf te lekker verder met die oorblywende aanloopbaan wat vinnig minder word onderdeur. Dit is gewoonlik maar so ’n meter of so bo die teer tot hy ophou vlieg en die spul sommer lekker hard land en daar verwoed gerem word. Ek is altyd verstom oor hoe geweldig sterk die goed gebou is.

Die senuweeagtige klomp passasiers begin spontaan hande klap. Heel verkeerd, want dit was eintlik ’n swak landing. Hulle is seker bly om te lewe!

Ouens wat vlieg, praat natuurlik van ’n positiewe landing en nie ’n harde landing nie. Dit klink darem baie beter en meer professioneel. Ek verduidelik met ’n glimlag vir Romana wat nou net gebeur het en dat ek in sulke toestande eintlik sou verkies om maar self die stuur vas te hou.

Terug in skaaphanteringsomstandighede…

Ons word aangesê om die vereiste persoonlike afstand te hou soos die Covid-regulasies dit voorskryf. Slegs twee rye op ’n keer mag opstaan en af­klim. Vergeet maar van die feit dat almal sopas twee ure styf teen mekaar gesit het op die vliegtuig.

As jy die logika van alles begin bevraagteken gaan jy mal word.

Nou ja, soos hulle sê: All’s well that ends well…