Aan die einde van die dag

Deur Tania Smit

kom sit hier by my en vertel my van jou dag
van jou lekker, jou sleg, jou huil, jou planne, jou lag

dan vertel ek jou van daai kerrie wat ek vandag geëet het
en vertel jy my van die boek wat jy nou lees
en vertel ek jou van my nuwe huisengel
en vertel jy my van die trip wat jy beplan

en terwyl die son sak sal ek vir ons ’n kersie aansteek
en my voete opsit terwyl jy langbeen sit
en vir ons daai bottel wyn oopmaak wat ek verlede jaar by die Sederberge gekoop het
ek sal ’n ysie bygooi, en jy sal sê mens drink nie wyn met ys nie
en ons sal stil raak en lekkerkry onder die prieël terwyl die son sak

en jy sal sê ons gaan nou vuurmaak, want ons kan
en ek sal die laaste van die Desember-lam se tjoppies uithaal
en terwyl ek in die kombuis is, sal ek die feetjieliggies onder die wingerd aansit
en die ou straatlig agter in die tuin wat ’n weerkaatsing oor die swembad skyn
en dan die lig buite die waskamer wat ’n magic in die pruimboom in skyn

en ek sal vir ons musiek opsit . . .
Ella Fitzgerald of Leonard Cohen of Neil Diamond of Ray la Montague
of as ek nie wil besluit nie sommer net shuffle
en as die kinders by die huis kom, sal almal vuur toe kom en gelyk begin praat
oor die hokkieoefening
en daai moeilike toets
en hoe dit met die mondeling gegaan het
en hulle nuwe koorlied
en hoeveel huiswerk hulle nog moet doen
en natuurlik hoe honger hulle is

en soms sal sy gou inloer omdat sy met haar hond gaan stap het
of hy wat naby was en gou ’n sak tamaties wil kom afgee
en ek sal vir hulle stoele nadertrek
en nog ’n bottel wyn uithaal
en elkeen sal sy vertel begin leegmaak
en sy lag begin opwen
en sy hart begin volmaak

en ek sal daar sit en soos ’n ryk vrou voel
en dink dis presies hoe elke dag vir my moet eindig
meer real as my werk
of my budget
of my kar se diens
of die raam van my nuwe bril
of my tenniselmboog wat nie wil reg nie

want dis vanself.
en dis maklik.
en dis saam.
en dis goed.

en dis real.