Johan Coetzer: Retrospektiewe uitstalling

Bo: Johan Coetzer by “Vier Seisoene” - ’n Kunswerk in wording vir die KKNK.

90 KUNSWERKE oor 45-jaar van Johan Coetzer word ’n retrospek tydens KKNK 2024 uitgestal.
“Hierdie uitstalling gee vir my perspektief oor my kunsloopbaan toe ek as tudent in 1978 begin het,” sê Coetzer, afgetrede kunsonderwyser aan die Hoërskool Oudtshoorn en mede-eienaar van Bottega Kunsgalery en Ramers.

Hy het sy graad in BA Beeldende Kuns aan die Vrystaatse Universiteit verwerf en behaal daarna ’n HOD en Honneurs in Kunsgeskiedenis.

Sy beroepsloopbaan het begin as kunsonderwyser aan die Hoërskool Brebner in Bloemfontein.

Hy is daarna as lektor aan die Tegniese Kollege in Bloemfontein aangestel, en later as die eerste kurator van die nuutgestigte Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein.

In 1993 verhuis die Coetzer-gesin na Oudts-hoorn, waar hulle Bottega Kunsgalery en Ramers op die been bring.

“My onderwerp vir skilder was nog altyd die landskap van die omgewing waar ek my bevind en ook die kenmerke van seisoene, soos die eerste granate en kwepers in stillewes of donkies en volstruise in die landskap,” vertel Johan passievol.

Hy het ’n wye aanslag in sy werk, wat figure, blomstudies, seeskappe en geboue insluit.

Oor die jare het hy aan verskeie uitstallings deelgeneem, kunsbeoordelings gedoen en sy skilderye is in plaaslike private versamelings en oorsee.

Vir die retrospektiewe uitstalling het hy sy kunswerke oor die land opgespoor en op bruikleen vir die uitstalling bekom.

Daar sal ook ’n versameling kunswerke te koop wees.

Die uitstalling kan daagliks tydens die KKNK van 09:00 tot 18:00 by Bottega, Oranjestraat 46, besigtig word.

Hy nooi almal vriendelik uit om na die uitstalling te kom kyk en saam met hom die groot mylpaal te vier.

Vir enige navrae kontak Johan by 082 477 1563.