Afrika – gaan kyk self…

Deur Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim

AFRIKA…die donker kontinent. Vir my, die rokerige kontinent.

Wanneer jy die stowwerige lug en die geur van die eerste somerreën in die droë Bosveld geruik het, vergeet jy dit nie sommer nie en wil jy dit weer en weer hê. Jy raak half onrustig totdat jy weer die maan kan sien ondergaan oor die Bosveld terwyl jak­kalse melankolies tjank in die verte.

Jy wil in die soel donkerte sit en weet jy is nie alleen nie. Jy wil die groot hardekool en maroelabome sien en in hul skaduwee sit.

Wanneer jy verlang na die konin­klike kreet van ’n visarend of jy verlang na die olifante wat onrustig in hulle brommeltaal kommunikeer terwyl die trop stowwerig rondmaal om ’n watergat, dan weet jy Afrika is in jou bloed.

Afrika is in baie dinge. Die uittartende roep van die kwêvoël, die histeriese gekekkel van ’n groep hiënas wat bloed geruik het, die ritmiese runnik van ’n sebratrop en die onmiskenbare dreun van ’n leeumannetjie se brul onder die volmaan wat dit duidelik maak wie die koning van die diere is. Dit is die klanke van die Afrikabos en jy verlang daarna as jy dit nie meer hoor nie.

Hulle sê die Weste het geld, maar Afrika het tyd. Dit is beslis so. Afrika het ook baie ruimte. Jy kan vêr sien, want daar is groot horisonne reg rond-om jou en dit gee jou gees kalmte en jou siel perspektief. Jy kan jou gedagtes vrye teuels gee om te sweef in die toekoms en die verlede.

Dit is maar net beter om iets een maal te sien en te ervaar as om ’n duisend maal daarvan te hoor. Jy ervaar sonsondergange en sien die hand van ons Skepper in aksie en sal jy verstar op ’n ou mopaniestomp kan sit tot die koue van die nag jou terugjaag kampvuur toe.

Jy vergaap jouself aan die elegante en amper respekvolle manier waarop ’n leeuwyfie saam met haar welpies agter ’n ou swart maanhaar aanstap. Waar anders kan jy sien hoe ’n ka­meelperd homself versigtig balanseer soos ’n reuse-driepoot – en dit net om water te kan drink. Nêrens anders is daar voëls met die blouste blou in hul vlerke nie… en dan ook nog met die pragtigste naam – die “troupant”!

Afrika se wildernis kan van totale kalmte na chaos en weer terug gaan in sekondes. Jy sit en kyk na ’n klomp rooibokke wat water drink. Sulke fyn diere. Dit is ongelooflik hoe paraat hulle is wanneer hulle kom water drink.

Daar heers ’n gespanne kalmte. Die volgende oomblik snork ’n ram die alarm en al wat dier is, vlieg weg om voor die trop naderende wildehonde weg te kom. Chaos met bokke wat snork en tjankende opgewonde wildehonde agterna. Jy sien die voorste hond is baie naby en die bokke hardloop besete weg met sulke groot sierlike spronge nou en dan. Hulle verdwyn in die ruigtes in. Hulle sal moet vinnig wees, die honde het baie monde wat moet kos kry. Oomblikke later is dit weer doodstil en al wat oorbly, is die stof wat wys dat iets gebeur het. Nie lank nie en ’n groepie kelkiewyne fladder langs die water neer, salig onbewus van die drama wat so pas hier afgespeel het. So gaan dit… tydloos en elke dag dieselfde.

Die natuur is ook soms maar wreed. As jy baie tyd tussen die diere deurbring, ken jy hulle naderhand – ook die drama wat hulle beleef. Daar is niks mooi daaraan om te sien hoe ’n ou leeuwyfie uitsak en in ’n aasdier ver­ander nie. Haar tande is naderhand afgewerk ná jare se harde werk en sorg vir die werpsels wat jaar ná jaar grootgemaak is. Sy sukkel en word maer. Uitgestoot.

Dan is sy genadiglik een dag net weg. Jy voel goed en sleg op dieselfde tyd. Die wildernis sorg vir sy vernuwing op sy oeroue eie manier, al hou ons nie altyd daarvan om dit te ervaar nie. Dis nou as die mens met al sy selfsugtige gewoontes nie alles ver­- nietig met sy onvolledige inmenging nie.

Hulle sê die wêreld is soos ’n groot boek en as jy nie reis nie, lees jy net een bladsy daarvan. In my boek het Afrika ’n dikker hoofstuk as die ander kontinente.

Iemand het gesê om te reis laat jou dikwels sprakeloos, maar later maak dit van jou ’n storieverteller.

So waar. Reis en ervaar. Gaan kyk self. Dit het ewigheidswaarde en dit laat jou besef hoe nietig en eintlik onbelangrik jy en jou klein ou plekkie in die groot opset is!